Jungle Beat: The Movie – ‘n Anderse soort Afrikaverhaal oor vriendskap

Resensie
Wat het ‘n olifant, apie, krimpvarkie, renoster, kameelperd, padda, volstruis en ‘n eiesoortige wese uit die buitenste ruimte in gemeen? Seker nie veel nie, maar in hierdie gesinsvriendelike film, Jungle Beat: The Movie, gaan dié karakters op ‘n mallemeule avontuur. Sedert 2005 is mini-episodes van hierdie Afrikaverhaal oor agt seisoene in 200 lande op televisie (en wêreldwyd aanlyn) uitgesaai. Met ‘n onlangse wêreldwye vollengte vrystelling, is Jungle Beat reg om ‘n permanente merk te laat in die harte van miljoene jongspankykers.
Die diere in hierdie Afrikakoningkryk is verbaas om een oggend wakker te word en te besef hulle kan skielik praat – in “mensetaal”. Hulle besef dan dat hierdie towerkrag van die oulike Fneep, die blou wese van die planeet Scaldra, kom, nadat hy op Aarde geland het. Maar wat is die werklike rede vir Fneep se besoek op Aarde, vra jy? Wel, hy is eintlik op ‘n spesiale ekspedisie gestuur om die Aarde oor te neem en daardeur ook al die wesens (mens en dier) uit te wis. *Las dramatiese “dum-dum-dum-klaviernote” hier.*
Tog, as gevolg van sy sagte geaardheid sukkel Fneep om sy missie suksesvol te voltooi . Hy leer ken die aardbewoners van naderby en ‘n spesiale vriendskap vorm tussen hom en die ander karakters. Dis wanner Fneep se pa, die heerser Grogan, op Aarde arriveer om sy seun aan te por om Aarde vir eens en altyd in te neem, dat Fneep en die diere kragte saamsnoer om die Scaldranians te wys dat vrede en liefde dalk tóg kan oorwin.

Hierdie animasieprent is verseker meer op die voorskoolse gehoor gemik (jammer ouers, julle mag dalk ‘n uiltjie wil knip na ‘n paar minute). Die hoofwildebees, ‘n regte “Prima Donna”, sal die ouer gehoor dalk so bietjie laat giggel, maar verder is daar nie eens een “grootmensgrappie” nie. Die karakters en beelde is super helder en kleurvol en sal die jongspan se ogies laat blink van opwinding. Die karakters is baie uiteenlopend – van die norse krimpvarkie tot die baba-volstruisie wat droom daarvan om te kan vlieg. Die kleinspan sal hul gunstelingkarakter kan kies en terselfdertyd belangrike lewenslessies kan leer saam met mamma en pappa. Temas soos eensaamheid, liefde, spanwerk en vriendskap vorm die kern van die verhaal.
Die grootste kritiek is dat die film op die Afrika-vasteland afspeel, maar dat die karakters in Amerikaanse aksente praat. Mango Groove se ‘Special Star’ word deurgaans gehoor, wat wonderlik werk (en definitief stukke beter as Natasha Bedingfield se temalied is) maar hoekom nie die Afrika-element deurtrek na die stemtalent nie?
Animasie rolprente met diere in het net ‘n ander uitwerking op die emosies. Dink maar aan die ikoniese Lion King en die meer onlangse Madagascar. Sluit daarby ‘n ET-agtige karakter in, en Jungle Beat: The Movie het ‘n wenkombinasie beet wat vriendskap oor grense heen vier. Die skrywer en regisseur, Brent Dawes (van Sunrise Productions), wapper die Suid-Afrikaanse vlag met trots met hierdie internasionale projek en bewys weereens dat ons oor die talent en dryfkrag beskik om Hollywood-gehalte produksies te lewer.
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
A
Rolverdeling
Ed Kear, David Menkin, Ina Marie Smith, John Guerrasio, Jason Pennycooke, David Rintoul, Lucy Montgomery en Florrie Wilkinson
Sterre
3.5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Dee Theart
Verdere Resensies
Bloedhond – Heerlike bangmaak-vermaak vir Halloween-maand
Bloedhond is ’n bloederige, spanningsvolle Afrikaanse gruwelfliek vol koue rillings, donker humor en onverwagse wendings – perfek vir Halloween, met sterk spel deur Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz en Kevin Peyper, en beskikbaar op eVOD.
Hen – Rasend honger en stilweg boos.
Hen is ’n senutergende Afrikaanse riller deur Nico Scheepers met Stian Bam, Amalia Uys en Dawian van der Westhuizen. Op ’n afgeleë plaas in die laat 19de eeu ontvou ’n donker en bonatuurlike verhaal van geloof, vrees en vervloeking. Met skitterende spel en intense atmosfeer herinner Hen aan The Omen en Rosemary’s Baby – ’n film wat lank ná die laaste toneel bly spook.
Carissa: Een legkaartstukkie van háár lewe
Carissa (2025), ’n stadige maar visueel pragtige rolprent oor plattelandse lewe, familie, eenvoud en die ritme van menswees.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging