Beyond The Light Barrier – ʼn Buitengewone Verhaal
Resensie
Beyond the Light Barrier, vernoem na die gelyknamige topverkoper deur die Suid-Afrikaner, Elizabeth Klarer, skep uitdaging tot uitdaging vir die dokumentêre rolprentmaker. Eerstens: Hoe vertel jy die buitengewone verhaal van ʼn vrou wat sweer dat sy die kind van ʼn ruimtewese gebaar het? Hoe dramatiseer jy die tonele waarvan die sprekers in die onderhoude praat? En, laastens, hoe vertel jy die verhaal van ʼn vrou wat reeds in 1994 oorlede is?
Die laaste vraag wat opgekom het, was glo die maklikste een om te oorbrug. Klarer het in die vroeë negentigs ʼn diepte onderhoud aan rolprentmakers toegestaan waarin sy haar storie aan hulle vertel het. Carlini het grepe uit hierdie lang onderhoud gesny en deurgaans deur haar storie, en onderhoude met Klarer se familie, vriende en kennisse, vervleg.
Die volgende een is ʼn taaier toffee. In ʼn dokumentêr verwag die kyker dat jy hom of haar moet vermaak. En dit kan nie gebeur as jy onderhoud na onderhoud net in die sprekers se gesigte vaskyk nie. Dis waarom dokumentêre rolprentmakers al dekades gelede die tegniek vervolmaak het om die toneel waarvan die spreker praat te “dramatiseer”, of altans, op die skerm uit te beeld. Maar hoe gemaak om Akon, Klarer se ruimte-minnaar, op skerm voor te stel sonder dat die fliek heeltemal in ʼn klug ontaard?
Carlini het op kreatiewe manier te werk gegaan en strokiesprent-animasie gebruik om hierdie tonele uit te beeld. Al het niemand buiten Klarer al vir Akon gesien nie, was Klarer ʼn skilder. Klarer se portret van Akon gee inspirasie vir die kunstenaar Carmen Ziervogel. Haar gekleurde strokiesprente flits oor die skerm terwyl ons hoor hoe Klarer self die haar onderskeie ervarings met ruimtewesens met ons deel. Die eerste ervaring, waartydens sy ʼn vlieënde piering gesien het, het glo al op die ouderdom van sewe gebeur.
Die grootste tameletjie is egter om hierdie storie met genoeg gravitas te vertel, sonder om dit sommer net as ʼn wolhaarstorie af te maak. Jare se navorsing steun Carlini in hierdie taak. As kykers sien ons self stukke uit die korrespondensie wat Klarer met buitelandse navorsers en selfs die Suid-Afrikaanse lugmag gehad het. Verder het die rolprentmakers dwarsoor die wêreld gereis om met rolspelers en kenners te praat wat kan lig werp op hierdie besonderse verhaal, selfs tot by Tjernobil in die Oekraïne. Tog was die onderhoud wat my die meeste aangegryp het die een met haar seun, haar aardse seun, wat self ook steeds probeer om hierdie gebeure vir homself uit te pluis.
My enigste kritiek op die film is dat dit my ervaring was dat die verteller, John Kani (met sy groot persoonlikheid) net soms die skerm te veel oorheers. Dit was tog vir my Elizabeth Klarer se storie. Verder kan ek ʼn opstel skryf oor al die wonderlike tegniese elemente, soos Charl-Johan Lingenfelder en die maatskappy Audio Militia se klankbaan, asook die pragtige natuurskote van kinematograaf Georgia Court. Tog laat ek dit eerder aan jou oor as ʼn kyker om dit self te ervaar. (Selfs al sluk jy swaar aan dié storie, is dit werklik die moeite werd om die dokumentêr te kyk vir die besonderse natuurtonele van die Kwazulu-Natalse Middelande. Hierdie lugskote is iets wat ons nie dikwels op skerm te sien kry nie).
Op die ou end kan ek die fliek só opsom, deur die woorde van een van die dokkie se sprekers: “It brings some magic to the otherwise ‘excel spreadsheet and e-mail’-filled lives that we currently find ourselves in”.
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
10-12 PG
Rolverdeling
Elizabeth Klarer, John Kani, verskeie ander.
Sterre
4/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren
Verdere Resensies
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
“The Trek” resensie: ‘n Karoo-western oor die Uys-gesin se wraaksugtige reis. Meekaaeel Adam se debuut.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



