Daryn’s Gym – Dié gim sorg vir groot sports

Resensie
Daryn’s Gym handel oor ‘n derdegenerasie familie-gimnasium in Randburg, wat skielik sukkel om sy deure oop te hou nadat ‘n veel groter, nasionale fiksheidsentrum beplan om oorkant hulle oop te maak.
Daryn Jr, gespeel deur Clifford Joshua Young, is glad nie die tipe man wat jy sou verwag om ‘n gim te besit nie, maar hy het in sy pa se voetspore gevolg na dié se dood. Terwyl ons kan aflei dat sy pa baie suksesvol was, het tye intussen verander, en met die koms van groter-is-beter-sentrums, hou dit nie goeie nuus in vir kleiner besighede nie. Aan die ander kant het ons vir Funi, briljant vertolk deur Hlubi Mboya, wat vasbeslote is om Daryn en sy span uit die weg te ruim, om sodoende van enige en alle kompetisie ontslae te raak. En terwyl kompetisie nie altyd ‘n slegte ding is nie, beteken dit nie Funi speel nie vuil nie. Sy het klaarblyklik geen gewete nie, en deur die verloop van die film sien ons hoe sy verskeie ‘lae’ houe uitdeel om haar sin te kry.
Maar hoewel Daryn nie die meeste besigheidsvernuf het nie, het hy wel deursettingsvermoë, ‘n hernude droom om sy oorlede pa trots te maak, en ‘n span staatmakers wat hom wil help om te slaag.
Die bekroonde Brett Michael Innes staan aan die stuur van hierdie film (vervaardiger, skrywer én regisseur), wat in die styl van ‘n mokumentêr geskiet is – dink The Office, Summer Heights High en Modern Family. ‘n Mokumentêr, of dokukomedie is ‘n tipe film of TV-reeks wat fiksie uitbeeld maar dit as ‘n dokumentêr aanbied. Sulke produksies word dikwels gebruik om kommentaar te lewer op huidige gebeure en kwessies, of as parodie op die dokumentêre vorm self.

Komedie word alom beskou as een van die moeilikste genres, maar daar is ‘n baie fyn lyn tussen ‘n komedie, en ‘n drama wat deur die gehoor as snaaks beskou word as gevolg van die absurdheid van die karakters en hul doen en late. Als begin by die teks, die akteurs moet natuurlik oortuigend wees en die kamerawerk help ook om die kyker reg te oriënteer, omdat spesifieke tegnieke ingespan word. Innes slaag in al drie kategorieë.
Elke akteur het hul ongelooflik goed van hul taak gekwyt, soveel so dat dit moeilik is om een uit te sonder. Ek dink wel omdat soveel uiteenlopende karikature en stereotipes in die karakters weerspieël word, mag elke kyker sy eie gunstelinge hê. Myne was Bianca, Daryl se suster (moeiteloos gespeel deur Carla Classen, asof die rol vir haar geskryf is). Bekende akteurs soos Natasha Sutherland, Hlubi Mboya, Siv Ngesi en Deon Coetzee sit ook nie ‘n voet verkeerd nie, en sorg vir heelparty skreeusnaakse oomblikke.
Omdat die mokumentêr die gek skeer met die dokkie, onderbreek die tipiese musiek-komponent gewoonlik. En dis ook die geval met Daryn’s Gym. Die fliek het slegs ‘n temalied, Don’t Stop, wat deur Loki Rothman gekomponeer is, en eers aan die einde van die fliek gespeel word. Dis ‘n regte goedvoel-somervakansie liedjie wat die potensiaal het om ‘n groot treffer op die luggolwe te wees dié Desember.
Na nóg ‘n vieslike jaar van die gogga wat ons almal se lewens kom ontwrug het, het ons nou meer as ooit vermaak en ontvlugting nodig. Daryn’s Gym beloof om daai versteende lagspiere weer los te wikkel.
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
A
Rolverdeling
Clifford Joshua Young, Hlubi Mboya, Ayanda Seoka, Siv Ngesi, Natasha Sutherland, Deon Coetzee, Carla Classen, William Harding, Mphumzi Nontshinga
Sterre
3/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout
Verdere Resensies
Bloedhond – Heerlike bangmaak-vermaak vir Halloween-maand
Bloedhond is ’n bloederige, spanningsvolle Afrikaanse gruwelfliek vol koue rillings, donker humor en onverwagse wendings – perfek vir Halloween, met sterk spel deur Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz en Kevin Peyper, en beskikbaar op eVOD.
Hen – Rasend honger en stilweg boos.
Hen is ’n senutergende Afrikaanse riller deur Nico Scheepers met Stian Bam, Amalia Uys en Dawian van der Westhuizen. Op ’n afgeleë plaas in die laat 19de eeu ontvou ’n donker en bonatuurlike verhaal van geloof, vrees en vervloeking. Met skitterende spel en intense atmosfeer herinner Hen aan The Omen en Rosemary’s Baby – ’n film wat lank ná die laaste toneel bly spook.
Carissa: Een legkaartstukkie van háár lewe
Carissa (2025), ’n stadige maar visueel pragtige rolprent oor plattelandse lewe, familie, eenvoud en die ritme van menswees.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging