Five Fingers for Marseilles – Welverdiende vyfsterfilm
Resensie
Dit gebeur nie al dag dat ek uitsien na ’n produksie wat in ‘n taal verfilm is wat ek nie verstaan nie. Nog minder as dit blyk asof Suid-Afrika se grusame onlangse verlede op die voorgrond van die plot is. Daar was egter iets omtrent die titel van hierdie film wat my gelok het.
Five Fingers for Marseilles handel oor ’n bende – die Trompie tipe (vir eers). Vyf maats wat gereed staan met ketties in die sak. Hulle, die “Five Fingers”, het aan mekaar beloof om hul dorp, Marseilles in die Vrystaat, te beskerm teen die onregmatige uitbuiting van hulle hardwerkende dorpsburgers deur die destydse SAPD. Op ’n goeie dag ontvlam die rebellie egter tot stoomrollende omstadighede en Tau, die “Leeu van Marseilles”, maak himself skuldig aan moord.
Etlike jare na Tau se uiendelike vrylating, keer hy terug na sy tuisdorp en vind sy drie maats in uiteenlopende gesagsrolle na die afsterwe van die vierde. Dit blyk of die stryd na vryheid en vrede in die verlede is, siende dat “Pockets” die burgemeester van die dorp is, “Cockroach” as die polisiehoof optree en “Pastor” die plaaslike pastoor is. Die werklikheid dat die dorp in die greep van ’n nuwe bose vrees is, kom vining aan die lig; ’n vrees wat deur Tau se destydse vriende toegelaat is om die dorp te beset. Tau besef dat hy opnuut sal moet veg. Alhoewel hy daarop staatgemaak het om sy sondige lewe in die gevangenis te laat, beskou hy dit as sy plig as die “Leeu van Marseilles” – al beteken dit ook dat hy moontlik teen vriende van sy kinderjare moet draai.
Vanuit die staanspoor is die produksie van Five Fingers for Marseilles indrukwekkend. Die gehoor word onmiddelik blootgestel aan kinematografie wat strategies bydra tot die milieu van ’n koue en verlate atmosfeer. Dit word veral duidelik dat die produksiespan noukeurig aandag gegee het aan alle fasette van die film, wanneer die geruisel van gruis onder doelbewuste treë van die karakters ritmies geredigeer is. Die emosie van die kragtige klankbaan word ook glad nie versteur nie. Elke kledingstuk en rekwisiet dra tot die onvergeeflike, brutale eerlikheid van die film by. ’n Eerlikheid wat nie sommer te bespeur word in ’n Suid-Afrikaanse produksie nie.
Alhoewel daar ’n handjievol oomblikke ten opsigte van die toneelspel en redigering is wat die kritiese kyker sal laat gruwel, is die produksie as ’n geheel een van die grootste meesterstukke wat die Suid-Afrikaanse filmindustrie teweë gebring het. Van begin tot einde word die gehoor in die omstandighede gedompel sonder om die geleentheid gebied te word om nie in die verhaal te belê nie – ’n kenmerk van ’n Oscar-kompeterende produksie. Sonder om dit direk aan te spreek, word daar ’n fokus geplaas op hoe die verlede homself herhaal as daar nie aktief besluit word om dit te verhoed nie. Five Fingers for Marseilles is meer as ’n triomf; dit is ’n revolusionêre opstand teen middelmatigheid in die filmindustrie en teen pasiwiteit in jou wese.
Meer Inligting
Speeltyd
120 min
Skrywer en Regisseur
Sean Drummond | Michael Matthews
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
16 L V
Rolverdeling
Vuyo Dabula, Hamilton Dhlamnini, Zethu Dlomo, Kenneth Nkosi, Mduduzi Mabaso, Aubrey Poolo, Lizwi Vilakazi, Warren Masemola, Dean Fourie, Kenneth Fok, Brendon Daniels, Anthony Oseyemi, Jerry Mofokeng
Sterre
5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren
Verdere Resensies
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
“The Trek” resensie: ‘n Karoo-western oor die Uys-gesin se wraaksugtige reis. Meekaaeel Adam se debuut.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



