Finding Optel – Optel mag dalk weg wees, maar die humor is beslis nie!
Resensie
Finding Optel is die eerste rolprent onder die regie van broer-en-suster-duo Jesse Brown en Michaela Joy Brown. Michaela het ook die draaiboek geskryf asook die hoofrol vertolk. Die film het met groot lof by die 2025 kykNET Silwerskermfees gedebuteer, en dis maklik om te sien hoekom dit soveel aandag getrek het.
Die storie volg 16-jarige Claire Abrahams, ’n amateur-speurder met ’n ingewikkelde familiegeskiedenis en ’n sagte hart. Wanneer die buurt se rondloperhond, Optel, spoorloos verdwyn, gooi Claire haar hele hart en siel in die saak – ten spyte van haar pa se sterk besware en haar eie gemengde gevoelens oor die hond. Vir Claire is die soeke na verlore dinge meer as net ’n stokperdjie; dis ’n manier om sin te maak van haar eie eensaamheid en ʼn reis om genesing te vind. Haar soektog na Optel bring haar uiteindelik nader aan gemoedsrus oor dít die waarmee sy al lank worstel.
Die rolprent self is lig met ʼn ryk skakering van komiese oomblikke om die kyker te vermaak. Die storie struktuur is eenvoudig, maar word met opregte emosie en natuurlike dialoog in die draaiboek vertel. Die hoofkarakter, Claire (vertolk deur Brown) kruip onmiddelik in die kyker se hart in. ʼn Mens kan met haar vereenselwig, veral weens haar aandagafleibaarheid en haar humoristiese kwinkslae. Die ywerigheid waarmee sy mense se verlore besittings opspoor wys die diep empatie en respek wat sy vir haar gemeenskap het. Die karakters voel eg en driedimensioneel, vertolk deur ’n talentvolle rolverdeling wat onder andere Oscar Petersen, Zenobia Kloppers, Rodney Goliath, Sherman Pharo, Maurice Carpede en Omar Adams insluit. Elke karakter dra iets besonderstot die speelse, kleurvolle wêreld wat die filmmakers geskep het by.
Visueel is Finding Optel soos ’n feesmaal. Tiffany Matthews se produksie-ontwerp is dinamies, kleurvol en stylvol afgerond, terwyl Ayesha Khatieb se kostuumontwerp die karakters pragtig aanvul. Paul Guyeu se kinematografie is uitmuntend – met speelse kamerabewegings wat die fliek se humor en temas mooi balanseer. Madelé Vermaak se redigering gee gestalte aan ʼn energieke tempo en sorg dat selfs die rustiger tonele nooit vervelig raak nie. Die klankontwerp is subtiel, dog uiters effektief – iets wat nie maklik is in die komedie-genre nie – terwyl die musiek, al is dit gepas en aansteeklik, soms effens oorbodig voel.
Die stemopname, oftwel die ‘voice-over’ is die één element wat fliek die belemmer. Die vertelling voel effens vlak en emosioneel afgestomp. Dit skep ’n bietjie afstand tussen die kykers en die storie skep – waar dit eerder hulle moes intrek.
Nietemin is Finding Optel ’n vars briesie in die Suid-Afrikaanse filmlandskap. Dit bied ’n nuwe, verfrissende blik op die lewens van bruin Suid-Afrikaners – vêr verwyderd van die bekende Kaapse Vlakte-bendeverhale wat ons meestal op skerm sien. Dis die ideale voel-goed ontsnapping uit die alledaagse.
Finding Optel is vanaf 24 Oktober 2025 op die stroomdiens Showmax beskikbaar.
Meer Inligting
Speeltyd
80 min
Skrywer en Regisseur
Mikayla Brown | Jesse Brown, Mikayla Brown
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
10-12 PG V
Rolverdeling
Mikayla Brown, Oscar Petersen, Zenobia Kloppers, Rodney Goliath, Maurice Carpede, Omar Adams
Sterre
4/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Chanté Gorlt
Chanté Gorlt is ’n deeltydse dosent aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, waar sy spesialiseer in tegniese en kreatiewe dissiplines. Met ’n diep passie vir klank en musiek integreer sy haar entoesiasme in haar onderrig en inspireer sy studente om die dinamiese kruispunt van tegnologie en kreatiwiteit te verken. Haar rol weerspieël ’n toewyding aan die bevordering van innovasie en artistieke uitdrukking binne die akademiese gemeenskap.
Verdere Resensies
Liewe‘Sus Dolly’: ʼn Hedendaagseblik op ʼn immergroenikoon
“Dear Sis Dolly”-resensie: ‘n Hedendaagse fliek oor Drum-tydskrif se ikoniese raadgeefrubriek. Lees Anna-Marie Jansen van Vuuren se blik op hierdie Suid-Afrikaanse rolprent.
Bruid van die Jaar – Wanneer die bruid die kompetisie verloor, maar haar hart wen
Bruid van die Jaar is ligte, warm romantiese komedie-vermaak. Carine Rous skitter as Lienkie in dié vrolike liefdestorie vol snaakse wendinge. Nou in teaters.
Variasies op ʼn tema: Visuale poësie van die plattelandse landskap en sy mense
Lees die resensie van Variasies op ʼn Tema – ʼn bekroonde Suid-Afrikaanse rolprent oor erfenis en die Namakwalandse platteland.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



