Finding Optel – Optel mag dalk weg wees, maar die humor is beslis nie!
			Resensie
Finding Optel is die eerste rolprent onder die regie van broer-en-suster-duo Jesse Brown en Michaela Joy Brown. Michaela het ook die draaiboek geskryf asook die hoofrol vertolk. Die film het met groot lof by die 2025 kykNET Silwerskermfees gedebuteer, en dis maklik om te sien hoekom dit soveel aandag getrek het.
Die storie volg 16-jarige Claire Abrahams, ’n amateur-speurder met ’n ingewikkelde familiegeskiedenis en ’n sagte hart. Wanneer die buurt se rondloperhond, Optel, spoorloos verdwyn, gooi Claire haar hele hart en siel in die saak – ten spyte van haar pa se sterk besware en haar eie gemengde gevoelens oor die hond. Vir Claire is die soeke na verlore dinge meer as net ’n stokperdjie; dis ’n manier om sin te maak van haar eie eensaamheid en ʼn reis om genesing te vind. Haar soektog na Optel bring haar uiteindelik nader aan gemoedsrus oor dít die waarmee sy al lank worstel.
			Die rolprent self is lig met ʼn ryk skakering van komiese oomblikke om die kyker te vermaak. Die storie struktuur is eenvoudig, maar word met opregte emosie en natuurlike dialoog in die draaiboek vertel. Die hoofkarakter, Claire (vertolk deur Brown) kruip onmiddelik in die kyker se hart in. ʼn Mens kan met haar vereenselwig, veral weens haar aandagafleibaarheid en haar humoristiese kwinkslae. Die ywerigheid waarmee sy mense se verlore besittings opspoor wys die diep empatie en respek wat sy vir haar gemeenskap het. Die karakters voel eg en driedimensioneel, vertolk deur ’n talentvolle rolverdeling wat onder andere Oscar Petersen, Zenobia Kloppers, Rodney Goliath, Sherman Pharo, Maurice Carpede en Omar Adams insluit. Elke karakter dra iets besonderstot die speelse, kleurvolle wêreld wat die filmmakers geskep het by.
Visueel is Finding Optel soos ’n feesmaal. Tiffany Matthews se produksie-ontwerp is dinamies, kleurvol en stylvol afgerond, terwyl Ayesha Khatieb se kostuumontwerp die karakters pragtig aanvul. Paul Guyeu se kinematografie is uitmuntend – met speelse kamerabewegings wat die fliek se humor en temas mooi balanseer. Madelé Vermaak se redigering gee gestalte aan ʼn energieke tempo en sorg dat selfs die rustiger tonele nooit vervelig raak nie. Die klankontwerp is subtiel, dog uiters effektief – iets wat nie maklik is in die komedie-genre nie – terwyl die musiek, al is dit gepas en aansteeklik, soms effens oorbodig voel.
Die stemopname, oftwel die ‘voice-over’ is die één element wat fliek die belemmer. Die vertelling voel effens vlak en emosioneel afgestomp. Dit skep ’n bietjie afstand tussen die kykers en die storie skep – waar dit eerder hulle moes intrek.
Nietemin is Finding Optel ’n vars briesie in die Suid-Afrikaanse filmlandskap. Dit bied ’n nuwe, verfrissende blik op die lewens van bruin Suid-Afrikaners – vêr verwyderd van die bekende Kaapse Vlakte-bendeverhale wat ons meestal op skerm sien. Dis die ideale voel-goed ontsnapping uit die alledaagse.
Finding Optel is vanaf 24 Oktober 2025 op die stroomdiens Showmax beskikbaar.
Meer Inligting
Speeltyd
80 min
Skrywer en Regisseur
Mikayla Brown | Jesse Brown, Mikayla Brown
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
10-12 PG V
Rolverdeling
Mikayla Brown, Oscar Petersen, Zenobia Kloppers, Rodney Goliath, Maurice Carpede, Omar Adams
Sterre
4/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Chanté Gorlt
Chanté Gorlt is ’n deeltydse dosent aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, waar sy spesialiseer in tegniese en kreatiewe dissiplines. Met ’n diep passie vir klank en musiek integreer sy haar entoesiasme in haar onderrig en inspireer sy studente om die dinamiese kruispunt van tegnologie en kreatiwiteit te verken. Haar rol weerspieël ’n toewyding aan die bevordering van innovasie en artistieke uitdrukking binne die akademiese gemeenskap.
Verdere Resensies
Bloedhond – Heerlike bangmaak-vermaak vir Halloween-maand
Bloedhond is ’n bloederige, spanningsvolle Afrikaanse gruwelfliek vol koue rillings, donker humor en onverwagse wendings – perfek vir Halloween, met sterk spel deur Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz en Kevin Peyper, en beskikbaar op eVOD.
Hen – Rasend honger en stilweg boos.
Hen is ’n senutergende Afrikaanse riller deur Nico Scheepers met Stian Bam, Amalia Uys en Dawian van der Westhuizen. Op ’n afgeleë plaas in die laat 19de eeu ontvou ’n donker en bonatuurlike verhaal van geloof, vrees en vervloeking. Met skitterende spel en intense atmosfeer herinner Hen aan The Omen en Rosemary’s Baby – ’n film wat lank ná die laaste toneel bly spook.
Carissa: Een legkaartstukkie van háár lewe
Carissa (2025), ’n stadige maar visueel pragtige rolprent oor plattelandse lewe, familie, eenvoud en die ritme van menswees.
			Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging
					


