Carissa: Een legkaartstukkie van háár lewe

Resensie

03/10/2025

Die rolprent Carissa (2025) gee vir ons ʼn kykie in die karakter, Carissa, se alledaagse lewe. Sy woon in die Wes-Kaapse dorpie, Wuppertal, waar die oorlede rolprentmaker, Jans Rautenbach, se 1969-rolprent, Katrina, ook verfilm is. Rautenbach het jare gelede oor hierdie verfilmingstydperk vertel: “Ons is in Wuppertal, ons is ver in die Sederberge waar daar niks op aarde is nie. Ons is in ʼn tyd en ʼn eeu wat toeka is.” Amper twintigjaar nadat hy hierdie stelling gemaak het, is Carissa se selfoon eintlik een van die min tekens wat daarop dui dat hierdie fliek nie ʼn periodestuk is nie. Verder lyk alles nog of dit in toeka se tyd kon afspeel.

Carissa se bestaan is karig, eenvoudig, selfs vervelig. Sy help haar ouma Wilhelmien, by wie sy ook woon, met huistakies. In die aande hang sy by die kroeg uit om van die eentonigheid te ontsnap. Wanneer die ontwikkelaars van ʼn groot gholflandgoed aanbied om die dorp se jong mense op te lei vir werk, sien Wilhelmien dit as ʼn kans vir Carissa om na die stad te ontsnap. Die opwinding van hierdie avontuur skeel Carissa min. Sy strompel voort met haar futlose, daaglikse roetine totdat haar vervreemde oupa op ‘n dag sy verskyning maak. Hy wil vir Carissa sy rooibostee plantasies wys voordat hy die grond aan ontwikkelaars afteken.

Nes teeblare ʼn tydjie neem om te trek, neem hierdie storie ʼn rukkie om te ontwikkel.  Die fliek is in die tradisie van “stadige rolprentwese” gemaak. “Stadige rolprentwese” is ʼn kunsbeweging wat die stadige tydsverloop van ʼn storie prioritiseer bó ʼn dramatiese aksie-gedrewe plot wat baie gebeure bevat. Dit gee die kyker kans om te besin – oor die visuele (met diere soos bokke, skape en donkies wat op hulle rustige pas in en uit die skote wandel) en die klankbaan wat met sy egtheid en ritme die emosies binne jou aanroer. “Kudos” aan die klankontwerp, redigering en na-produksiespan, vir wat hulle hiermee bereik het.

Die kinematograaf, Gray Kotzé, se karakter komposisies teen die ongelooflike landskap herinner aan Pierneef – en nes die Hollandse meesters van oud, weet Kotzé en sy span presies wanneer om hul ‘kwas’ in die verf te doop om die beste skoot van ʼn sonsondergang of die magiese hemelruim vas te vang. Daarby is die hoofkarakter, Gretchen Ramsden, se spel as Carissa onopgesmuk en gestroop, asof sy een word met haar ruimte.

Ramsden se byspelers, Elton Landrew en Gladwin van Niekerk, het hul beter as ‘goed’ van hul taak gekwyt, terwyl oom Hendrik Kriel en Tante Wilhelmiena Hesselman wat Carissa se ouma en oupa speel amper stof in die ander se oë van hul ervare medespelers skop. Met geen toneelspel ervaring nie, het die 73-jarige tante Wilhelmina skoon ʼn benoeming as beste vroulike byspeler by vanjaar se Silwerskermfees losgeslaan.

As jy te veel van die fliek Carissa verwag, mag jy dalk teleurgestel wees. Dit is nie ʼn aardskuddende storie nie, eerder ʼn onverstoorde verhaal wat nes ʼn bokkie wat aan ʼn blaartjie kou, jou subtiel forseer om in te neem, te talm en te besef. Vir my was dit ʼn besinning van die plattelandse lewe en ʼn kultuur wat aan my onbekend is, en ʼn stukkie waarheid oor die eenvoud van menswees wat soms te maklik vergete agter bly.

Meer Inligting

Speeltyd

97 min

Skrywer en Regisseur

Devon Delmar en Jason Jacobs

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

16

Rolverdeling

Gretchen Ramsden, Wilhelmiena Hesselman, Hendrik Kriel, Elton Landrew en Gladwin van Niekerk

Sterre

4/5

Loket

Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren

Professor Anna-Marie Jansen van Vuuren is ’n senior dosent en navorsingskoördineerder vir die Film- en Visuele Kommunikasie-program by die Fakulteit van Kuns by die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Sy spesialiseer in navorsing oor temas soos “identiteit” en “uitbeelding” in Suid-Afrikaanse rolprente—maar in eenvoudige taal: Is sy lief vir flieks en hou daarvan om dit diep te bestudeer.

Verdere Resensies

Hen – Rasend honger en stilweg boos.

Hen – Rasend honger en stilweg boos.

Hen is ’n senutergende Afrikaanse riller deur Nico Scheepers met Stian Bam, Amalia Uys en Dawian van der Westhuizen. Op ’n afgeleë plaas in die laat 19de eeu ontvou ’n donker en bonatuurlike verhaal van geloof, vrees en vervloeking. Met skitterende spel en intense atmosfeer herinner Hen aan The Omen en Rosemary’s Baby – ’n film wat lank ná die laaste toneel bly spook.

read more
The Heart Is A Muscle – ‘n Metafoor van verlies

The Heart Is A Muscle – ‘n Metafoor van verlies

The Heart Is A Muscle deur Imran Hamdulay is ’n ontroerende Suid-Afrikaanse film oor stilte, broosheid en versoening. Lees ons resensie oor Keenan Arrison se kragtige rol as Ryan, wat sy seun se verdwyning in Ottery en Grassy Park in die gesig staar, en ’n gemeenskap se reis na heling en herinnering.

read more
Kopiereg © 2025 Bioskoop Flieks NWM. Alle Regte Voorbehou. | Gemaak met deur Rick Bronkhorst