This Is How the World Ends – Fiksie of voorteken?
Resensie
Teen die post-apokaliptiese agtergrond van ’n wêreld wat al hoe nader aan totale ineenstorting beweeg, volg This Is How the World Ends vir Tom (baie goed en oortuigend gespeel deur Josh Kempen), ’n jong man wat die woestyn aandurf. Hy is op soek na sy suster, Dani (net so oortuigend vertolk deur Frances Sholto-Douglas), wat verdwyn het en oppad is na wat heel moontlik die laaste groot partytjie op aarde kan wees. Met die mensdom se toekoms toenemend onseker, en die bedreiging van kunsmatige intelligensie voortdurend in die agtergrond, gebruik skrywer-regisseur Robert dos Santos hierdie oënskynlik eenvoudige reis om temas soos menslike verbondenheid en isolasie te ondersoek. Hy vra aan die kyker wat dit beteken om steeds mens te wees wanneer die wêreld om jou letterlik uitmekaar begin val.
This Is How the World Ends is Dos Santos se speelfilm-regisseursdebuut, en ’n fliek wat gesamentlik deur rolspelers uit Suid-Afrika en die VSA gemaak is. Dit speel in Suid-Afrika en grootliks in Kaapstad af, buiten vir die tonele wat tydens die werklike AfrikaBurn-fees in die Tankwa-Karoo verfilm is.
Die kamerawerk is puik en sommige tonele herinner aan ’n musiekvideo, terwyl baie dele voel asof dit uit ’n Mad Max-film kon wees – hoewel die landskap hier geensins kunsmatig geskep is soos die onlangse flieks in daardie franchise nie. Sean Cameron Michael se vertolking van die karakter Rick “The Broadcaster” Douglas laat ’n mens weer onwillekeurig dink aan Woody Harrelson se eksentrieke Charlie Frost in 2012 (2009) – die alleenloper wat vanuit sy afgeleë basis die naderende einde van die wêreld uitsaai terwyl die res van die mensdom steeds probeer sin maak van wat rondom hulle gebeur. Die musiek dra mooi by tot die geheel van die fliek juis deurdat dit nie uitstaan nie, maar eerder met die meestal dorre landskap saamsmelt.
Verskeie wêreldaksente kan gehoor word, wat sin maak in die storielyn aangesien mense van heinde en ver na die suidelike punt van Afrika gekom het (nadat plekke soos Europa reeds verwoes is). Wat my wel gepla het, was dat Tom en Dani se pa (gespeel deur Peter Butler) se aksent so van hulle s’n verskil. Ek kon dit eintlik glad nie plaas nie, terwyl Tom en Dani se aksente baie Amerikaans geklink het, wat ook nie regtig sin maak as hulle veronderstel is om Suid-Afrikaners te wees nie. Maar dalk is hulle nie?
Die rolprent se boodskap strek boonop verder as dit wat op die skerm gebeur. The Guardian beskryf This Is How the World Ends as die eerste rolprent in sowat 20 jaar wat direk op VHS uitgereik is. Dit het op 7 Junie 2026 gebeur, doelbewus só beplan om met World VCR Day (Wêreld-VCR-dag) saam te val, voordat die film nou eerstens sy weg na ’n paar selektiewe teaters en daarna na stromingsdienste sal vind. Dit was ’n doelbewuste keuse in ’n era van digitalisering en KI-gegenereerde inhoud. Dos Santos sê self: “I love the idea that you need to be part of the club to watch this.” In ’n onderhoud met Variety gaan hy selfs verder en beskryf die fliek as iets wat “made by humans, for humans” is, terwyl daar na die VHS-uitreiking as ’n doelbewuste middelvinger vir KI verwys word word. Daar is iets besonder gepas daaraan dat ’n film oor ’n mensdom wat beheer oor kunsmatige intelligensie verloor, juis op een van die mees tasbare, onvolmaakte en onmiskenbaar analoog formate denkbaar uitgereik word.
Ek het onlangs gelees dat Sjina ’n belangrike regsgrens getrek het deur te bepaal dat maatskappye werknemers nie bloot mag afdank omdat KI nou hul werk kan verrig nie. Dos Santos se uitgangspunt is dalk wetenskapsfiksie, maar die waarskuwing daaragter is allermins tot Hollywood beperk . Van die mense wat aan die voorpunt van die KI-rewolusie staan, soos Sam Altman self, waarsku al jare dat die tegnologie vinniger ontwikkel as die veiligheidsmaatreëls en regulering wat veronderstel is om dit in toom te hou.
Dit is by verre nie die eerste of enigste film van sy soort nie: veral nie wat temas betref wat vandag só aktueel is nie. Tog gee Dos Santos aan die rolprent ’n onmiskenbare eie identiteit. Ek was veral beïndruk met die openingsmomente van die film, wat my verbeelding onmiddellik aangegryp het. Dit het vroeg reeds die toon vir die res van die fliek se atmosfeer aangegee en my laat wonder oor hoe alles uiteindelik sou eindig.
Dit voel soos net ’n paar jaar gelede toe flieks soos hierdie regtig nog net wetenskapsfiksie was, maar nou weet ons nie meer wat om volgende te verwag nie. Dit laat ’n mens wonder of fiksie die werklikheid naboots, en of die werklikheid dalk besig is om fiksie in te haal.
Soos Dani reeds vroeg in die fliek sê: “I’m finally doing what I wanna do instead of what everyone else expects from me.” Uiteindelik het ons almal ’n keuse oor wat ons doen met die tyd wat ons het. En as die robotte uiteindelik vir ons kom, vra Dos Santos se rolprent ons: waar wil jy jou laaste dag spandeer, hoe, en saam met wie?
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
TBA
Rolverdeling
Josh Kempen, Frances Sholto-Douglas, Peter Butler, Sean Cameron Michael
Sterre
3,5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout
Verdere Resensies
In “Silas en die Ysbeer op Tafelberg”ontmoet werklikheid en verbeeldings mekaar op sielvolle manier
Silas en die Ysbeer op Tafelberg is ‘n betowerende Suid-Afrikaanse fantasiefilm oor verlies, verbeelding en hoop. Vanaf 18 September in fliekteaters.
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



