Gat In Die Muur – Sensueel, waaghalsig en aangrypend

Resensie
“Om dood te gaan is maklik. Om te lewe, dít is die uitdaging.” Hierdie woorde van die rolprent Gat in die Muur bly my nou nog by. Nie omdat dit ‘n poging tot ‘n sedepreek is nie. Prekerig is die fliek allermins. En ‘n welkome verandering van die soort rolprente wat jou so graag met die tema oor die kop wil slaan. Eerder is dit ‘n reis na ontdekking, sonder opgesmukte clichés wat ‘n mens juis van ‘n fliek oor die dood sou verwag. Tog is dit waar ek as ‘n kyker die fout gemaak het. Gat in die Muur is, soos ek vroeër in die hoofkarakter Riaan se woorde gestel het, nie ‘n fliek oor die dood nie, maar oor die lewe – ten spyte daarvan dat die einste Riaan (André Odendaal) met terminale kanker saamleef. Daarom het hy besluit om ‘n finale padlangse reis met sy seun te onderneem, en hy nooi nog ‘n reisgenoot saam.
Die storie het effens lank geneem om aan die gang te kom, en in een of twee lang eksposisionele tonele sou ek dit verkies het om eerder meer van die karakters te sien as om net na hulle te luister. Maar toe ons eers op pad is saam met Riaan, sy seun Ben (Nicholas Campbell) en ‘n soort terloopse kennis, Ava (Tinarie van Wyk-Loots), is daar geen terugkeer kans nie.

Die verhaal word deur die stiltes en akteurs se sterk toneelspel vertel. Verder speel die wyedoek kamerawerk en genuanseerde komposisie ‘n subtiele tog onontbeerlike rol om ons by die karakters se reis in te trek. Alhoewel regisseur, André Odendaal, nie daarvan wegdeins om vir ons pyn te wys nie, is laasgenoemde eerder verskuil in die tussenposes van die verhaal, wat deur redigeerder, Ronelle Odendaal, met sensualiteit saamgeweef is. Odendaal fokus eerder daarop om vir ons die KwaZulu-Natalse landskap te wys, tesame met die vreugde wat Riaan, Ben en Ava by elke pitstop ervaar, totdat hulle uiteindelik die Transkei bereik.
Van Wyk-Loots speel haar rol met deernis en lewenservaring, terwyl ek telkemale moes wonder waar Campbell nog al die jare vir ons plaaslike skerm geskuil het. Odendaal speel die rol van ‘n leeftyd, wat nog meer besonders is omdat hy self die regie behartig het. Hoe ontsluit ‘n mens soveel uit jouself?
Uiteindelik is die rolprent iets wat jy soos ‘n drankie by die kaggel, teug vir teug moet geniet. Jy moet jou nie laat aanjaag nie, maar jouself die tyd gun om elke oomblik saam met hierdie karakters in te drink. Want as jy uiteindelik jou oë toemaak, sal die beelde vir lank nog, soos die branders, oor jou spoel.
Meer Inligting
Speeltyd
104 min
Skrywer en Regisseur
Susan Coetzer | André Odendaal
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
16
Rolverdeling
André Odendaal, Nicholas Campbell, Tinarie van Wyk-Loots, Anna Davel en Susan Coetzer
Sterre
4/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren
Verdere Resensies
Bloedhond – Heerlike bangmaak-vermaak vir Halloween-maand
Bloedhond is ’n bloederige, spanningsvolle Afrikaanse gruwelfliek vol koue rillings, donker humor en onverwagse wendings – perfek vir Halloween, met sterk spel deur Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz en Kevin Peyper, en beskikbaar op eVOD.
Hen – Rasend honger en stilweg boos.
Hen is ’n senutergende Afrikaanse riller deur Nico Scheepers met Stian Bam, Amalia Uys en Dawian van der Westhuizen. Op ’n afgeleë plaas in die laat 19de eeu ontvou ’n donker en bonatuurlike verhaal van geloof, vrees en vervloeking. Met skitterende spel en intense atmosfeer herinner Hen aan The Omen en Rosemary’s Baby – ’n film wat lank ná die laaste toneel bly spook.
Carissa: Een legkaartstukkie van háár lewe
Carissa (2025), ’n stadige maar visueel pragtige rolprent oor plattelandse lewe, familie, eenvoud en die ritme van menswees.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging