Five Fingers for Marseilles – Welverdiende vyfsterfilm

Resensie

22/10/2022

Dit gebeur nie al dag dat ek uitsien na ’n produksie wat in ‘n taal verfilm is wat ek nie verstaan nie. Nog minder as dit blyk asof Suid-Afrika se grusame onlangse verlede op die voorgrond van die plot is. Daar was egter iets omtrent die titel van hierdie film wat my gelok het.

Five Fingers for Marseilles handel oor ’n bende – die Trompie tipe (vir eers). Vyf maats wat gereed staan met ketties in die sak. Hulle, die “Five Fingers”, het aan mekaar beloof om hul dorp, Marseilles in die Vrystaat, te beskerm teen die onregmatige uitbuiting van hulle hardwerkende dorpsburgers deur die destydse SAPD. Op ’n goeie dag ontvlam die rebellie egter tot stoomrollende omstadighede en Tau, die “Leeu van Marseilles”, maak himself skuldig aan moord.

Etlike jare na Tau se uiendelike vrylating, keer hy terug na sy tuisdorp en vind sy drie maats in uiteenlopende gesagsrolle na die afsterwe van die vierde. Dit blyk of die stryd na vryheid en vrede in die verlede is, siende dat “Pockets” die burgemeester van die dorp is, “Cockroach” as die polisiehoof optree en “Pastor” die plaaslike pastoor is. Die werklikheid dat die dorp in die greep van ’n nuwe bose vrees is, kom vining aan die lig; ’n vrees wat deur Tau se destydse vriende toegelaat is om die dorp te beset. Tau besef dat hy opnuut sal moet veg. Alhoewel hy daarop staatgemaak het om sy sondige lewe in die gevangenis te laat, beskou hy dit as sy plig as die “Leeu van Marseilles” – al beteken dit ook dat hy moontlik teen vriende van sy kinderjare moet draai.

Vanuit die staanspoor is die produksie van Five Fingers for Marseilles indrukwekkend. Die gehoor word onmiddelik blootgestel aan kinematografie wat strategies bydra tot die milieu van ’n koue en verlate atmosfeer. Dit word veral duidelik dat die produksiespan noukeurig aandag gegee het aan alle fasette van die film, wanneer die geruisel van gruis onder doelbewuste treë van die karakters ritmies geredigeer is. Die emosie van die kragtige klankbaan word ook glad nie versteur nie. Elke kledingstuk en rekwisiet dra tot die onvergeeflike, brutale eerlikheid van die film by. ’n Eerlikheid wat nie sommer te bespeur word in ’n Suid-Afrikaanse produksie nie.

Alhoewel daar ’n handjievol oomblikke ten opsigte van die toneelspel en redigering is wat die kritiese kyker sal laat gruwel, is die produksie as ’n geheel een van die grootste meesterstukke wat die Suid-Afrikaanse filmindustrie teweë gebring het. Van begin tot einde word die gehoor in die omstandighede gedompel sonder om die geleentheid gebied te word om nie in die verhaal te belê nie – ’n kenmerk van ’n Oscar-kompeterende produksie. Sonder om dit direk aan te spreek, word daar ’n fokus geplaas op hoe die verlede homself herhaal as daar nie aktief besluit word om dit te verhoed nie. Five Fingers for Marseilles is meer as ’n triomf; dit is ’n revolusionêre opstand teen middelmatigheid in die filmindustrie en teen pasiwiteit in jou wese.

Meer Inligting

Speeltyd

120 min

Skrywer en Regisseur

Sean Drummond | Michael Matthews

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

16 L V

Rolverdeling

Vuyo Dabula, Hamilton Dhlamnini, Zethu Dlomo, Kenneth Nkosi, Mduduzi Mabaso, Aubrey Poolo, Lizwi Vilakazi, Warren Masemola, Dean Fourie, Kenneth Fok, Brendon Daniels, Anthony Oseyemi, Jerry Mofokeng

Sterre

5/5

Loket

Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren

Professor Anna-Marie Jansen van Vuuren is ’n senior dosent en navorsingskoördineerder vir die Film- en Visuele Kommunikasie-program by die Fakulteit van Kuns by die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Sy spesialiseer in navorsing oor temas soos “identiteit” en “uitbeelding” in Suid-Afrikaanse rolprente—maar in eenvoudige taal: Is sy lief vir flieks en hou daarvan om dit diep te bestudeer.

Verdere Resensies

Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos

Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos

Hunting Jessica Brok is ’n intense Suid-Afrikaanse aksierolprent oor ’n voormalige elite-soldaat (Danica Jones) wat haar donker verlede in die gesig staar wanneer ’n sadistiese vyand (Richard Lukunku) terugkeer vir wraak. Propvol ontploffings, gevegte en nagbytende spanning. Regie deur Alastair Orr. ’n Brutale, stylvolle aksiefliek wat maklik met Hollywood meeding.

read more
Finding Optel – Optel mag dalk weg wees, maar die humor is beslis nie!

Finding Optel – Optel mag dalk weg wees, maar die humor is beslis nie!

Finding Optel is ’n hartroerende en snaakse Suid-Afrikaanse komedie-drama oor ’n tienermeisie wat haar buurt se verlore hond soek — en haarself in die proses vind. Onder die regie van Jesse en Mikayla Joy Brown, met uitmuntende spel deur Mikayla Brown, Oscar Petersen en Maurice Carpede. ’n Vars, kleurvolle en menslike fliek vol humor en hoop.

read more
Kopiereg © 2025 Bioskoop Flieks NWM. Alle Regte Voorbehou. | Gemaak met deur Rick Bronkhorst