Susters op sloertoer: Soet, maar sonder skop

Resensie

05/05/2025

Die Kwiksilwers is ’n ligte komedie vir die hele gesin. Jordy Sank is die regisseur, en hy het die draaiboek saam met Gabriella Blumberg en Marista van Eeden geskryf. Hy is ook saam met Blumberg die vervaardiger van die fliek.

Die storie volg Elsabé Marais (fantasties gespeel deur veteraan Lida Botha), ’n weduwee in haar tagtigs, wat saam met haar drie vriendinne – Anna (netso briljant vertolk deur June van Merch), Mienkie (Susanne Beyers) en Katie (Theresa Sedras) – ’n padreis (of sloertoer) deur die Karoo meemaak om na ʼn meteorietstorting in Sutherland te gaan kyk. (Dit is iets wat nog ook hoog op my eie emmerskoplysie is). Hulle moet terselfdertyd ook Elsabé se oorbeskermende seun, Wikus (Jacques Bessenger), wat kort op hul hakke is, slim ontduik.

Terwyl die kyker die werdervaringe van die vier bejaarde vroue volg, ondersoek die fliek temas soos verlies, vriendskap, vryheid, tweede kanse, uiteenlopende persoonlikhede, om uiteindelik te laat gaan waaraan jy vir te lank vasgeklou het, en die reg om voluit te leef – ongeag jou ouderdom.

Dis wel die eerste van sy soort waarvan ek weet in Afrikaans, buiten vir Susters, Corné van Rooyen se 2018 fliek waar drie jong volwasse vroue só ʼn reis onderneem het. Tog herinner dié ouer ensemble in Die Kwiksilwers sterk aan baie snaakse Amerikaanse flieks soos 80 for Brady, die Book Club, en Book Club: The Next Chapter, waarin van die wêreld se heel beste en bekendste aktrises, onder meer Jane Fonda gespeel het, én histeries was!

Die musiek deur Edward George King, kamerawerk deur Gavin Pincus en redigering deur Esther Badenhorst is puik, en die storie uniek Afrikaans, so erkenning is beslis verskuldig aan Marista van Eeden wat dit reggekry het om die humor en fyn nuanse so goed te verwerk en te weerspieël in die teks – dit sou net nooit in Engels so goed geslaag het nie. Daar is woorde wat ek lanklaas – of dalk selfs nog nooit gehoor het nie, hierin. 

Twee hoogtepunte was die 1975 Ford Granada (wát ‘n pragtige motor!) en die uitgestrekte landskap van die Karoo, wat beide sleutelrolle speel en so te sê karakters op hul eie is. Die motor dien as ’n emosionele herinnering aan haar oorlede man en hul vorige avonture, terwyl die uitgestrekte uitspansel van die Karoo die karakters se emosionele reis weerspieël en ook as ʼn perfekte einde vir die fliek dien waar ʼn sekere “vryheid” uiteindelik aan die orde van die dag is.

Die storie het beslis sy oomblikke, hoewel die komedie hier en daar ietwat geforseerd of absurd gevoel het. En dalk, net dalk, het ek ʼn storie met meer om die lyf verwag. Twee sinne wat vir my in die rolprent uitgestaan het was: “Ken jou krag, suster” en “Daai’s ʼn plooi – comes with age.” Maak daarvan wat jy wil, maar aan die einde van die dag is dit ʼn sogenaamde “goedvoel film” wat beslis ‘n kykermark sal hê.

Meer Inligting

Speeltyd

90 min

Skrywer en Regisseur

Jordy Sank, Gabriella Blumberg en Marista van Eeden | Jordy Sank

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

10-12 PG

Rolverdeling

Lida Botha, June van Merch, Susanne Beyers, Theresa Sedras en Jacques Bessenger

Sterre

2.5/5

Loket

Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout

Roelof Bezuidenhout is tans die Video Produksiebestuurder en Storie-redakteur by die EDUNAKHO-groep, ’n wêreldwye opvoedkundige mediamaatskappy wat voornemende MBA- en meestersstudente ondersteun. Hy het voorheen die Hoër Sertifikaat-kursus in Film, Televisie en Vermaak by AFDA in Gqeberha (Port Elizabeth) gelei, waar hy ook sy MFA verwerf het, en hy het akademiese rolle by beide AFDA en Boston Media House beklee.

Verdere Resensies

Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos

Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos

Hunting Jessica Brok is ’n intense Suid-Afrikaanse aksierolprent oor ’n voormalige elite-soldaat (Danica Jones) wat haar donker verlede in die gesig staar wanneer ’n sadistiese vyand (Richard Lukunku) terugkeer vir wraak. Propvol ontploffings, gevegte en nagbytende spanning. Regie deur Alastair Orr. ’n Brutale, stylvolle aksiefliek wat maklik met Hollywood meeding.

read more
Kopiereg © 2026 Bioskoop Flieks NWM. Alle Regte Voorbehou. | Gemaak met deur Rick Bronkhorst