Encounters 2026 – Selfs Musk maak ‘n draai

Nuus

13/06/2026

Dis die laaste naweek van die Encounters Internasionale Dokumentêre Rolprentfees. Vanjaar was die eerste keer in meer as ʼn dekade wat hierdie rolprentfees – wat gewoonlik in Kaapstad en Johannesburg plaasvind – ook vertonings in Pretoria het met die Ster Kinekor in Brooklyn Mall wat gasheer speel.

Ander skerms waar die fees se dokumentêre rolprente vertoon word, sluit in:

Kaapstad: Labia, Ster Kinekor V&A Waterfront, Bertha Mowbray en Bertha Khayelitsha. Johannesburg: The Bioscope, Rosebank Nouveau, Ster-Kinekor Sandton, Ster Kinekor Southgate.

Wat is so besonders aan Encounters?

ʼn Raadslid van Encounters, Odette Geldenhuys, sê hierdie jaar is die 28ste keer wat “Encounters” plaasvind. Volgens haar is dit ʼn unieke rolprentfees, omdat hulle slegs dokumentêre by hierdie fees vertoon, in teenstelling met ander plaaslike rolprentfeeste, soos Joburg Filmfees en Durban Internasionale Rolprentfees, wat meestal op fiksie rolprente fokus. Verder beklemtoon Geldenhuysdat die meeste van die dokumentêre wat tydens dié program vertoon word, nooit andersins in Suid-Afrika (op televisie of teaters) versprei word nie. Dus, is dit ʼn unieke geleentheid om juweeltjies te sien wat jy nie elders sal kan kyk nie. Die uwe het byvoorbeeld verlede jaar die dokumentêr, Mr. Nobody Against Putin (2025) by Encounters ervaar, en toe stap dit hierdie jaar met die louere weg as beste vollengte dokumentêr by die Akademie toekennings (die Oscars).

Wat is van die hoogtepunte waarna ons nog hierdie naweek by Encounters kan uitsien?

Notes from the Underground (2026) handel oor Hip Hop in Kaapstad, en hoe hierdie tradisie van generasie tot generasie oorgedra is.

Elon Musk: The Tesla Experiment (2026) werp ʼn interessante blik op die omstredenheid wat om die gelyknamige Musk se selfbesturende voertuie wentel.

Die dokumentêr Tutu (2026) is vervaardig deur beeldmateriaal wat twee joernaliste oor 20 jaar van Desmond Tutu verfilm het.

The Eyes of Ghana (2025) demonstreer die mag wat rolprente as ʼn medium of platform het. Die rolprent bevat argiefmateriaal wat verfilm is in die eerste paar jaar nadat Ghana onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk verkry het.

Ons beleef almal tans soveel “swaar dinge”. Wil ons dan nie eerder na die fliekteater gaan om iets te kyk wat ons kan help om te “ontsnap” nie?

Geldenhuys se antwoord op hierdie vraag is dat al die dokumentêre op só ʼn manier vervaardig is dat jy ʼn boodskap van hoop ervaar terwyl jy die fliek kyk. Daar ís mense daarbuite wat probeer om ʼn positiewe verskil te maak. Selfs van die swaarste dokumentêre het verskeie ligte oomblikke, terwyl baie van die ander soveel komiese oomblikke het dat jy dikwels uit jou maag uit sal lag. “In ʼn tyd waar baie van die inhoud wat ons op sosiale media verslind swak produksiewaarde het, is dit heerlik om te ontspan en na flieks te kyk waaraan daar jare lankgewerk is,” voeg Geldenhuys by.

Die Encounters Dokumentêre Rolprentfees se laaste vertonings vind op Sondag 15 Junie plaas. Vind meer besonderhede hier: https://encounters.co.za/films/ 

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren

Professor Anna-Marie Jansen van Vuuren is ’n senior dosent en navorsingskoördineerder vir die Film- en Visuele Kommunikasie-program by die Fakulteit van Kuns by die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Sy spesialiseer in navorsing oor temas soos “identiteit” en “uitbeelding” in Suid-Afrikaanse rolprente—maar in eenvoudige taal: Is sy lief vir flieks en hou daarvan om dit diep te bestudeer.

Verdere Resensies

Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos

Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos

Hunting Jessica Brok is ’n intense Suid-Afrikaanse aksierolprent oor ’n voormalige elite-soldaat (Danica Jones) wat haar donker verlede in die gesig staar wanneer ’n sadistiese vyand (Richard Lukunku) terugkeer vir wraak. Propvol ontploffings, gevegte en nagbytende spanning. Regie deur Alastair Orr. ’n Brutale, stylvolle aksiefliek wat maklik met Hollywood meeding.

read more
Kopiereg © 2026 Bioskoop Flieks NWM. Alle Regte Voorbehou. | Gemaak met deur Rick Bronkhorst