Street Trash – waar bloed nie rooi (of blou is nie), maar alle neonskakerings!

Resensie
Ryan Kruger se Street Trash is veronderstel om ’n opvolg te wees op die eerste Street Trash-fliek wat in 1987 vrygestel is – en die nuwe fliek is ook 100% gemik op gruwelfilm aanhangers, veral diegene wat met nostalgie terughunker na die 1980’s. Die eerste een was glo ’n vuil, oordrewe, gruwelkomedie wat ’n kultustreffer geword het weens die belaglike bloederigheid en pikswart humor. Hierdie een het beslis baie sulke raakpunte met sy voorganger.
Die storie speel af in 2050 teen die agtergrond van ’n distopiese Kaapstad. In hierdie denkbeeldige wêreld bestaan die middelklas nie meer nie. Die rykes drink kripto-mengeldrankies terwyl die haweloses in die skadu’s oorleef. Die burgemeester, Mostert (Warrick Grier), se “oplossing” vir armoede is ’n dodelike biologiese wapen genaamd Tenafly Viper – vir die wat sal weet (of onthou), glo ’n knipoog na die oorspronklike fliek se giftige drank wat die stad se kwesbaarstes letterlik laat smelt.
Street Trash (2025) is ʼn buitensporige, chaotiese mengsel van multikleurige bloederige spatsels en absurdhede, met ʼn gevloek en vele onder-die-belt-grappies tussendeur. Dit is miskien belangrik om te weet omdat dit só getrou probeer bly aan die oorspronklike. Ongelukkig, maar miskien doelbewus, na die eerste gruweltoneel waar iemand se binnegoed in alle rigtings spat en daarna tot ʼn plas neonverf gereduseer word, is elke soortgelyke geval daarna eintlik maar dieselfde.

Ek sou sê daar is tog wel ʼn dieper boodskap – as jy dit kan regkry om verby al die punk rock, spotprentagtige, slapstick-komedie te kyk. Op sy eie manier, hoewel onderontwikkel, probeer die film sosio-politiese kommentaar op die huidige stand van sake lewer. Dit is ’n weerspieëling van die reeds-bestaande vrese, stryd en ongeregtighede van die hedendaagse Suid-Afrika – maar sekerlik ook groot dele van die res van die wêreld. Ons praat van klasoorloë, die kriminalisering van haweloosheid, die gevoelloosheid van politieke elites, en herinner die kyker ook aan (en waarsku sterk teen nóg) ʼn Covid-uitbraak of iets soortgelyks.
Wat my wel opgeval en beïndruk het, was die liggings wat hulle in die rolprent gebruik het. Dit was moeilik om te sê watter (indien enige) tonele op klankverhoë verfilm is, vir watter daar spesiaal stelle gebou is, en vir watter nie. Hierdie fyn aandag aan stelontwerp verdien beslis ʼn harde applous.
Sommige karakters het nie juis uitgestaan nie, terwyl ander, soos Pap (briljant gespeel deur Shuraigh Meyer) en Clover (Tuks Tad Lungu), ’n blywende indruk gelaat het. Om nie te praat van die verskil in toneelspeelvermoëns van Jonathan Pienaar (wat die rol van Society vertolk) en res van die span nie. Hy staan net eenvoudig kop en skouers bo die res uit. Ongelukkig het hy in bittermin tonele verskyn. Met net ’n subtiele oogbeweging kon jy sien dat jy hier met ’n film-legende te make het.
Hoewel ek voel dat daar meer balans kon wees en meer van die elite gewys kon word, en ook dat die storielyn sterker kon wees, was daar tog ’n sterk tematiese boodskap: tydens klasonderdrukking, sosiale verwaarlosing en sistemiese brutaliteit kan solidariteit, empatie en veerkragtigheid nog seëvier.
Meer Inligting
Speeltyd
85 min
Skrywer en Regisseur
Ryan Kruger & James C. Williamson | Ryan Kruger
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
18
Rolverdeling
Sean Cameron Michael, Donna Cormack-Thomson, Joe Vaz, Lloyd Martinez Newkirk, Shuraigh Meyer, Gary Green, Warrick Grier, Andrew Roux en Ryan Kruger
Sterre
2.5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout
Verdere Resensies
Bloedhond – Heerlike bangmaak-vermaak vir Halloween-maand
Bloedhond is ’n bloederige, spanningsvolle Afrikaanse gruwelfliek vol koue rillings, donker humor en onverwagse wendings – perfek vir Halloween, met sterk spel deur Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz en Kevin Peyper, en beskikbaar op eVOD.
Hen – Rasend honger en stilweg boos.
Hen is ’n senutergende Afrikaanse riller deur Nico Scheepers met Stian Bam, Amalia Uys en Dawian van der Westhuizen. Op ’n afgeleë plaas in die laat 19de eeu ontvou ’n donker en bonatuurlike verhaal van geloof, vrees en vervloeking. Met skitterende spel en intense atmosfeer herinner Hen aan The Omen en Rosemary’s Baby – ’n film wat lank ná die laaste toneel bly spook.
Carissa: Een legkaartstukkie van háár lewe
Carissa (2025), ’n stadige maar visueel pragtige rolprent oor plattelandse lewe, familie, eenvoud en die ritme van menswees.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging