Al Wat Ek Weet – Kuns bied redding in ’n film wat self soos ’n kunswerk voel

Resensie

01/11/2026

Al Wat Ek Weet, gegrond op die roman deur Marita van der Vyver, vertel die verhaal van ’n tiener wat die uitdagings van grootword moet trotseer terwyl hy worstel met die enorme emosionele las van verlies.

Ná ’n motorongeluk waarin die 17-jarige Gabriel se ma sterf, trek hy by sy tante in Woodstock, Kaapstad, in. Hy woon terapiesessies by in ʼn poging om sy rou t verwerk. Hy sukkel egter om homself emosioneel oop te stel, terwyl hy terselfdertyd probeer om soos ’n gewone tiener tussen sy portuurgroep te wees. Hy ontmoet ’n meisie, sluit om haar ontwil by ’n kletspoësieklub aan en probeer met hierdie aktiwiteite ’n mate van berusting vind.

Die regisseurs, Devon Delmar en Jason Jacobs, benader sensitiewe temas met empatie. Deur elke aspek van die rolprentkuns word ons diep in die hoofkarakter se innerlike wêreld ingetrek, wat ’n intense, byna tasbare ervaring skep. Die diep emosionele pyn word ondersteun en soms versag deur die teenwoordigheid van pragtige kunsvorms soos poësie, musiek en visuele kuns.

Die film spog met bekende name soos Zenobia Kloppers (Fiela in die 2019 rolprent, Fiela se Kind), June van Merch, Waldemar Schultz en Hildegardt Whites. Die jonger akteurs, Johan Mouton, Gretchen Ramsden en Antoinette Myburgh se toneelspel steek nie af teenoor die spel van die gesoute bekendes nie.

Al wat ek weet se Rocco Pool het in 2026 tydens die Silwerskermfees die prys vir beste produksie ontwerp gewen. Dit is wel verdiend, aangesien die besonderse visuele ontwerp sterk kontras bied tussen die lewendige kleure van die buitewêreld en die somber, donker innerlike wêreld van die hoofkarakter. Buiten vir Pool se produksie ontwerp, word hierdie gevoel ook deur die kinematografie (Grey Kotze), beligting (Stephan van der Merwe), kostuumontwerp (Mary-Sue Morris) en klankontwerp (Guy Steer) bewerkstellig. Deur hierdie elemente word die film self ’n kunswerk, met elke skermgreep wat soos ’n geraamde skildery lyk. Die visuele en spesiale effekte skep die gevoel van ’n opgeskorte werklikheid waarin Gabriel leef, en dit word besonder geslaagd uitgevoer.

Guy Steer het ook tydens die Silwerskermfees die prys vir beste klankontwerp vir die film ontvang. Hy skep ryk, gelaagde klankwêrelde deur middel van atmosfere en klankeffekte. Die buitewêreld se klanklandskap is byna chaoties, terwyl Gabriel se innerlike wêreld stil, soms byna doodstil, is. Wanneer klanke wel deurdring, word dié van die wêreld om hom dikwels deur sy eie persepsie vervorm. Die klankontwerp is besonder doeltreffend om die emosionele spanning te verhoog en ’n sterker reaksie by die gehoor te ontlok. Soms raak die rolprent se klankbaan egter steurend. Hoewel dit die stemming ondersteun, is dit te hard en hou dit net te lank aan.

My grootste kritiek teen die film is dat, hoewel komiese verligting soms nodig is, sekere humoristiese oomblikke geforseerd voel en nie heeltemal slaag nie. Die komiese tydsberekening van die redigering, asook die gebruik van musiek, ondersteun nie altyd die humor doeltreffend nie.

Hierdie film bied ’n egter eerlike, rou uitbeelding van rou en grootword in ’n ingewikkelde wêreld. Die verhaal gryp die kyker aan. Dit het my met ʼn gevoel van hoop gelaat, en die wete dat die wêreld sal aanhou om om sy as te draai, en dat daar steeds ruimte vir genesing sal wees – selfs in donker tye.

Al Wat Ek Weet word op Vrydag 30 Oktober 2026 vrygestel.

Rolprentteaters landwyd waar Al wat ek weet op 30 Oktober open:

Ster-Kinekor

  • Brooklyn, Pretoria
  • Garden Route Mall, George
  • Rosebank Nouveau, Johannesburg
  • Somerset Mall, Kaapstad
  • Tygervallei, Kaapstad
  • V&A Waterfront, Kaapstad

Nu Metro

  • Canal Walk, Kaapstad
  • Cavendish, Kaapstad

Onafhanklike rolprentteaters

  • Labia, Kaapstad
  • Minimax Cinema, Paarl
  • Road House at Neelsie, Stellenbosch
  • Road House at Whale Coast, Hermanus

Meer Inligting

Speeltyd

102 min

Skrywer en Regisseur

Jason Jacobs en Devon Delmar

Webtuiste

Skerms

∞

s

Ouderdomsbeperking

13 LV

Rolverdeling

Jonan Mouton, Zenobia Kloppers, Gretchen Ramsden, Waldemar Schultz, Elton Landrew, Jana Cilliers en Abduragman Adams

Sterre

4/5

Loket

Sien NFVF

Geskryf deur Chanté Gorlt

Chanté Gorlt is ’n deeltydse dosent aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, waar sy spesialiseer in tegniese en kreatiewe dissiplines. Met ’n diep passie vir klank en musiek integreer sy haar entoesiasme in haar onderrig en inspireer sy studente om die dinamiese kruispunt van tegnologie en kreatiwiteit te verken. Haar rol weerspieël ’n toewyding aan die bevordering van innovasie en artistieke uitdrukking binne die akademiese gemeenskap.

Verdere Resensies

Kopiereg © 2026 Bioskoop Flieks NWM. Alle Regte Voorbehou. | Gemaak met deur Rick Bronkhorst