Variasies op ʼn tema: Visuale poësie van die plattelandse landskap en sy mense

Resensie

12/05/2026

“Op 18 Julie 1941, stap Petrus Jakobus Beukes, saam met twaalf ander mans, die eerste keer vanuit Kharkams se krom stofpaaie, suid.” Hierdie woorde is mede-regisseur Jason Jacobs se inleiding tot Variasies op n tema; sy weergawe van “eendag lank-lank gelede” en die begin van ‘n verhaal wat steeds vandag relevant is en die kyker aan die hart ruk.

Variasies op ʼn tema lyk op die oog af soos ʼn dokumentêr, maar is volgens Jacobs eerder ʼn fiktiewe mymering rondom erfenis, en die karakters se daaglikse bestaan wat wél deur hul ware lewens geïnspireer is. Die sentrale fokus val op die bokwagter, ouma Hettie, wat tydens die verloop van die rolprent, haar tagtigste verjaarsdag vier. Jacobs en sy mede-regisseur, Devon Delmar, wys ook ʼn grepie uit die lewens van vier ander karakters. As redigeerder, vervleg Delmar grepies uit elke karakter se lewe oor die tydperk van vyf dae.

Met Jacobs en Delmar se vorige rolprent, Carissa, het die span gemeenskapslede ingespan om al die rolle, buiten dié van die hoofkarakter en ʼn ander karakter te vertolk. Die 74-jarige Ouma Wilhelmina Hesselman het (met geen professionele agtergrond nie), ʼn benoeming as beste byspeler by die Silwerskermfees losgespeel. Met Variasies op ʼn tema, saal Jacobs en Delmar ʼn wilde perd (of dalk eerder ʼn bok of ʼn donkie) op, deur slegs plaaslike inwoners, die bokke, en selfs ʼn kat te gebruik om die storie te vertel.

Hoe het hulle dit reggekry? “Onse mense, van Kharkams, Kammieskroon, Garries, Springbok, Wupperthal, Nourivier, Rooifontein, dra in hulle ʼn ingebore manier van storievertel wat werk in álle genres en álle mediums. My onthou is in die stories wat ek vertel is toe ek grootgeraak  het,” vertel hy.

Kinematograaf Gray Kotzé vang met die kamera as sy verfkwas die Kamiesberg op ʼn diepsinnige wyse vas. Vir dié van ons wat nog nie in Namakwaland was nie, gee hy die kans om te besin oor die landskap en sy mense. Intussen begelei die klankbaan van Mikhaila Alyssa Smith en Sean Devonport op ons dié oordenkingsreis. Die klankdepartement bestaan uit tien individue, wat bewys dat die rolprentmakers die klank ernstig opgeneem het – iets wat nie altyd in Suid-Afrikaanse rolprente die geval is nie

Volgens Jacobs is Variasies op ʼn tema ʼn droomwerk. Dit is egter ʼn rolprent met ʼn stadige pas. Een waarmee baie kykers, gewoond aan die vinnige pas van die moderne slimfoon-samelewing, heel waarskynlik verveeld sal raak. Nes ouma Hettie elke dag haar bokke neem om rustig te wei, en geduldig wag totdat hulle versadig is, sal die kyker op dieselfde manier die rolprent se storie moet inneem. Die fliek is al met verskeie toekennings bekroon, en is onder meer as die beste rolprent by die Rotterdam Internasionale Filmfees en die Joburg Filmfees aangewys. Maar dit is beslis nie vir iedereen nie, of dalk eerder nie vir elke dag nie. Dit is vir daardie dag wat jy reg is om stil te raak, ʼn kunsmuseum te besoek, of dalk net die natuur rondom jou te bewonder.

Meer Inligting

Speeltyd

65 min

Skrywer en Regisseur

Devon Delmar en Jason Jacobs

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

PG

Rolverdeling

Hettie Farmer, Gladwin van Niekerk, Magdalena Links, en Jason Jacobs (as die verteller)

Sterre

3.5/5

Loket

Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren

Professor Anna-Marie Jansen van Vuuren is ’n senior dosent en navorsingskoördineerder vir die Film- en Visuele Kommunikasie-program by die Fakulteit van Kuns by die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Sy spesialiseer in navorsing oor temas soos “identiteit” en “uitbeelding” in Suid-Afrikaanse rolprente—maar in eenvoudige taal: Is sy lief vir flieks en hou daarvan om dit diep te bestudeer.

Verdere Resensies

Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos

Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos

Hunting Jessica Brok is ’n intense Suid-Afrikaanse aksierolprent oor ’n voormalige elite-soldaat (Danica Jones) wat haar donker verlede in die gesig staar wanneer ’n sadistiese vyand (Richard Lukunku) terugkeer vir wraak. Propvol ontploffings, gevegte en nagbytende spanning. Regie deur Alastair Orr. ’n Brutale, stylvolle aksiefliek wat maklik met Hollywood meeding.

read more
Finding Optel – Optel mag dalk weg wees, maar die humor is beslis nie!

Finding Optel – Optel mag dalk weg wees, maar die humor is beslis nie!

Finding Optel is ’n hartroerende en snaakse Suid-Afrikaanse komedie-drama oor ’n tienermeisie wat haar buurt se verlore hond soek — en haarself in die proses vind. Onder die regie van Jesse en Mikayla Joy Brown, met uitmuntende spel deur Mikayla Brown, Oscar Petersen en Maurice Carpede. ’n Vars, kleurvolle en menslike fliek vol humor en hoop.

read more
Kopiereg © 2026 Bioskoop Flieks NWM. Alle Regte Voorbehou. | Gemaak met deur Rick Bronkhorst