Die Verhaal van Racheltjie de Beer – Bekende volksverhaal kry nuwe lewe

Resensie
Nes modes uit die 80’s wat weer hul opwagting in hedendaagse modetydskrifte maak, maak stories uit toentertyd ook (weer) hul verskyning op die grootskerm. Dink maar aan The Lion King, Aladdin, en om nie eens te praat van al die superheldfilms wat weer en weer terugkeer nie. Regisseur Matthys Boshoff se rolprent Die Verhaal van Racheltjie de Beer is ’n oorverteling van die gevierde volksverhaal en behoort gehore landswyd (en wêreldwyd) te bekoor.
Dit is die tydperk van die laat 1800’s. Die De Beer-gesin (Stian Bam, Zonika de Vries en Johannes Jordaan) word genoodsaak om skuiling te soek op ’n afgeleë plaas in die Oos-Vrystaat nadat hulle ossewa onklaar geraak het. Donker sneeuwolke pak oor die Drakensberge saam en skets ʼn metaforiese beeld van ’n onvermydelike tragedie aan die kom. Die grotendeelse gehoor behoort die res van die storie goed te ken. Die storie van ’n jong heldin wat van generasie tot generasie oorvertel word.
Brett Michael Innes het die gelyknamige roman geskryf waarop die fliek gebasseer is en sy en Boshoff se kreatiewe draaiboekontwikkeling is merkwaardig. Die wyse waarop hulle die gehoor uitnooi om empatie met die karakters en hul individuele lyding te toon, bied ’n vars briesie.

Die akteurs vorm ’n gedugte ensemble en die een is so sterk soos die volgende. Stian Bam, wat vir hierdie rol as Beste Akteur by die 2019 kykNET Silwerskerm-fees bekroon is, se karakter is nie net ’n vaderfiguur in die film nie, hy neem ook die leisels stewig vas as die goue draad tussen vele van die ander karakters: sy verhouding met sy kinders, die mooie Sara (Antoinette Louw) en met dié van die ouer paartjie wat hul huisves, Jacoba (Sandra Prinsloo) en George (Marius Weyers). Seputla Sebogodi as Lazarus verdien ook spesiale melding – hy het sy karakter deurgaans met passie en oortuiging vertolk.
Hierdie avontuur-drama is ’n visuele plesier – soveel so dat ’n spesiale Visuele effekte (VFX)-toekenning hul by die afgelope Silwerskermfees beskore was. Die meer as 220 effekte, insluitend onweerswolke, ’n luiperd, ’n bobbejaan, ’n sebra en vallende sneeu, is verseker ’n eerste vir Afrikaanse rolprente en omvou die aksie soos ’n nommerpas skoen. Die storm kry ’n persoonlikheid van sy eie wat kykers op die punte van hulle stoele sal hou. Dis juis hierdie wisselwerking tussen waarheid en versinsel wat die rolprent ’n dieper dimensie gee.
Die kruks van die rolprent se sukses lê daarin om met verskillende gehore ewe gemaklik te kan praat. Jonk en oud; diegene wat Racheltjie se storie goed ken of glad nie ken nie, sal kan identifiseer met haar vasberadenheid en onbaatsugtige liefde. Boshoff en Innes maak seker dat hierdie ikoniese kinderheldin relevant bly deur tydlose temas te ondersoek: gesinsdinamiek, verlies en dapperheid in onmoontlike situasies. Die perfekte kombinasie vir die hele gesin om te kan geniet; en wat sal sorg vir heerlike diepte gesprekke na die tyd – ook met die jongspan.
Maak jou reg vir ’n rolprent wat met sy slakkepas gelyktydig intiem en epies is. Wat gelyktydig poëties en op-die-man-af is. Wat gelyktydig tydloos en outentiek is.
Meer Inligting
Speeltyd
105 min
Skrywer en Regisseur
Brett Michael Innes, Matthys Boshoff | Matthys Boshoff
Webtuiste
Skerms
43
Ouderdomsbeperking
10–12PG D H V
Rolverdeling
Stian Bam, Antoinette Louw, Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Zonika De Vries, Seputla Sebogodi, Charlie Bouguenon, Beate Opperman, Johannes Jordaan
Sterre
4/5
Loket
1 395 443

Geskryf deur Dee Theart
Verdere Resensies
Bloedhond – Heerlike bangmaak-vermaak vir Halloween-maand
Bloedhond is ’n bloederige, spanningsvolle Afrikaanse gruwelfliek vol koue rillings, donker humor en onverwagse wendings – perfek vir Halloween, met sterk spel deur Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz en Kevin Peyper, en beskikbaar op eVOD.
Hen – Rasend honger en stilweg boos.
Hen is ’n senutergende Afrikaanse riller deur Nico Scheepers met Stian Bam, Amalia Uys en Dawian van der Westhuizen. Op ’n afgeleë plaas in die laat 19de eeu ontvou ’n donker en bonatuurlike verhaal van geloof, vrees en vervloeking. Met skitterende spel en intense atmosfeer herinner Hen aan The Omen en Rosemary’s Baby – ’n film wat lank ná die laaste toneel bly spook.
Carissa: Een legkaartstukkie van háár lewe
Carissa (2025), ’n stadige maar visueel pragtige rolprent oor plattelandse lewe, familie, eenvoud en die ritme van menswees.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging