The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
Resensie
Dis 1846 en die Uys gesin trek deur die ongenaakbare Karoo. Hulle bestemming en doelwit is die grond wat aan hulle beloof is. Karel Uys (Morné Visser) sy hoog swanger vrou Jacoba (Trix Vivier) en hulle dogter Karolina (Leah Lindeque) durf die dor en dooie landskap in hulle ossewa aan saam met Henry Blake (Rob van Vuuren), die Brit wat deel van die ondertekende ooreenkoms is. Die plan is eenvoudig: Karel Uys neem vir Meneer Blake na die beloofde land waar Blake ook ‘n deel van die grond in beslag neem. Die trek neem egter ‘n duistere wending wanneer die boesman Atshumao (Maurice Carpede) by hulle aansluit.
Van die openingskoot is dit duidelik dat Adam se rolprent die Karoo-landskap as ‘n visuele verteller inspan. Die dialoog is skraps en die skote trek die kyker in en plaas hom onder ‘n soort smagtende trans. Tydens die eerste halfuur van The Trek is dit duidelik dat dit wat op die Uys gesin en Meneer Blake wag, alles behalwe belowend gaan wees.
Die klankbaan is ‘n hoogtepunt. Nes die min dialoog ondersteun die subtiele klanke, wat soos stof en wind deur die beelde verweef, is die opbouende spanning wat al meer tasbaar raak soos die ossewa krakend die landskap oorsteek. Daar is ook die gereelde terugflitse na ‘n tyd voordat die gesin die lang reis aangepak het. In die terugflitse is dit opvallend hoe die kleur groen gebruik word om simbolies tot lewe te spreek. Selfs Jacoba se rok en die lowergroen woud rondom hulle, hierdie beelde teenoor die uit gewaste bruine en hees kleure van ‘n duiselige en verbrande aarde skep ‘n kenmerkende kontras tussen die hier en toe in The Trek. Die kyker word mettertyd bewus van die sonde wat die Uys familie gepleeg het en hoe dat Atshumao saam met die bose gees van sy broer deel word van die wraak en vergelding uit die verlede.
Die rolverdeling is puik. Morné Visser as Karel Uys is geloofwaardig as die boer en pa wat alles in die stryd sal werp om sy gesin te beskerm maar dit is veral Rob van Vuuren se Henry Blake wat mens bybly. Blake se vreemde gedrag na ‘n kopstamp en sy onbeheerste gelag dra by tot die onheilspellende atmosfeer wat die film sy donker ritme gee.
The Trek is Meekaaeel Adam se debuut as regisseur, en dit is duidelik dat hierdie talentvolle filmmaker ‘n storieverteller met ‘n unieke oog is. Wat wel gepla het, was die stem van Atsumao se broer Gogosoa (Collin ‘The Bushman’ Meyer) wat die aarde verteenwoordig. Hierdie gees praat in Khoi-Khoi en selfs met die lees van die onderskrifte in Engels, kon ek nie help om te dink hoeveel van hierdie monoloog werklik nodig was nie.
Die visuele elemente in die film is so sterk dat hierdie bonatuurlike stem vir my na die eerste helfte van die film, in ‘n oorverduideliking begin verval het. Dit plaas natuurlik weer die soeklig op die argument van ‘show don’t tell’ en die delikate balans wat die storieverteller moet handhaaf tussen hoeveel inligting die kyker self gaan aanneem en hoeveel aan die kyker oorgedra moet word. Al kon die film verkort word, dink ek wel die krag van The Trek lê eerder in die onbeantwoorde vrae as in die antwoorde daarop.
Desnieteenstaande is The Trek ‘n pluimpie in die hoed van Adam en sy span wat hulle goed van hulle taak gekwyt het. Adam noem dat hulle die film in die Nieuwoudtville area in die Noord-Kaap in net drie-en-twintig dae geskiet het. Dit sit nie in enige filmmaker se broek nie en ‘n ‘western’ gruwel op tuisbodem kan en sal hopelik meer oop deure beteken vir hierdie meestal afgeskeepte genre. Die aarde gee en die aarde neem en in die geval die Uys gesin het niks verander nie.
Gaan kyk gerus na The Trek en staal jou vir ‘n donker avontuur met ‘n nog donkerder eindbestemming.
Meer Inligting
Speeltyd
107 min
Skrywer en Regisseur
James C. Williamson, J Hannah Massyn and Sandulela Asanda | Meekaaeel Adam
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
16
Rolverdeling
Morné Visser, Maurice Carpede, Rob van Vuuren en Trix Vivier
Sterre
3,5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Gerhard Ehlers
Gerhard Ehlers is ‘n film en televisie produksie dosent by die Boston Media House kampus in Sandton, Johannesburg. Gerhard het homself nog altyd as ‘n storieverteller beskou, en reeds op Hoërskool die draaiboeke en regie van drie onafhanklike kortfilms nl: “Friendly Conscience”, “Die Heuningwyser” en “Sekelfontein” behartig.
Verdere Resensies
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
Muzzle: City of Wolves – ‘n onverwagse opvolg wat teleurstel
Muzzle: City of Wolves resensie: Roelof Bezuidenhout se blik op die opvolg met Aaron Eckhart en Tanya van Graan – donkerder, simbolies, maar minder oortuigend.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



