Gaia – Wie is vriend en wie is vyand?
Resensie
Wie is vriend en wie is vyand? Dít is die vraag wat Gaia vra in dié fliek se uitbeelding van die stryd tussen mens en die aarde.
Gaia word beskou as ʼn ekologiese riller waarin die woud, of Moeder Aarde self, teen die mensdom draai. Die titel “Gaia” verwys juis na die aard-godin in Griekse mitologie.
Twee natuurbewaarders, Gabi (Monique Rockman) en Winston (Anthony Oseyemi) is op ‘n roetine-patrollie in ʼn wildernisgebied toe hul hommeltuig êrens in die bos neerstort. Nes dit ʼn goeie riller betaam, moet hulle gaan ondersoek instel, met gruwelike gevolge.
Op haar speurtog ontdek Gabi onder meer ʼn pa en seun, Barend (Carel Nel) en Stefan (Alex van Dyk) wat in ʼn houthuis bly en ʼn vreemde, godsdienstige verhouding met die natuur het. Dis gou duidelik dat daar meer vrae as antwoorde is, en ook dat die fliek self meer te sê het oor ons rol (en rang) op die aarde.
Gaia het reeds ʼn rits toekennings ontvang, onder meer by die onlangse Silwerskermfees vir beste regie (Jaco Bouwer), beste redigering (Leon Visser), beste grimering en haarstilering (Sulani Saayman), beste klankmeng (Tim Pringle) en beste vollengte rolprent.
Die musiek en byklanke is onheilspellend, en veral ook die spesiale effekte deur Motif Studios se Wim van der Merwe is verbasend en verfrissend goed gedoen, en getuig waarom hierdie gruwelrolprent reeds met soveel pryse bekroon is.
Die akteurs stel nie teleur nie, en veral Rockman as Gabi lewer ʼn puik vertoning. Ek sou graag meer van Oseyemi in sy rol as Winston wou sien aangesien hy ʼn groot leemte op die skerm laat nadat hy vroeg uit die storie verdwyn. Vir die eerste paar tonele waarin hy wel verskyn, het ek sy karakter boeiend gevind.
Heelwat droomsekwense ruk die kyker en vervaag die lyn tussen realiteit en fantasie in die rolprent, terwyl ons aan die einde besef dat dit op Gabi se voorafskaduwing dui van wat wel later vir haar ʼn werklikheid sal word.
Hierdie is nie ʼn film wat jy al in Afrikaans sou aanskou het nie. Ek dink tog die teks self help nie altyd om die storie in die regte rigting te stuur nie, tensy dit bedoel was om al die vrae sonder antwoorde nog meer te versterk, en te dui op die vrae wat ons onsself behoort te vra oor die wêreld waarin ons leef en wat ons wil nalaat. Ek wonder of ʼn selfs dunner teks nie meer plek sou laat vir die pragtige visuele om die storie beter te vertel nie. In ieder geval, dink ek die storie agter die storie is dieper as die bos. Aan die einde is die vraag waarmee Gaia ons laat: Is Gabi se lot ook ʼn voorafskaduwing van wat uiteindelik van ons as mensdom sal word as ons nie beter na die aarde kyk nie?
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
16 V S N L
Rolverdeling
Monique Rockman, Carel Nel en Alex van Dyk
Sterre
3/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout
Verdere Resensies
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
“The Trek” resensie: ‘n Karoo-western oor die Uys-gesin se wraaksugtige reis. Meekaaeel Adam se debuut.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



