Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
Resensie
Black Burns Fast is die eerste vollengte fliek van die regisseur Sandulela Asanda. Die rolprent is ook vroeër die jaar (2026) by die Berlynse Internasionale Rolprentfees vertoon. Dit is ’n storie oor die uitdagings wat ‘queer’ jong mense beleef terwyl hulle grootword en hul seksualiteit ontdek. Al klink hierdie soos ʼn sensitiewe en moontlik swaar onderwerp, hanteer Asanda dit met grasie en humor.
Die verhaal volg die 17-jarige Luthando terwyl sy haar matriekjaar as ’n leerder aan ’n elite-skool navigeer. In kontras met baie van die ander leerders van die skool, kom Luthando van ʼn armer agtergrond. Sy het haar toegang by die skool aan ʼn beurs te danke. Luthando is gewoond daaraan om aan die bopunt van haar klas te wees en as die woordvoerder vir die skool se beursprogram op te tree. Wanneer ʼn nuwe leerder, Ayanda by die skool aankom, begin die vonke spat. Luthando se aangetrokkenheid tot Ayanda, asook haar nuwe vriendskap met ‘The Galz’ (die gewilde groep swart meisies by die skool) lei haar aandag van haar skoolwerk en ander prioriteite af. Dit lei gou tot probleme met haar akademiese prestasie, die status van haar beurs en haar verhouding met haar beste vriendin, Jodie. Haar verhouding met haar ma kom ook in die spervuur.
Die titelsekwens, met sy strokiesprent-geïnspireerde grafika, het my sommer dadelik aan die styl en die toonaard van die film bekendgestel. Die gebruik van speletjie-geïnspireerde grafika bring ligtheid aan sensitiewe oomblikke, terwyl ’n kombinasie van visuele en in-kamera-effekte aan die rolprent ’n unieke aanslag gee. Pierre de Villiers se kinematografie staan uit en pas goed by die verhaal. Dit dra ook by tot die humor binne die tonele. Michael Botha se klankontwerp volg die film se speletjie-geïnspireerde styl, met klankeffekte wat help om die stemming van die fliek te voltooi. Die tempo, visuele effekte en spelagtige klankeffekte is egter baie prominent, en hoewel dit die film ’n moderne gevoel gee, sal dit dalk nie by almal aanklank vind nie. Die film se styl sal jonger kykers vermaak, terwyl die storie en humorsin aanklank by alle ouderdomme sal vind.
Die diverse rolverdeling lewer ’n paar stereotipiese uitbeeldings van tipiuese Suid-Afrikaners wat ’n mens maklik in die werklike lewe sou herken, sonder dat die fliek verskoning vra daarvoor. Die akteurs Esihle Ndleleni en Muadi Ilung vertolk Luthando en Ayanda goed. Tog is dit die akteur Mila Smith, wat Luthando se beste vriendin Jodie speel, wat in verskeie tonele skitter met haar perfekte droë, onkonvensionele humor en opregte vertolking van die meer emosionele oomblikke van die storielyn.
Die film belig belangrike kwessies soos rassisme, klassisme en seksualiteit met sensitiwiteit, terwyl dit steeds ons kenmerkende, direkte Suid-Afrikaanse humor behou. Alhoewel die fokus op Luthando se seksualiteit val, sou dit interessant gewees het as die fliek ook sistemiese verandering ondersoek het, of ten minste een wit karakter gehad het wat van die stereotipes afwyk.
Die film se einde is oulik en los ruimte vir ʼn moontlike opvolgrolprent. As jy lus is om bietjie te lag en jou eie tienerdae te onthou, is hierdie die perfekte fliek om na te kyk. Dit is beslis ʼn ode aan die digter, Sappho.
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
13
Rolverdeling
Esihle Ndleleni, Muadi Ilung, Mila Smith en Clarissa Theron
Sterre
3,5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Chanté Gorlt
Chanté Gorlt is ’n deeltydse dosent aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, waar sy spesialiseer in tegniese en kreatiewe dissiplines. Met ’n diep passie vir klank en musiek integreer sy haar entoesiasme in haar onderrig en inspireer sy studente om die dinamiese kruispunt van tegnologie en kreatiwiteit te verken. Haar rol weerspieël ’n toewyding aan die bevordering van innovasie en artistieke uitdrukking binne die akademiese gemeenskap.
Verdere Resensies
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
“The Trek” resensie: ‘n Karoo-western oor die Uys-gesin se wraaksugtige reis. Meekaaeel Adam se debuut.
Muzzle: City of Wolves – ‘n onverwagse opvolg wat teleurstel
Muzzle: City of Wolves resensie: Roelof Bezuidenhout se blik op die opvolg met Aaron Eckhart en Tanya van Graan – donkerder, simbolies, maar minder oortuigend.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



