Jungle Beat 2 – heerlike animasie-vermaak vir die jongspan

Resensie
Soos Dee Theart in haar resensie oor die eerste filmweergawe van die Jungle Beat– franchise genoem het, is die storie oorspronklik gebaseer op ‘n Afrika-verhaal wat oor agt seisoene sedert 2005 as 104 mini-episodes in 200 lande uitgesaai is.
Jungle Beat: The Movie is in 2020 vrygestel, en die tweede een in die reeks het op 27 Junie vanjaar in teaters verskyn. Ek het nie persoonlik die eerste een gesien nie en kon die tweede film nogtans as “vrystaande” film geniet. Die storielyn tel wel op waar die eerste een opgehou het, met die oerwoud-duo Munki die aap (David Menkin) en Trunk die olifant (Ina Marie Smith). Ek is nie gewoonlik ‘n groot aanhanger van óf animasie óf kinderflieks nie (terwyl dit gewoonlik hand-aan-hand loop), en veral nie as dit geheel en al op die kleinspan gemik is, sonder enige “grootmensgrappe” soos bv. Shrek nie. En tog het ek die storie eintlik baie geniet. (Wie weet – dalk het my innerlike kind uiteindelik weer te voorskyn gekom!)
In hierdie tweede film, maak Fneep (Ed Kear) per ongeluk ’n tydportaal oop, waarna ’n stegosourus in die oerwoud beland. Trunk word in die verlede ingetrek, terwyl Munki vasgevang raak in ’n buiteruimte-dieretuin. Geskei deur eeue, moet die twee vriende saamwerk: Trunk met dinosourusse, Munki met planne om te ontsnap – als om die tydlyn reg te stel en hul wêreld te red.

Nes Dee destyds in haar resensie oor die eerste film, het ek egter dieselfde kritiek: van die karakters kon minstens Afrika-aksente gehad het, al was dit net een. Als anders skreeu Afrika – daar is selfs proteas en hadidas! Ons weet dat bekende Amerikaanse en/of Britse akteurs gewoonlik gebruik word om as trekpleister vir ‘n film te dien, ten spyte van waar die fliek gemaak word, of watter land, taal en kultuur dit voorstel, maar as meer Afrika-aksente in hierdie geval gebruik kon word, dink ek sou die fliek selfs nóg beter ontvang word – en Afrika beter verteenwoordig.
Visueel is die film indrukwekkend en verbeeldingryk – dis kleurvol, aksiebelaaid en avontuurlustig. Temas sluit onder meer vriendskap, spanwerk en nuuskierigheid in – iets wat, indien ouers dit saam met hul kinders sou kyk, goeie besprekingspunte is. (En mag ek waag om te sê dat daar tog ook, baie slim temas van kolonialisme, evolusie en diktators ingevleg is – en dit verder versterk is met juis daardie spesifieke aksente – so dalk is die film tog nié net op kinders gemik nie?)
Die verhaal het my laat ontspan en op ‘n heerlike reis geneem, en vir die totale speeltyd my van die “regte” wêreld en al sy probleme laat vergeet. Dit wil gedoen wees! En is dit nie een van die grootste, indien nie dié belangrikste redes vir, en aspekte van, ‘n goeie rolprent nie?
As jy opsoek is na goeie, ligte vermaak vol positiwiteit en belangrike lewenslesse vir die jongspan, beveel ek Jungle Beat 2 sterk aan.
Meer Inligting
Speeltyd
90 min
Skrywer en Regisseur
Sam Wilson | Sam Wilson & Brent Dawes
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
A
Rolverdeling
David Menkin, Ina Marie Smith, Ed Kear, Rob van Vuuren, Jenny Stead, Sandra Dickinson en David Rintoul
Sterre
4/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout
Verdere Resensies
Street Trash – waar bloed nie rooi (of blou is nie), maar alle neonskakerings!
Street Trash (2025) – ’n neonbelaaide, gruwelkomedie in ’n distopiese Kaapstad wat bloed, satire en sosio-politiese kommentaar meng vir ’n wilde, onvergeetlike rit.
A Kind of Madness – ʼn Pragtigeblik op herinneringe van dae lank gelede
A Kind of Madness is ’n roerende Afrikaanse fliek oor demensie, liefde en herinnering. Met sterre soos Sandra Prinsloo en Ian Roberts, bied die film ’n meesleurende blik op ouerword, familie en die krag van ware liefde. Lees ons volledige resensie.
Semi-Soeter – meer lag as logika
Semi-Soeter bring Jaci en JP terug in ’n vrolike opvolg vol voorgee-ouerskap, babahumor en emosionele oomblikke. Met Anel Alexander, Nico Panagio en Neels van Jaarsveld spog die film met sterk spel, asemrowende Suid-Afrikaanse tonele, en ’n eg Afrikaanse klankbaan wat die Hollywood-styl balanseer. Al neig die humor soms na slapstick, bied die film genoeg plaaslike geur, hartroerende oomblikke en prettige verrassings om dit ’n moet-kyk op Netflix te maak vir enige liefhebber van Afrikaanse romantiese komedies.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging