Carissa: Een legkaartstukkie van háár lewe
Resensie
Die rolprent Carissa (2025) gee vir ons ʼn kykie in die karakter, Carissa, se alledaagse lewe. Sy woon in die Wes-Kaapse dorpie, Wuppertal, waar die oorlede rolprentmaker, Jans Rautenbach, se 1969-rolprent, Katrina, ook verfilm is. Rautenbach het jare gelede oor hierdie verfilmingstydperk vertel: “Ons is in Wuppertal, ons is ver in die Sederberge waar daar niks op aarde is nie. Ons is in ʼn tyd en ʼn eeu wat toeka is.” Amper twintigjaar nadat hy hierdie stelling gemaak het, is Carissa se selfoon eintlik een van die min tekens wat daarop dui dat hierdie fliek nie ʼn periodestuk is nie. Verder lyk alles nog of dit in toeka se tyd kon afspeel.
Carissa se bestaan is karig, eenvoudig, selfs vervelig. Sy help haar ouma Wilhelmien, by wie sy ook woon, met huistakies. In die aande hang sy by die kroeg uit om van die eentonigheid te ontsnap. Wanneer die ontwikkelaars van ʼn groot gholflandgoed aanbied om die dorp se jong mense op te lei vir werk, sien Wilhelmien dit as ʼn kans vir Carissa om na die stad te ontsnap. Die opwinding van hierdie avontuur skeel Carissa min. Sy strompel voort met haar futlose, daaglikse roetine totdat haar vervreemde oupa op ‘n dag sy verskyning maak. Hy wil vir Carissa sy rooibostee plantasies wys voordat hy die grond aan ontwikkelaars afteken.
Nes teeblare ʼn tydjie neem om te trek, neem hierdie storie ʼn rukkie om te ontwikkel. Die fliek is in die tradisie van “stadige rolprentwese” gemaak. “Stadige rolprentwese” is ʼn kunsbeweging wat die stadige tydsverloop van ʼn storie prioritiseer bó ʼn dramatiese aksie-gedrewe plot wat baie gebeure bevat. Dit gee die kyker kans om te besin – oor die visuele (met diere soos bokke, skape en donkies wat op hulle rustige pas in en uit die skote wandel) en die klankbaan wat met sy egtheid en ritme die emosies binne jou aanroer. “Kudos” aan die klankontwerp, redigering en na-produksiespan, vir wat hulle hiermee bereik het.
Die kinematograaf, Gray Kotzé, se karakter komposisies teen die ongelooflike landskap herinner aan Pierneef – en nes die Hollandse meesters van oud, weet Kotzé en sy span presies wanneer om hul ‘kwas’ in die verf te doop om die beste skoot van ʼn sonsondergang of die magiese hemelruim vas te vang. Daarby is die hoofkarakter, Gretchen Ramsden, se spel as Carissa onopgesmuk en gestroop, asof sy een word met haar ruimte.
Ramsden se byspelers, Elton Landrew en Gladwin van Niekerk, het hul beter as ‘goed’ van hul taak gekwyt, terwyl oom Hendrik Kriel en Tante Wilhelmiena Hesselman wat Carissa se ouma en oupa speel amper stof in die ander se oë van hul ervare medespelers skop. Met geen toneelspel ervaring nie, het die 73-jarige tante Wilhelmina skoon ʼn benoeming as beste vroulike byspeler by vanjaar se Silwerskermfees losgeslaan.
As jy te veel van die fliek Carissa verwag, mag jy dalk teleurgestel wees. Dit is nie ʼn aardskuddende storie nie, eerder ʼn onverstoorde verhaal wat nes ʼn bokkie wat aan ʼn blaartjie kou, jou subtiel forseer om in te neem, te talm en te besef. Vir my was dit ʼn besinning van die plattelandse lewe en ʼn kultuur wat aan my onbekend is, en ʼn stukkie waarheid oor die eenvoud van menswees wat soms te maklik vergete agter bly.
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
16
Rolverdeling
Gretchen Ramsden, Wilhelmiena Hesselman, Hendrik Kriel, Elton Landrew en Gladwin van Niekerk
Sterre
4/5
Loket
R 174 286

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren
Verdere Resensies
Al Wat Ek Weet – Kuns bied redding in ’n film wat self soos ’n kunswerk voel
Al Wat Ek Weet is ‘n aangrypende rolprent oor verlies en genesing, met pragtige produksie-ontwerp en klank. Vrygestel 30 Oktober 2026.
This Is How the World Ends – Fiksie of voorteken?
Resensie van This Is How the World Ends: Robert dos Santos se post-apokaliptiese debuut, op VHS vrygestel, vra waar jy jou laaste dag wil spandeer.
In “Silas en die Ysbeer op Tafelberg”ontmoet werklikheid en verbeeldings mekaar op sielvolle manier
Silas en die Ysbeer op Tafelberg is ‘n betowerende Suid-Afrikaanse fantasiefilm oor verlies, verbeelding en hoop. Vanaf 18 September in fliekteaters.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



