Klein Karoo 2 – Warm, Afrikaanse Liefde

Resensie
Agt jaar later kry ons uiteindelik die kans om uit te vind wat gebeur het met Frans (Tim Theron) en sy liefdeslewe. In die vorige fliek het dit gelyk of hy en Cybil (Donnalee Roberts) lank en gelukkig saam sou lewe (soos die sprokies sê). Maar helaas, hy is die ongelukkige siel wat herhaaldelik deur vroulief voor die kansel gelos word om te vergaan in eensaamheid.
Met Klein Karoo 2 gaan ons terug na die oorspronklikke wêreld van Frans, Bongi (Sisanda Henna), Jackie (Leandie du Randt) en Tarryn (Nicole Fortuin). Die filmspan wat dokumentêre flieks verfilm om ‘n verskil te maak. Hierdie keer bevind Frans homself in ‘n verhouding, in die warm Karoo, met Chloë (Marciel Hopkins) en wonder ons of die man uiteindelik iemand sal vind wat langs hom sal bly staan voor die kansel. Dit vind alles plaas in ons agtertuin, in die Klein Karoo – wat fantastiese reȅn gehad het voor die verfilmingstydperk en dus ʼn wonderskone prentjie op die skerm skep.
Die draaiboek is geskryf deur Lize Vosloo wat bekend staan vir Nul is nie niks nie (2017) en Raaiselkind (2017). Dan is die regie behartig deur Liezl Spies, regisseur van vele televisiereekse soos Die Sentrum (2021), Projek Dina (2020), Die Byl (2019) en Sara se Geheim (2017).

Die toneelspel in hierdie film is van hoë gehalte. Dit is verblydend, want goeie toneelspel skiet soms tekort in die Afrikaanse romantiese komedie genre. ʼn Mens kan selfs die ondersteunende karakters se verhoudings en mannewales geniet. Met die regie wat die toneelspel komplimenteer, wonder mens net soms of sekere tonele dalk ‘n bietjie vinniger kon plaasvind en oorbeweeg na ʼn punt waar die groot “wat gebeur volgende” vraag beantwoord word.
Die klank en kinematografie is van internasionale gehalte en dus kan jy vir ‘n slag weer trots wees om te sê die Afrikaanse filmgemeenskap het ‘n hoë gehalte produksie opgelewer. Jorrie van der Walt (kinematograaf) se kamerawerk beweeg saam met die storie en komplimenteer die oorgang van een toneel na die volgende. Die beligting is sag op die oog en laat die Karoo-wêreld pragtig lyk. Dit is die handewerk van Brandon Daniels wat al op vele internasionale produksies gewerk het. Die klank (Leith Morkel) is ook helder en duidelik en bring heelwat van die Karoo se identiteit mooi na vore. In dieselfde asem speel musiek ʼn sterk rol in die rolprent. Helmut Meijer en Stonebear & Mayor het die klankbaan oorsien en dit word ondersteun deur kunstenaars soos Tim Theron, Karen Zoid en Demi Lee Moore.
Klein Karoo 2 is sterk aan die romantiese komedie genre geanker en volg die konvensies daarvan haarfyn. Tog is die Karoo en om op ʼn plaas tussen skape, boere en beskuit te wees dalk net die regte resep vir ons Suid-Afrikaners na twee jaar van ‘n pandemie. Iets lighartig en positief wat ons herinner dat daar meer aan die wêreld is as net die oppervlakkige waarmee ons daagliks gekonfronteer word.
Klein Karoo 2 is beskikbaar op DSTV Box Office.
Meer Inligting
Speeltyd
100 min
Skrywer en Regisseur
Lize Vosloo| Liezl Spies
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
PG
Rolverdeling
Leandie du Randt, Nicole Fortuin, Sisanda Henna, Tim Theron, Marciel Hopkins
Sterre
3.5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Rick Bronkhorst
Verdere Resensies
Street Trash – waar bloed nie rooi (of blou is nie), maar alle neonskakerings!
Street Trash (2025) – ’n neonbelaaide, gruwelkomedie in ’n distopiese Kaapstad wat bloed, satire en sosio-politiese kommentaar meng vir ’n wilde, onvergeetlike rit.
Jungle Beat 2 – heerlike animasie-vermaak vir die jongspan
Jungle Beat 2: The Past is kleurvolle animasie-vermaak propvol avontuur, dinosourusse en lewenslesse vir kinders. Lees ons resensie oor hierdie Afrikaanse storie wat jong en ou kykers op ’n prettige tydreis neem.
A Kind of Madness – ʼn Pragtigeblik op herinneringe van dae lank gelede
A Kind of Madness is ’n roerende Afrikaanse fliek oor demensie, liefde en herinnering. Met sterre soos Sandra Prinsloo en Ian Roberts, bied die film ’n meesleurende blik op ouerword, familie en die krag van ware liefde. Lees ons volledige resensie.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging