Die Verhaal van Racheltjie de Beer – Bekende volksverhaal kry nuwe lewe
Resensie
Nes modes uit die 80’s wat weer hul opwagting in hedendaagse modetydskrifte maak, maak stories uit toentertyd ook (weer) hul verskyning op die grootskerm. Dink maar aan The Lion King, Aladdin, en om nie eens te praat van al die superheldfilms wat weer en weer terugkeer nie. Regisseur Matthys Boshoff se rolprent Die Verhaal van Racheltjie de Beer is ’n oorverteling van die gevierde volksverhaal en behoort gehore landswyd (en wêreldwyd) te bekoor.
Dit is die tydperk van die laat 1800’s. Die De Beer-gesin (Stian Bam, Zonika de Vries en Johannes Jordaan) word genoodsaak om skuiling te soek op ’n afgeleë plaas in die Oos-Vrystaat nadat hulle ossewa onklaar geraak het. Donker sneeuwolke pak oor die Drakensberge saam en skets ʼn metaforiese beeld van ’n onvermydelike tragedie aan die kom. Die grotendeelse gehoor behoort die res van die storie goed te ken. Die storie van ’n jong heldin wat van generasie tot generasie oorvertel word.
Brett Michael Innes het die gelyknamige roman geskryf waarop die fliek gebasseer is en sy en Boshoff se kreatiewe draaiboekontwikkeling is merkwaardig. Die wyse waarop hulle die gehoor uitnooi om empatie met die karakters en hul individuele lyding te toon, bied ’n vars briesie.
Die akteurs vorm ’n gedugte ensemble en die een is so sterk soos die volgende. Stian Bam, wat vir hierdie rol as Beste Akteur by die 2019 kykNET Silwerskerm-fees bekroon is, se karakter is nie net ’n vaderfiguur in die film nie, hy neem ook die leisels stewig vas as die goue draad tussen vele van die ander karakters: sy verhouding met sy kinders, die mooie Sara (Antoinette Louw) en met dié van die ouer paartjie wat hul huisves, Jacoba (Sandra Prinsloo) en George (Marius Weyers). Seputla Sebogodi as Lazarus verdien ook spesiale melding – hy het sy karakter deurgaans met passie en oortuiging vertolk.
Hierdie avontuur-drama is ’n visuele plesier – soveel so dat ’n spesiale Visuele effekte (VFX)-toekenning hul by die afgelope Silwerskermfees beskore was. Die meer as 220 effekte, insluitend onweerswolke, ’n luiperd, ’n bobbejaan, ’n sebra en vallende sneeu, is verseker ’n eerste vir Afrikaanse rolprente en omvou die aksie soos ’n nommerpas skoen. Die storm kry ’n persoonlikheid van sy eie wat kykers op die punte van hulle stoele sal hou. Dis juis hierdie wisselwerking tussen waarheid en versinsel wat die rolprent ’n dieper dimensie gee.
Die kruks van die rolprent se sukses lê daarin om met verskillende gehore ewe gemaklik te kan praat. Jonk en oud; diegene wat Racheltjie se storie goed ken of glad nie ken nie, sal kan identifiseer met haar vasberadenheid en onbaatsugtige liefde. Boshoff en Innes maak seker dat hierdie ikoniese kinderheldin relevant bly deur tydlose temas te ondersoek: gesinsdinamiek, verlies en dapperheid in onmoontlike situasies. Die perfekte kombinasie vir die hele gesin om te kan geniet; en wat sal sorg vir heerlike diepte gesprekke na die tyd – ook met die jongspan.
Maak jou reg vir ’n rolprent wat met sy slakkepas gelyktydig intiem en epies is. Wat gelyktydig poëties en op-die-man-af is. Wat gelyktydig tydloos en outentiek is.
Meer Inligting
Speeltyd
105 min
Skrywer en Regisseur
Brett Michael Innes, Matthys Boshoff | Matthys Boshoff
Webtuiste
Skerms
43
Ouderdomsbeperking
10–12PG D H V
Rolverdeling
Stian Bam, Antoinette Louw, Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Zonika De Vries, Seputla Sebogodi, Charlie Bouguenon, Beate Opperman, Johannes Jordaan
Sterre
4/5
Loket
1 395 443

Geskryf deur Dee Theart
Verdere Resensies
Bruid van die Jaar – Wanneer die bruid die kompetisie verloor, maar haar hart wen
Bruid van die Jaar is ligte, warm romantiese komedie-vermaak. Carine Rous skitter as Lienkie in dié vrolike liefdestorie vol snaakse wendinge. Nou in teaters.
Variasies op ʼn tema: Visuale poësie van die plattelandse landskap en sy mense
Lees die resensie van Variasies op ʼn Tema – ʼn bekroonde Suid-Afrikaanse rolprent oor erfenis en die Namakwalandse platteland.
Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos
Hunting Jessica Brok is ’n intense Suid-Afrikaanse aksierolprent oor ’n voormalige elite-soldaat (Danica Jones) wat haar donker verlede in die gesig staar wanneer ’n sadistiese vyand (Richard Lukunku) terugkeer vir wraak. Propvol ontploffings, gevegte en nagbytende spanning. Regie deur Alastair Orr. ’n Brutale, stylvolle aksiefliek wat maklik met Hollywood meeding.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



