Toorbos – ‘n Nuwe baadjie vir ou storie
Resensie
In Toorbos ontmoet ons die mooie Karoliena Kapp (fenominaal gespeel deur Elani Dekker), ‘n arm meisie wat in die Knysna bos grootgeword het in die tyd toe die laaste bosbewoners nog daar gewoon het. Haar pa is oorlede toe sy net sewe was en saam met haar geharde ma, Meliena (Ira Blanckenberg), het die bos hul enigste toevlug geword. Kort voor lank vra Johannes Stander (met ‘n sekere sjarme deur Stiaan Smith vertolk), wat self in die bos gebore is, haar om te trou. Hy het intussen homself as ‘n suksesvolle sakeman in die dorp gevestig, en dit blyk of sy boslewe ver in die verlede agtergelaat is. Maar vir Karoliena is dit nie so maklik nie. Boomsap vloei nog sterk in haar are, en sy verlang vinnig ‘huistoe’. Die regering het egter planne om van al die bosinwoners ontslae te raak, en Karoliena se hart word behoorlik vasgevang tussen die boom en die bas – tussen stofpad en teerpad. Soos die res van die woudbewoners verplaas word moet sy vinnig en ernstig besluit waar, en saam met wie, haar toekoms lê.
Toorbos is een van Dalene Matthee se vier bosboeke, en terwyl Kringe in ‘n Bos en Fiela se Kind baie meer bekend is, en albei ook al in films omskep is, het hierdie storie óók nou nuwe lewe gekry. Die draaiboek is verwerk deur René van Rooyen, wat ook vir die puik regie verantwoordelik was. Die rolverdeling (asook die filmspan) bestaan uit veterane – elkeen met sy of haar eie rits filmkrediete en toekennings agter die blad, maar dis nuweling Elani Dekker as Karoliena wat die kollig steel. Met haar groot, onskuldige oë, en haar bos-aksent (waaraan sy drie maande lank gewerk en geskaaf het) kry sy dit reg om die “toor” in Toorbos te sit.
‘n Mens kan amper nie glo hoeveel emosie sy kan ontlok juis sónder om emosie op haar gesig te wys nie. Gretschen Ramsden as Hestertjie, Karoliena se beste vriendin, asook ‘n kort, maar kragtige verskyning deur die bekende akteursegpaar Lida en Johan Botha, het ook vir my uitgestaan, terwyl die rolle van Miss Macmaster (Clare Marshall), Bothatjie (Ivan Abrahams) en Meliena Kapp (Ira Blanckenberg) net so goed vertolk is.
Oorspronklike musiek deur Andries Smit sorg vir ‘n ekstra dimensie en gee nie net die fliek in geheel nie, maar veral die bos, lewe – soveel so dat jy die bome hóór asemhaal. Aangesien dit in die 1930’s afspeel, was die werk van die produksieontwerper, grimeer- en haarkunstenaar en kostuumontwerper veral belangrik, en hulle het nie teleurgestel nie.
Hoewel die storie hoofsaaklik oor ons heldin handel, en oor haar soeke na innerlike vreugde, vrede en geluk, is daar ‘n ander fasset wat ook vir my uitstaan as ‘n deurlopende tema, en dit word mooi opgesom in die woorde van Bothatjie in sy gesprek met Karoliena: “Ek het kom dink oor wat om te doen… oor die wêreld so deurmekaar is.” Dis dalk goed om daaraan herinner te word dat die wêreld nog altyd deurmekaar was – vir elke generasie op sy eie manier. Ek wonder nogals wat Bothatjie vandag daarvan sou sê?
Toorbos het ‘n baie stadige pas en dit kan hier en daar langer voel as wat dit is. Die produksie het my egter ook herinner aan ‘n feëverhaal, met Karoliena as die bosnimf opsoek na haar prins, maar in Afrikaans. So as jy lus het (of nodig het) om na ‘n ander wêreld, lank, lank gelede te ontsnap, is Toorbos nét die regte medisyne.
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
13 P S
Rolverdeling
Elani Dekker, Stiaan Smith, Ira Blanckenberg, Ivan Abrahams, Clare Marshall, Gretchen Ramsden
Sterre
3/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout
Verdere Resensies
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
“The Trek” resensie: ‘n Karoo-western oor die Uys-gesin se wraaksugtige reis. Meekaaeel Adam se debuut.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



