Khaki Fever – Wilder as die wildtuin

Resensie
Regisseur en skrywer Brett Micheal Innes (Fiela se Kind, Sink), het in ’n Silwerskermfees-onderhoud gesê die kyker sal binne die eerste 30 sekondes weet of hulle van Khaki Fever sal hou of nie. En hy was nie verkeerd nie, want die film open in die bos met ’n toneel waar ’n spiertier ’n wulpse wyfie met alle mag vasvat – presies soos die natuur dit bedoel het. Maar hierdie moenie verwar word met ’n Sir Richard Attenborough of National Geographic dokumentêr nie, want hoewel dit in die wildtuin afspeel en baie diere wel gesien word, is hierdie spesifieke tweetjies akteurs, Daniel en Jamie (gespeel deur Christopher Jaftha en Carroline Maduray).
Khaki Fever is ’n stoute en gewaagde komedie, waar seksuele spanning amper so hoog soos ’n Covid-koors loop, en hoewel dit spot met lodge-kultuur, khaki-mode en ’n voorliefde vir die bosveld, lê daar onder al die stoutighede ’n film oor verbintenis, kattekwaad en Suid-Afrikaanse identiteit.

Die storie handel oor ’n groep wildbewaarders wat, weens ’n spesifieke rede (sonder dat almal dit weet), met mekaar kompeteer om te sien wie die meeste toeriste tydens die seisoen in die sak (of chalet?) kan kry, en in die proses die wildernis op horings neem – met skreeusnaakse gevolge. Dis wel belangrik om te noem dat geen sekstonele enigsins eksplisiet is nie.
Die dialoog is skerp, die humor vinnig, en die vergelykings (ek dink aan “prag sogte en stoetbulle”), innuendos, en sinspeel op woorde oorspronklik en trots Afrikaans.
Die akteurs dra almal ewe veel by tot die sukses en genot van die film, wat onder al die “jukkerigheid” van die wildbewaarders, met broekies korter as hul beenhare eintlik baie hart het. Dus, ’n goeie, gelyke rolverdeling (onder leiding van Christa Schamberger) wat só baie maal een van die swakste elemente van ’n Afrikaanse film is vir my (veral as dit kom by die byspelers).
Albie (gespeel deur Francois Jacobs) het van die beste one-liners, wat soos hierdie jaar se Perseïede-meteoorreën tot sowat 72km per sekonde deur die lug trek!
My enigste kritiek is sommige liedjies op die klankbaan – hoewel dit seker gepas was vir die tema is dit eintlik die enigste plek waar die aan-mekaar gevloekery selfs mý gevang het, en ek gevoel het dat dit net in swak smaak was.
Die film is in die algemeen nie vir die “swak van hart”, die preutses, die konserwatiewes en selfs die voornemende nonne onder ons nie – tensy jy met volle vermomming jou bloos sal kan wegsteek, of ’n gat kan grawe en soos ‘n volstruis jou kop êrens in die grond sal kan indruk – maar gelukkig lewe ons in ‘n wêreld waar jy dit ook gladnie hoef te kyk nie – gebruik net jou afstandbeheer en verander die kanaal.
Soos ons weet, en volgens Innes self, maak hy gewoonlik goed wat “ernstige sosiale kommentaar lewer, maar mense het deesdae min kapasiteit vir swaar temas”, terwyl ’n onlangse Ster Kinekor-studie deur Nicolette Scheepers dit beaam: “baie plaaslike films word nie met ’n kommersiële ingesteldheid gemaak nie, maar is geneig om kwessies aan te spreek eerder as om ontvlugting te bied.” En ek stem heelhartig saam. Khaki Fever wys (sy) vleis – en sal die algemene kyker verras, laat skaterlag, en heerlik vermaak.
Meer Inligting
Speeltyd
119 min
Skrywer en Regisseur
Brett Micheal Innes & Nick Ahlers | Brett Michael Innes
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
18 SNL
Rolverdeling
Christopher Jaftha, Carroline Maduray, Abel Knobel, Anja Taljaard, Tiffany Kelly, Francois Jacobs, Liam Bosman, Izette Blignaut, Trix Vivier, Sean Brebnor, Ilse Klink
Sterre
4/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout
Verdere Resensies
Bloedhond – Heerlike bangmaak-vermaak vir Halloween-maand
Bloedhond is ’n bloederige, spanningsvolle Afrikaanse gruwelfliek vol koue rillings, donker humor en onverwagse wendings – perfek vir Halloween, met sterk spel deur Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz en Kevin Peyper, en beskikbaar op eVOD.
Hen – Rasend honger en stilweg boos.
Hen is ’n senutergende Afrikaanse riller deur Nico Scheepers met Stian Bam, Amalia Uys en Dawian van der Westhuizen. Op ’n afgeleë plaas in die laat 19de eeu ontvou ’n donker en bonatuurlike verhaal van geloof, vrees en vervloeking. Met skitterende spel en intense atmosfeer herinner Hen aan The Omen en Rosemary’s Baby – ’n film wat lank ná die laaste toneel bly spook.
Carissa: Een legkaartstukkie van háár lewe
Carissa (2025), ’n stadige maar visueel pragtige rolprent oor plattelandse lewe, familie, eenvoud en die ritme van menswees.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging