A Kind of Madness – ʼn Pragtigeblik op herinneringe van dae lank gelede

Resensie
A Kind of Madness is ʼn Suid-Afrikaanse rolprent wat demensie onder die kollig plaas. Ten spyte van dié agtergrond is dit nie ʼn neerslagtige storie nie. Dis eerder ʼn opbouende verhaal oor herinnering, aanvaarding, en bowenal – die liefde. Ons ontmoet die twee sentrale karakters, Elna, (oftewel Ellie) en Daniel in die see. Dit is terloops ook hulle eerste ontmoeting. Ons sien vlugtig hoe die verhouding tussen hulle ontwikkel voordat ons weggevoer word in tyd na ʼn veel ouer Dan (vertolk deur Ian Roberts) wat sy Elna (Sandra Prinsloo) in ʼn tehuis besoek. Wanneer sy hom oortuig dat sy nie in dié tehuis hoort nie, help hy haar om te ontsnap. En vir die res van die fliek is hulle drie volwasse kinders op hulle spoor, aangesien hulle Elna na die tehuis wil terugneem.
Die storie is vaagweg bekend. Ons het elemente daarvan in Hans Steek die Rubicon Oor (2023), asook Die Kwiksilwers (2024) gesien. Die SAUK 2 reeks Karavaan (2022), met Elsabé Daneel, Kurt Egelhof en Albert Maritz, het ook sterke elemente van hierdie plot bevat. Miskien wys dit vir ons dat volwasse kinders in die werklike lewe heeltemal te veel die keuses en drome van hul bejaarde ouers misken. Wat wel A Kind of Madness heel uniek maak, en anders as die vorige produksies wat ek genoem het, is dat Elna aan demensie ly. Dis ʼn aspek wat die regisseur Christiaan Olwagen, deurgaans met sensitiweit hanteer.

Aangesien die ouer Elna weens haar demensie haarself gereeld in haar jonger self inleef, vervleg die tonele tussen die ouer Elna (Prinsloo) en die jonger Ellie (vertolk deur Ashley de Lange) soomloos inmekaar. Volgens Prinsloo het sy en De Lange al vantevore saam op die verhoog gewerk, en was dit dus maklik om “saam te smelt” en een karakter “te word”. Die twee het ook al teenoor mekaar in die eTV sepie, Kelders van Geheime en die Showmax reeks Koek gespeel. Ian Roberts and sy jonger karakter se weergawe, Luke Volker, het dit ook telkemale reggekry om as een karakter “saam te smelt” in Elna se geestesoog. As ʼn kyker het hierdie meesterlike tegniek vir my ʼn blik gegee van hoe iemand met demensie die lewe sien en ervaar. Terselftertyd kon ek myself verlustig aan die ongelooflike ongerepte natuur van die Wes-Kaap, wat ek self nog nooit besoek het nie. Dis geen wonder dat Elna weer haar herinneringe as ʼn jong Ellie hier op die strand kom beleef (uitleef) het nie.
Die hoofkarakters se toneelspel en die fliek se kinematografie, produksie-onwerp, klank-ontwerp, redigering en ander na-produksie elemente verdien beslis volpunte. Die enigste aspek wat my ʼn halfpunt van hierdie resensie se gradering laat aftrek, is die feit dat die volwasse kinders op ʼn stadium gedurende die fliek bietjie op my senuwees begin werk het.
Olwagen het ook die draaiboek geskryf, en die karakters se dialoog getuig daarvan dat hy diep nagedink het oor die temas wat hy met die fliek wou oordra, en hy kry dit reg met subteks, eerder as om die kyker oor die kop te moker daarmee. Hy moker jou wel met ʼn emosionele noot of twee – en ek kon nie help om ʼn traan te pik nie. Uiteindelik is die fliek ʼn viering van die liefde. Liefde wat nie die gordyn sak na die sprokiestroue nie, maar een wat ná dekades saam nog volstaan. As jy geroer is deur The Notebook (2004), is A Kind of Madness beslis vir jou.
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
16
Rolverdeling
Sandra Prinsloo, Ashley de Lange, Ian Roberts en Luke Volker
Sterre
4.5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren
Verdere Resensies
Street Trash – waar bloed nie rooi (of blou is nie), maar alle neonskakerings!
Street Trash (2025) – ’n neonbelaaide, gruwelkomedie in ’n distopiese Kaapstad wat bloed, satire en sosio-politiese kommentaar meng vir ’n wilde, onvergeetlike rit.
Jungle Beat 2 – heerlike animasie-vermaak vir die jongspan
Jungle Beat 2: The Past is kleurvolle animasie-vermaak propvol avontuur, dinosourusse en lewenslesse vir kinders. Lees ons resensie oor hierdie Afrikaanse storie wat jong en ou kykers op ’n prettige tydreis neem.
Semi-Soeter – meer lag as logika
Semi-Soeter bring Jaci en JP terug in ’n vrolike opvolg vol voorgee-ouerskap, babahumor en emosionele oomblikke. Met Anel Alexander, Nico Panagio en Neels van Jaarsveld spog die film met sterk spel, asemrowende Suid-Afrikaanse tonele, en ’n eg Afrikaanse klankbaan wat die Hollywood-styl balanseer. Al neig die humor soms na slapstick, bied die film genoeg plaaslike geur, hartroerende oomblikke en prettige verrassings om dit ’n moet-kyk op Netflix te maak vir enige liefhebber van Afrikaanse romantiese komedies.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging