Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense

Resensie

04/09/2026

Tien jaar ná hulle mekaar laas gesien het, probeer twee susters en hul broer vir die eerste keer weer as ’n gesin saam wees. Hulle kies die Suid-Afrikaanse kus as die gepasde bestemming vir die hereniging. Die geskikde plek om weer saam asem te haal, ver van die ingewikkelde kinderjare wat elkeen op hul eie manier probeer begrawe het. Maar die moontlikheid van ’n rustige hereniging verdwyn wanneer Annatjie, hul ma en die bron van soveel van hul gedeelde geskiedenis, by die vakansie aansluit.

Wat  as ’n langverwagte familiekuier begin, ontaard gou in ’n konfrontasie met die verlede. Annatjie (Anna-Mart van der Merwe) se teenwoordigheid bring ou spanning en bekende oorlewingsmeganismes terug na die oppervlak. 

Hierdie film het met menigde toekennings weggestap by die Silwerskermfees en dit is duidelik hoekom. Die draaiboek en regie deur Nico Scheepers is rou en eg. Hierdie storie is net so mooi as wat dit verpletterend is. Scheepers het gesê dat hy ’n verhaal oor regte mense wou vertel, en hy slaag beslis daarin om die kompleksiteit en onvolmaaktheid van die menslike natuur en familiebande vas te vang. Elke karakter in die rolprent is kompleks, met hul eie tekortkominge én deugde. Die botsing van persoonlikhede is fenomenaal geskryf en vertolk. Dit kom ook sterk uit hoe Annatjie se manipulasie anders deur elke familielid ervaar word.

Anna-Mart van der Merwe oortref haarself met Annatjie se vertolking en het ook met die toekenning vir beste aktrise in ’n speelfilm by die Silwerskermfees weggestap. Nicole Holm, wat Annatjie se suster speel, het haar toekenning as beste ondersteunende aktrise by die einste fees ook beslis verdien. Holm se vertolking bring nodige humor, maar haar emosionele oomblikke is ook puik. Carla Smith, wat Colette (een van Annatjie se dogters) speel, beïndruk my telkens in produksies met haar egte toneelspel en haar vermoë om emosie  in ’n skybaar moeitelose wyse uit te beeld. Sy laat die karakter ongelooflik werklik voel en trek die gehoor by die verhaal in. Beide Van der Merwe en Smith se uitmuntende toneelspel dra dus tot die spanning in die film by.

Die rolprent se tempo en ritme versterk die emosies van die karakters en laat die gehoor saam met hulle voel. Die redigeerder, Reghardt Botha, verdien ʼn pluimpie daarvoor. Chris Lotz se kinematografie ondersteun die verhaal en laat die wêreld waarin dit afspeel geloofwaardig en bekend voel. Tim Pringle se klankontwerp is nog ’n aspek waarin die film werklik uitblink. Die klankontwerp is realisties en minimalisties en versterk die spanningslyn op ’n baie effektiewe manier. Ongelukkig is daar ’n paar skerp oorgange in die klankmenging, asook skielike musikale invoegings, wat afbreuk maak aan die verhaal, en die kyker se ervaring.

My enigste werklike kritiek (en teleurstelling) teenoor is die rolprent is sy gebruik van oorspronklike musiek, wat gereeld die ander elemente (die verhaal ingesluit) oorweldig. Die musikale klankbaan is melodramaties en hard, wat die gehoor eerder van die storie vervreem as om hulle in te trek. Dit maak selfs die kykervaring ongemaklik. Die klavier wat prominent in die partituur voorkom, pas nie die stemming van die film nie. Die klankontwerp is só geslaagd dat die rolprent eintlik nie die partituur nodig het nie. Daar is egter ’n paar oomblikke waarin ander musikale elemente op ʼn meer effektiewe manier gebruik word om die verhaal en die film se styl te ondersteun. 

As jy verby die steurende musiek kan kyk, is Landmyn ’n aangrypend eerlike verhaal, met karakters waarin ons onsself op een of ander manier sal herken. Hier is daar geen voorgee van volmaaktheid nie – slegs gebroke mense wat hul bes probeer om hul struikelblokke te oorkom. Dit is ’n verhaal wat jou sal bybly lank nadat die eindkrediete gerol het.

Landmyn word op 4 September in rolprentteaters uitgereik.

Meer Inligting

Speeltyd

110 min

Skrywer en Regisseur

Nico Scheepers

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

13 DLP

Rolverdeling

Anna-Mart van der Merwe, Carla Smith, Ben Albertyn, Dhania Schultz, Nicole Holm, Juan-Christoff Smith

Sterre

4/5

Loket

Sien NFVF

Geskryf deur Chanté Gorlt

Chanté Gorlt is ’n deeltydse dosent aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, waar sy spesialiseer in tegniese en kreatiewe dissiplines. Met ’n diep passie vir klank en musiek integreer sy haar entoesiasme in haar onderrig en inspireer sy studente om die dinamiese kruispunt van tegnologie en kreatiwiteit te verken. Haar rol weerspieël ’n toewyding aan die bevordering van innovasie en artistieke uitdrukking binne die akademiese gemeenskap.

Verdere Resensies

Kopiereg © 2026 Bioskoop Flieks NWM. Alle Regte Voorbehou. | Gemaak met deur Rick Bronkhorst