Die Tragiese Saak van Pamina Vermaak – Dis vir seker vermaak

Resensie
Kykers sal bly wees om te leer dat daar niks tragies omtrent Kabous Meiring se regie debuut – die rolprent, Die Tragiese Saak van Pamina Vermaak – is nie.
Gebaseer op die boek met dieselfde titel deur Annie Klopper, kwyt die rolprent homself goed van sy taak om kykers in te trek en mee te voer in ‘n kleurryke wêreld met unieke karakters wat eers vreemd mag voorkom, maar met wie jy teen jou sin tog mee kan identifiseer.
Die fliek vertel die storie van die jong volwassene Pamina Vermaak, ʼn joernalis wie se lewe ʼn skielike wending neem wanneer sy besef dat haar lewe nie afspeel soos sy dit wou hê nie. Nadat sy haar werk bedank en met haar luiaard kêrel uitmaak, vlug sy na haar tuisdorp, Eigelaarsdrif, waar sy met menigde ou foute gekonfronteer word. Sy moet nou hierdie onvoltooide sake kaalvuis aanpak voordat sy kan aanbeweeg. Terselftertyd word ʼn popsanger, Wolf de Jager, na Eigelaarsdrif gestuur om weg te kom nadat sy hart gebreek is en waar hy hoop om weer sy muse te vind. Soos die noodlot dit wil hê, vind die twee mekaar en ons moet wag om te sien of hulle mekaar sal aanvul, of verder vernietig.
Die fliek spog met legendariese akteurs soos Anna-Mart van der Merwe, Lee-Ann van Rooi en Hélène Truter, maar dit is die uitmuntende Carla Smith wat die fliek sy betowerende toon gee. Dit is dus geen wonder dat Carla met die toekenning vir beste aktrise in ʼn speelfilm by die Silwerskermfees weggestap het nie. Alhoewel daar menigte oomblikke is waar ʼn mens sukkel om van die hoofkarakter Pamina te hou, veral weens haar selfgesentreerde houding, is dit Carla se egte, onpretensieuse toneelspel wat verseker dat ons nie anders kan as om by die karakter betrokke te raak en vir haar geluk toe te wens nie.

Die draaiboek is absoluut fenominaal in ʼn nuwerwetse styl geskryf waarin jong mense se identiteit op die voorgrond tree en met skerp dialoog gepaardgaan. Dit is presies die inhoud waarna jongmense hunker – veral in Afrikaans, want dit wys dat ʼn Afrikaanse fliek net so sexy en cool kan wees soos ʼn Netflix-reeks. Die interessante newekarakters gee die klein dorpie waarin die storie afspeel ʼn verwelkomende karakter en hulle gee aan die rolprent kleur en komediese verligting wat die kyker sonder twyfel sal laat glimlag.
Op ʼn tegniese vlak is Die Tragiese Saak van Pamina Vermaak met Silwerskerm-toekennings vir draaiboek, kinematografie en redigering bekroon. Johannes Pieter Nel se kinematogafie beeld die pragtige natuurskoon en klein dorpie se sjarme uit. Sy speling met beligting en kleur is ʼn kunswerk op sy eie. Die redigering bou ʼn pas wat rustig maar só effektief is, terwyl Tim Pringle se klankontwerp ons na ʼn wêreld wegvoer wat besonders en opmerklik eg is. Die rock-musiek klankbaan sal beslis ʼn groot aantrekkingskrag vir jongmense inhou.
Hoewel die fliek as ʼn romatiese komedie geklassifiseer word, bevat dit genoeg elemente van ander genres om almal te vermaak. Die storie is propvol kinkels, snaakse oomblikke en onopgesmukde lewenslesse. Kykers sal beslis by die hoofkarakters se jongvolwasse onsekerheid en ontnugtering met die ‘grootmenswêreld’ aanklank vind.
Ek hoop vir seker dat ons na nog vele wonderlike Kabous Meiring films kan uitsien. Ek stel voor dat niemand hierdie vermaaklike, Silwerskerm-bekroonde film misloop nie!
Die Tragiese Saak van Pamina Vermaak sal vanaf Sondag, 11 Februarie op DStv BoxOffice beskikbaar wees.
Meer Inligting
Speeltyd
90 min
Skrywer en Regisseur
Elanie Rupping & Bibi Slippers | Kabous Meiring
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
10-12 PG
Rolverdeling
Carla Smith, Christiaan Schoombie, Anna-Mart van der Merwe, Lee-Ann van Rooi, Albert Pretorius, Duane Williams, Armand Aucamp, Rolanda Marais
Sterre
5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Chanté Gorit
Verdere Resensies
Semi-Soeter – meer lag as logika
Semi-Soeter bring Jaci en JP terug in ’n vrolike opvolg vol voorgee-ouerskap, babahumor en emosionele oomblikke. Met Anel Alexander, Nico Panagio en Neels van Jaarsveld spog die film met sterk spel, asemrowende Suid-Afrikaanse tonele, en ’n eg Afrikaanse klankbaan wat die Hollywood-styl balanseer. Al neig die humor soms na slapstick, bied die film genoeg plaaslike geur, hartroerende oomblikke en prettige verrassings om dit ’n moet-kyk op Netflix te maak vir enige liefhebber van Afrikaanse romantiese komedies.
Die Dekonstruksie van Retta Blom – “Ek sien ’n blom.”
Ontdek die hartroerende Afrikaanse rolprent Die Dekonstruksie van Retta Blom, ’n aangrypende verwerking van Zelda Bezuidenhout se topverkoperroman. Met Pieter Grobbelaar as regisseur en Antoinette Louw in die hoofrol, verken hierdie emosionele drama selfontdekking, identiteit en persoonlike transformasie deur die oë van ’n vrou wat haar lewe herbou. ’n Moet-sien vir liefhebbers van karaktergedrewe stories en Afrikaanse rolprente.
The Fix – Hierdie fliek is dalk net die “fix” wat jy nodig het
The Fix is ‘n Suid-Afrikaanse wetenskapfiksiefliek wat ‘n model se transformasie in ‘n distopiese Kaapstad volg, met indrukwekkende spesiale effekte en ‘n sterk plaaslike rolverdeling.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging