Semi-Soeter – meer lag as logika

Resensie
Semi-Soeter bring vir die geliefde karakters Jaci en JP terug in ’n opvolgrolprent wat gevul is met voorgee-ouerskap en ’n paar emosionele oomblikke. Waar hulle in die vorige rolprent ʼn verhouding geveins het om ʼn kontrak los te slaan, neem hulle hierdie keer deel aan ’n bemarkingsaanbieding vir ’n baba-handelsmerk genaamd ‘YBAB.’ Toe JP en Jaci uitvind dat JP se aartsvyand van skool, Joubert (Neels van Jaarsveld) hulle kompetisie is om die kontrak te wen, tree hulle vriende in en leen vir die paartjie hulle baba. Jaci en JP is dan vasgevang in ʼn (wit)leuen(tjie) van voorgee-ouerskap vasgevang om die voorstander van YBAB, Marietjie, vertolk deur Hélène Truter, te beïndruk.
So moet Jaci en JP ’n klomp struikelblokke oorkom om te bewys dat hulle regtig die ouers van die baba is, en om Marietjie te van hul passie vir familie en gesinslewe oortuig . Intussen leer hulle dat dit nie so maklik is om na ’n baba om te sien nie – en die gehoor moet vele toilethumorgrappies trotseer. Van die ander loopgrappe, wat ons liewer nie nou wil weggee nie, werk soms goed, maar begin later herhalend voel. Dit is grootliks weens die sterk Amerikaanse invloed in die styl van humor wat veroorsaak dat ’n groot deel van die grappies neig na fisiese slapstick. Alhoewel dit dalk nie by almal sal aanklank vind nie, sal die ouer generasie Afrikaanse kykers dit waarskynlik meer waardeer asook die oorsese kykers wat dit heel moontlik op Netflix sal verslind.

Die Afrikaanse klankbaan is ’n hoogtepunt — eg, gepas en gevul met nuanse. Dit help veral om die sterk Hollywood romcom invloed teen te werk. Gelukkig bring bekendes soos Louw Venter en Sandra Vaughn die Suid-Afrikaanse gevoel terug.
Die bykarakters is ook ’n mengelmoes van hits en misses – soos die Amerikaanse glam-ouma wat soms ’n bietjie na kitsch neig. Dit is ’n plesier om Hélène Truterop die skerm te sien. Verder is Neels van Jaarsveld en Diaan Lawrenson briljant snaaks. Daar is geen beter manier om hul karakters te beskryf as om te noem wat hulle baba se naam in die film is nie… (Wag vir dit, haal diep asem in)… Chardonnay! Hulle wérk net as ’n paartjie! Vervaardigers, kan ons dalk ’n “Semi-Sout” opvolg kry wat fokus op hul lewens met die ou babatjie, Chardonnay?
Anel Alexander en Nico Panagio speel die hoofkarakters, Jaci en JP. Hulle was een van die eerste power couples van die Afrikaanse silwerdoek na die opbloei van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf in 2010. Hul vertolkings pas by die rolprent se styl – gemaklik, natuurlik en met net die regte balans tussen humor en emosie. Vir die grootste deel van die film leef hulle amper verby mekaar, maar dit is ook deel van die punt.
Die storielyn van die fliek het ʼn stewige pas met baie aksie. Die ontkonping bring ’n goeie balans tussen spanning en warmte, en herinner ons daaraan hoe belangrik dit is om mekaar te vertrou, veral in moeilike tye. Elkeen dra ’n geheim, en dit vat moed om oop en eerlik te wees.
Die einde is verrassend oulik, en as ’n eksklusiewe Netflix-produksie spog Semi-Soeter met ’n produksiewaarde wat duidelik hoër is as dié van baie ander Afrikaanse rolprente. Met ’n sigbare groter begroting bied die film pragtige visuele elemente – van asemrowende berglandskappe tot luukse hotelle en moderne huise. Al is daar ’n sterk Amerikaanse invloed in die toonaard en styl, sorg die verskyning van twee bekende Suid-Afrikaanse rugbyspelers daarvoor dat die rolprent steeds in plaaslike gees geanker bly. Hul kort maar opvallende rolle herinner ons op ’n speelse manier daaraan dat hierdie steeds ’n trotse Suid-Afrikaanse romantiese komedie is.
Semi-Soeter is ʼn rit met vele draaie en wendings. Dit is tog ʼn lekker rit, met ’n paar sterre wat uitblink, ʼn goeie klankbaan en net genoeg deernis om jou te laat aanhou kyk. Dis nie perfek nie — party grappies val plat, en die tempo is wild — maar as jy van plaaslike romkoms hou, sal jy beslis hierdie een waardeer.
Hierdie rolprent is vanaf 20 Junie 2025 op Netflix beskikbaar.
Meer Inligting
Speeltyd
90 min
Skrywer en Regisseur
Anél Alexaner en Sandra Vaughn | Joshua Rous
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
13 PG
Rolverdeling
Anél Alexaner, Nico Panagio, Sandra Vaughn, Louw Venter en Hélène Truter
Sterre
3/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Chanté Steyn
Verdere Resensies
Die Dekonstruksie van Retta Blom – “Ek sien ’n blom.”
Ontdek die hartroerende Afrikaanse rolprent Die Dekonstruksie van Retta Blom, ’n aangrypende verwerking van Zelda Bezuidenhout se topverkoperroman. Met Pieter Grobbelaar as regisseur en Antoinette Louw in die hoofrol, verken hierdie emosionele drama selfontdekking, identiteit en persoonlike transformasie deur die oë van ’n vrou wat haar lewe herbou. ’n Moet-sien vir liefhebbers van karaktergedrewe stories en Afrikaanse rolprente.
The Fix – Hierdie fliek is dalk net die “fix” wat jy nodig het
The Fix is ‘n Suid-Afrikaanse wetenskapfiksiefliek wat ‘n model se transformasie in ‘n distopiese Kaapstad volg, met indrukwekkende spesiale effekte en ‘n sterk plaaslike rolverdeling.
Susters op sloertoer: Soet, maar sonder skop
Lees ons in-diepte resensie van Die Kwiksilwers (2024), ’n hartroerende Afrikaanse komedie oor vier bejaarde vroue op ’n padreis deur die Karoo. Hierdie “feel-good” fliek, onder regie van Jordy Sank, ondersoek temas soos vriendskap, vryheid en veroudering met sjarme en plaaslike karakter.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging