Stam – Hiérdie boom se wortels skiet diep

Resensie

11/11/2020

Stam het reeds die toekenning vir Beste Suid-Afrikaanse Film by die pas afgelope Durbanse Internasionale Filmfees ontvang. Sonder dat ek enige van die ander films gesien het, kan ek verstaan hoekom. Die storie ruk jou vanaf die openingstonele met ‘n harde slag reg binne-in die lewens van die (doodgewone) hoofkarakters in, vat jou vir ‘n wilde rit vir ‘n uur en vyftien minute, en spoeg jou weer aan die einde uit sonder dat die kyker noodwendig enige antwoorde ryker is. Hierdie is nie ’n tipiese mooi storie met ‘n mooi einde nie, maar eerder ‘n realistiese kykie na die drama wat oor ‘n bepaalde tydperk in vyf heeltemal verskillende, en aanvanklik (of so lyk dit) heeltemal ongekoppelde mense se lewens afspeel. Die tema wat wel deurgaans al hoe duideliker word, is hoe mense (hoe lukraak ook al) tog ‘n konneksie met mekaar het. 

Twee van my gunsteling films ooit is Manchester By The Sea en Three Billboards Outside Ebbing, Missouri, en hoewel albei natuurlik óók ‘n baie unieke storielyn het, het iets omtrent Stam my aan beide hierdie meesterstukke herinner. Dalk is dit die lukraakheid van die verhaal met die dat jy nie regtig weet wat om te verwag nie, net om dan onwillekeurig betrokke te raak by die doen en late van die siele wat op die skerm verskyn.

Van ‘n verpleegster (Tarryn Wyngaard) en ‘n polisieman (Gideon Lombard) wat oor die kleurgrense vry, tot sy broer (Armand Aucamp) wat ‘n dwelmverslaafde prostituut (Inge Beckmann) verneder en mishandel, tot  haar onskuldige seuntjie (Neil Heyns) wat met ‘n vreemde man (Niza Jay) met sy eie probleme kennis maak en deur hom gehelp word, word die kyker deurgaans gewys hoe almal eintlik met mekaar verbind is. Daar is ook talle tonele waar die karakters binne etlike meters van mekaar kom, waar hul storie heeltemal kan verander as hulle net van mekaar se teenwoordigheid bewus was, maar waar daar dan iets gebeur wat verhoed dat hulle enigsins van mekaar weet. Die kyker wil amper skreeu: “Kyk om!” of “hy’s net langsaan!”, en dis juis die punt. Ons maak elke dag split-sekonde besluite, wat ‘n rippel effek op ons toekoms, asook op diegene om ons het. Stam herinner die kyker hieraan.

Die rolverdeling is in die kol en dit voel of haat, emosionele bagasie, rassisme, skuldgevoel, magspel en stereotipering gemaklik die bykarakters word. Kras taal dra by tot die hiper-realistiese dialoog, en die musiek pas goed.

Goeie tegniese elemente, vanaf die kinematografie (met talle naby skote met die hand), die redigering, en veral die gradering, versterk die storie. Die klank, van stad tot straat (en spesifiek die byklanke) speel ook ‘n groot rol om die kyker binne-in elke situasie met die karakters te plaas.

Ek sou wel graag meer van Kaapstad wou sien. Die enigste rede hoekom ek weet dit speel daar af, is omdat ek dit iewers gelees het, maar mens sien nooit enige dele daarvan nie – nie eens ‘n langskoot of ‘n lugskoot nie. Daar was een toneel waar ek ‘n gedeelte van ‘n berg in die agtergrond kon uitmaak, maar dit kon regtig enige plek gewees het.

In terme van simboliek, veral die film se begin en einde, het ek gehou van die toneel waarin die hoofkarakters, nadat jy met elkeen kennis gemaak het, almal gesien word in ‘n vervoermiddel wat van regs na links op die skerm ry na hul onderskeidelike bestemmings, waarna elkeen se krisisse regtig vlamvat. Asof hulle binne-in hul drama injaag, net om die karakters aan die einde weer te sien loop van regs na links, elk nadat hul lewens onherroeplik aangeraak en selfs verander is. Die kyker word gelaat met ‘n skoot van die jong  Jonah, die einde van ‘n spesifieke stel dramas en ‘n nuwe begin vir almal, of dit nou goed of sleg is.

Stam is uniek. Dis nie ‘n storie wat ek al in Afrikaans gesien het nie, en dis dieper as die lyne tussen Armand Aucamp se maagspiere, so wees gereed om te dink.

Meer Inligting

Speeltyd

75 min

Skrywer en Regisseur

Louw Venter

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

18 DLPS SV V

Rolverdeling

Gideon Lombard, Tarryn Wyngaard, Niza Jay, Inge Beckmann, Armand Aucamp, Neil Heyns

Sterre

4/5

Loket

Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout

Roelof Bezuidenhout is tans die Video Produksiebestuurder en Storie-redakteur by die EDUNAKHO-groep, ’n wêreldwye opvoedkundige mediamaatskappy wat voornemende MBA- en meestersstudente ondersteun. Hy het voorheen die Hoër Sertifikaat-kursus in Film, Televisie en Vermaak by AFDA in Gqeberha (Port Elizabeth) gelei, waar hy ook sy MFA verwerf het, en hy het akademiese rolle by beide AFDA en Boston Media House beklee.

Verdere Resensies

Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos

Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos

Hunting Jessica Brok is ’n intense Suid-Afrikaanse aksierolprent oor ’n voormalige elite-soldaat (Danica Jones) wat haar donker verlede in die gesig staar wanneer ’n sadistiese vyand (Richard Lukunku) terugkeer vir wraak. Propvol ontploffings, gevegte en nagbytende spanning. Regie deur Alastair Orr. ’n Brutale, stylvolle aksiefliek wat maklik met Hollywood meeding.

read more
Kopiereg © 2026 Bioskoop Flieks NWM. Alle Regte Voorbehou. | Gemaak met deur Rick Bronkhorst