Bruid van die Jaar – Wanneer die bruid die kompetisie verloor, maar haar hart wen
Resensie
“Ware geluk is nie iets wat jy kan beplan nie.” Met hierdie woorde besef Lienkie haar siening van “huis” is nie volhoubaar nie, en dat sy haar oë wyer moet oopmaak as sy onvoorwaardelike liefde wil raaksien.
Lienkie (Carine Rous) koester van kleins af net een droom. Om die “Bruid van die Jaar”-kompetisie te wen. Sedert haar eensame grootwordjare in Linden se kinderhuis smag sy na die volmaakte geluk van die huwelik, om aan iemand te behoort en om ware liefde te vind.
Met die openingstonele van Joshua Rous se nuwe romantiese komedie Bruid van die Jaar, is Lienkie se droom so te sê vervolmaak. Dis die gróót dag en die opwinding is tasbaar. Die rok, die koek wat Lienkie self gebak het, die gaste, die fotograaf en die inskrywing vir vanjaar se “Bruid van die Jaar”-kompetisie, word noukeurig op Lienkie se lys afgemerk.
Daar is wel een probleem… die bruidegom: Zander (Armand Aucamp-van Noordwyk).
Lienkie betrap Zander waar hy met Johannika (Lisa Tredoux), ʼn baie jonger stukkie, in die bed baljaar! Lienkie se droom spat aan skerwe. Zander en Johannika is egter doodluiters gereed om met ʼn nuwe hoofstuk te begin. Zander se ma, Norma (Hanli Rolfes), wat die naaswenner in die 1989 “Bruid van die Jaar”-kompetisie was, sterk hulle in hulle kwaad. Norma voel haar seuntjie se nuwe, “jonger” liefde staan ‘n baie beter kans om 2026 se “Bruid van die Jaar”-titel in te palm as die nege-en-dertig jarige “verlepte” Lienkie. ʼn Verdere kinkel tot die storie is wanneer die glyjakkals Frank (Bouwer Bosch), Lienkie se pad kruis. Sy besef dan dat die lewe soms ‘n slenter of drie inspan om die skille van jou oë te laat val.
Bruid van die Jaar is ligte ontsnappingsvermaak en word net betyds vrygestel dat dit op ʼn koue wintersaand geniet kan word. Die storielyn is so bekend soos die troumars, en die meeste van die karakters, alhoewel stereotipies, is uitgeknip vir hulle rolle in dié komedie. Die draaiboek van Gillian Breslin is gegrond op Joshua en Carine Rous se oorspronklike konsep. Daar is ook lekker tonele waar ou bekendes soos Tobie Cronjé en Woutrine Theron hulle buiging maak. Bosch as Lienkie se “fop-bruidegom”, Frank, is gemaklik met sy karakter, en alhoewel van die dialoog soms lomp voel, is daar baie stukkies dialoog en danspassies wat kykers sal bybly. Rolfes as die skoonma-feeks kwyt haarself ook goed van haar taak.
Lienkie se tuisnywerheid, “Lekkerbekkies”, staan beslis uit wat produksie-ontwerp betref, met helder kleure en beligting wat by die genre pas. En mode-entoesiaste sal die kostuums waardeer.
Daar is wel ‘n paar elemente in Bruid van die Jaar wat pla. Die musiek, alhoewel gepas vir die tema en gehoor, word te veel gebruik, dit voel naderhand of die film in een lang “montage” verval wat die fokus van die storie effens laat verdof. Soms word snaakse dialoog bederf deur onnodige “jingles” of “punch line” klanke. Die “chemistry” tussen Carine se Lienkie en Bouwer se Frank is ook nie heeltemal oortuigend nie, veral wanneer die twee besef hulle is eintlik vir mekaar bedoel.
Behalwe vir hierdie haakplekke is Bruid van die Jaar goeie vermaak met ‘n voorspelbare tog lekker kinkel in die kabel. Met die vermaaklikheidsbedryf wat deur ‘n onvoorspelbare en moeilike tydperk gaan, is dit bemoedigend om na filmmakers soos Rous en sy span se handewerk te kan kyk en te weet dat daar nog pret en plesier oorbly om te verslind.
Vergeet van die oorlog in Iran en Kunsmatige Intelligensie wat almal op hol jaag en kyk gerus Bruid van die Jaar!
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
10-12PG
Rolverdeling
Carine Rous, Bouwer Bosch, Armand Aucamp-van Noordwyk, Laura-Lee Mostert en Hanli Rolfes
Sterre
3/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Gerhard Ehlers
Gerhard Ehlers is ‘n film en televisie produksie dosent by die Boston Media House kampus in Sandton, Johannesburg. Gerhard het homself nog altyd as ‘n storieverteller beskou, en reeds op Hoërskool die draaiboeke en regie van drie onafhanklike kortfilms nl: “Friendly Conscience”, “Die Heuningwyser” en “Sekelfontein” behartig.
Verdere Resensies
Variasies op ʼn tema: Visuale poësie van die plattelandse landskap en sy mense
Lees die resensie van Variasies op ʼn Tema – ʼn bekroonde Suid-Afrikaanse rolprent oor erfenis en die Namakwalandse platteland.
Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos
Hunting Jessica Brok is ’n intense Suid-Afrikaanse aksierolprent oor ’n voormalige elite-soldaat (Danica Jones) wat haar donker verlede in die gesig staar wanneer ’n sadistiese vyand (Richard Lukunku) terugkeer vir wraak. Propvol ontploffings, gevegte en nagbytende spanning. Regie deur Alastair Orr. ’n Brutale, stylvolle aksiefliek wat maklik met Hollywood meeding.
Finding Optel – Optel mag dalk weg wees, maar die humor is beslis nie!
Finding Optel is ’n hartroerende en snaakse Suid-Afrikaanse komedie-drama oor ’n tienermeisie wat haar buurt se verlore hond soek — en haarself in die proses vind. Onder die regie van Jesse en Mikayla Joy Brown, met uitmuntende spel deur Mikayla Brown, Oscar Petersen en Maurice Carpede. ’n Vars, kleurvolle en menslike fliek vol humor en hoop.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



