Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos
Resensie
Die rolprent se gelyknamige hoofkarakter, Jessica Brok, was voorheen deel van ’n elite, geheime militêre eenheid wat hoë-risiko onttrekkings- en neutraliseringsmissies in Afrika uitgevoer het. Maar, na haar laaste sending in Angola ’n paar jaar gelede skeefgeloop het, en almal in haar span blykbaar van kant gemaak is, het sy daardie lewe opgegee. Sy het haar naam verander en na die Suid-Afrikaanse bosveld verhuis. Volgens haar is haar dae as soldaat heeltemal verby – of so het sy gedink. Ongelukkig is haar verlede soos ʼn veedief in die Karoo – dit kom altyd terug om by jou te spook. Haar vyand, die sadistiese Lazar Ipacs, briljant gespeel deur Richard Lukunku koester na ongeveer tien jaar steeds ʼn wrok teen haar en soek nou vergelding.
Dit gee Jessica (fantasties gespeel deur Danica Jones) onwillig, maar desperaat, ʼn rede om haar vaardighede as ’n hedendaagse GI Jane, gekombineer met Rambo, ten toon te stel. Dink aan Marvel se Black Widow, Angelina Jolie se vertolking van Evelen Salt, asook Jolie se karakter in Mr, & Mrs. Smith. Brok se hande staan vir niks verkeerd nie. En daar is klaarblyklik ook niks wat sy nié kan doen nie. Voertuie word uitmekaar geskiet, koppe waai letterlik, en die kyker word nie ’n sekonde gegun om net jou gedagtes agter mekaar te kry nie. Dis “all systems go” – in elke skoot van die film. En ek bedoel die dubbele woordspeling in daardie sin.
Aan die begin van die film is Danica Jones se vertolking nie vir my van die beste nie, maar sy vind uiteindelik haar voete en lewer dan geloofwaardige spel vir die res van die rolprent. Richard Lukunku en Hlubi Mboya (wat die rol van Lazar se meisie Sherri vertolk) is twee akteurs wie se spel my werklik beïndruk het. Albei was perfek vir hul rolle en dra beslis die fliek se storielyn.
Hunting Jessica Brok is stukke beter as vele Hollywood produksies van dieselfde aard – veral as jy van Bruce Willis se laaste rolprente gesien het wat werklik as gemorskos beskou kan word. Daarenteen bevat regisseur Alistair Orr se fliek aksiebelaaide elemente wat van die begin tot die einde wérk – van ontploffings tot ont-“koppings”. Dis 110% ’n skop, skiet en donder-storie met meer bloed en byt as wat ek in ’n lang ruk aanskou het. Die geweld kan party kykers dalk afskrik, maar dit is nie meer as waaraan ons in ʼn hedendaagse Hollywood aksierolprent gewoond is nie. Die kamerawerk, redigering en stemmingsmusiek was uitstekend, terwyl die visuele (VFX), spesiale effekte (SFX) kunstenaars, gevegschoreograwe sowel as waaghalskoördineerders ’n spesiale applous verdien. Hulle gee hulle Hollywood eweknieë sterk kompetisie.
Wat my effe gepla het terwyl ek die fliek gekyk het was van die karakters se vreemde aksente. Ek vermoed dit was veronderstel om Oos-Europees te klink, maar dit was glad nie geloofwaardig nie. Daarmee saam het die karakter van Daniel Connor (gespeel deur Clyde Berning) meer lewens as ’n kat gehad – dít was ietwat vergesog en het my elke slag laat wonder of hierdie ’n aksie of gruwelfliek was (maar tog gepas vir Halloween, toe ek dit gekyk het).
Volgens Orr, is die vrae wat hy as regisseur in die fliek aan jou stel: “Kan ’n mens wegvlug van wie jy was?” en “Wat gebeur wanneer die wêreld jou dwing om ʼn donkerder weergawe van jouself te word?”Aan die einde van die dag is dit eintlik ’n universele vraag: As dit kom by ʼn lewensgevaarlike situasie, wat sal jy doen om jouself en jou geliefdes te beskerm? Kyk Hunting Jessica Brok en jy sal moontlik die antwoord vind.
Meer Inligting
Speeltyd
128 min
Skrywer en Regisseur
Garth McCarthy, David. D Jones, Alastair Orr | Alastair Orr
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
16
Rolverdeling
Danica Jones, Clyde Berning, Richard Lukunku
Sterre
4/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout
Verdere Resensies
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
“The Trek” resensie: ‘n Karoo-western oor die Uys-gesin se wraaksugtige reis. Meekaaeel Adam se debuut.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



