Bloedhond – Heerlike bangmaak-vermaak vir Halloween-maand

Resensie
Met Halloween wat ons nader wink, is dit amper weer tyd vir ’n heerlike gruwelfliek-marathon. Jy hoef egter nie net na ou bekendes soos The Hills Have Eyes (2006), Scream (1996) en The Ring (2002) te gryp nie. Afrikaans het nou ook sy plek aan die bangmaak-tafel ingeneem met Bloedhond (2024), wat op eVOD (eTV se gratis stroomdiens) beskikbaar is.
Rian van Heerden is ’n meester kansvatter en ’n vervaardiger wat grense in Afrikaans verskuif. Dink maar aan die realiteitsreekse Real Housewives van Pretoria en Tarzan van George, asook die dokumentêre reekse Sex in Afrikaans en Tiek Tok Boom!. Die meeste van Rian se produksies het die tonge laat klap en Bloedhond is allermins ’n uitsondering op hierdie reël.
Die storie wentel om vyf hormoonbelaaide Gen Z’s wat na ’n musiekfees reis, maar toe hul per ongeluk ’n verkeerde afdraai neem en verdwaal, begin die amok. Ja, as dit vaagweg bekend klink: die ooreenkoms met die Wrong Turn-films is duidelik, en inspirasie is beslis uit hierdie en ander klassieke Amerikaanse gruwelflieks geput. Tog, soos Mark Twain gesê het: “There is no such thing as a new idea… We simply take a lot of old ideas and put them into a sort of mental kaleidoscope.” Deur Twain se lens, slaag Rian en sy span daarin om ’n beproefde resep ’n vars Suid-Afrikaanse en Afrikaanse kinkel te gee.

Waarheen lei Bloedhond se verkeerde afdraai? Na ’n eiesoortige gesin waar die bloedlyne al redelik verwronge is, wat reeds 27 jaar geïsoleerd leef. Hierdie gesin bly voortdurend honger en dors – en jy kan seker raai waarna hulle smag. Die figuur wat die meeste nagmerries beloof, is die groteske Bloedhond (Kevin Peyper) met sy vreesaanjaende hondmasker. Berei jou voor vir koue rillings én ’n onverwagse wending.
Die hoofensemble lewer puik spel. Cindy Swanepoel en Zak Hendrikz, as die broer en suster, Francine en Benedictus, met hul geel tande, uitsteektonge, histeriese gelag en skurwe grappies, hou kykers vasgenael voor die skerm. Tony Caprari, met sy indrukwekkende 66 film- en TV-krediete op IMDb, bring ’n intensiteit na sy rol as die gesinspatriarg Ben. Al is sommige van die jonger akteurs nie altyd ewe oortuigend nie, is dit verfrissend dat Van Heerden en regisseur Deon Potgieter nuwe talent die geleentheid bied om in die bloed te baljaar.
Bloedhond het waarskynlik nie ’n reuse begroting gehad nie, maar bewys dat baie met min steeds moontlik is. Van kinematografie (Gavin Sterley en Hendrik Badenhorst) tot redigering (Nathan Smith) en veral kostumering en grimering (’n groot applous hier vir Melissa Hopley, Chanel Fivaz en Bronwen Kilian!) – elke departement het hom uitstekend van sy taak gekwyt. ’n Goeie gruwelfilm word sonder twyfel aan sy musiek en klankontwerp gemeet (en tot watter mate die musikale komponente die hare laat rys) en hier kies Janno Muller en Cornell Boshoff vir seker die regte note op die regte oomblikke.
Bloedhond se visie was duidelik, maar hulle kon egter nie heeltemal die paal haal nie. Daar is plek-plek dialoog wat ongemaklik sit, gedeeltes waar die vrees van die situasies glad nie duidelik oorkom nie, en segmente waar die helder beligting in die aandtonele die illusie van die donker, onheilspellende bos heeltemal breek. Maar, ek sê weer: hierdie film is ’n stap in die regte rigting en het baie dinge wel reggekry.
Bloedhond bewys dat gruwel in Afrikaans nie net moontlik is nie, maar ook snaaks, absurd en skokkend kan wees. Sulke vlakke van bloederige vermaak is nog nie tevore in Afrikaans beleef nie. Dalk wil jy dit selfs meer as een keer kyk – want die eerste keer sal dalk jy meer onder die kombers as bo wees.
My hoop is dat eVOD en ander stroomdienste en kanale méér in Afrikaans sal belê, veral in die gruwel-genre. Dan kan ons een dag sê: Bloedhond het die eerste bloederige voetspoor gelos, sodat nuwe Afrikaanse gruwelflieks die donker pad met durf en bloeddors kon volg.
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
18 SNLV
Rolverdeling
Tony Caprari, Kevin Peyper, Philicity Reeken, Zak Hendrikz en Cindy Swanepoel
Sterre
3/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Dee Theart
Verdere Resensies
Hen – Rasend honger en stilweg boos.
Hen is ’n senutergende Afrikaanse riller deur Nico Scheepers met Stian Bam, Amalia Uys en Dawian van der Westhuizen. Op ’n afgeleë plaas in die laat 19de eeu ontvou ’n donker en bonatuurlike verhaal van geloof, vrees en vervloeking. Met skitterende spel en intense atmosfeer herinner Hen aan The Omen en Rosemary’s Baby – ’n film wat lank ná die laaste toneel bly spook.
Carissa: Een legkaartstukkie van háár lewe
Carissa (2025), ’n stadige maar visueel pragtige rolprent oor plattelandse lewe, familie, eenvoud en die ritme van menswees.
The Heart Is A Muscle – ‘n Metafoor van verlies
The Heart Is A Muscle deur Imran Hamdulay is ’n ontroerende Suid-Afrikaanse film oor stilte, broosheid en versoening. Lees ons resensie oor Keenan Arrison se kragtige rol as Ryan, wat sy seun se verdwyning in Ottery en Grassy Park in die gesig staar, en ’n gemeenskap se reis na heling en herinnering.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging