Griekwastad – ʼn Onrusbarende reis deur ‘n doolhof van tergende vrae

Resensie
Op Goeie Vrydag 2012 is die klein Noord-Kaapse dorpie Griekwastad geruk deur die nuus van ʼn wrede plaasmoord. Die slagoffers Deon, Christelle en Marthella Steenkamp was geliefde inwoners en steunpilare van hierdie niksvermoedende utopiese gemeenskap.
Met die eerste onheilspellende klanke en rukkerige beelde van ʼn plaasbrak wat ‘n dooie mol genadeloos rondruk besef die kyker gou dat die ware gebeure van daardie dag nie met enige strooisuiker opgedis gaan word nie. Griekwastad is gebaseer op Rapport joernalis Jacques Steenkamp se gelyknamige boek oor die moorde wat Suid-Afrika tot in haar fondamente geruk het.
Kaptein Dick de Waal (gespeel deur Arnold Vosloo) soek na antwoorde terwyl hy self probeer sin maak van die wrede werklikheid. Dick se kollega Andre Mcanda (gespeel deur die uitmuntende Jody Abrahams) sorg vir komiese oomblike terwyl nuweling Alex Van Dyk die eintlike aandag trek. Alex staan die skoene van Don, die enigste oorlewede lid van die Steenkamp-gesin, met oorgawe vol.

Alhoewel almal wat die tragedie destyds in ongeloof gevolg het, weet wat die uiteinde van die saak was, is dit Alex se siellose gesigsuitrukkings, lewelose oë en skrapse dialoog wat telkens ʼn ongemaklike rilling teen die kyker se rug laat afrol. Ander karakters soos Joe Scholtz, die Steenkamps se buurman word met ʼn amper tasbare en oortuigende meegevoel deur Albert Maritz vertolk, en Jane van Wyk as Marthella, die vermoorde suster van Don, sal ook lank na die eindtitels by die kyker spook.
Tegnies word Griekwastad in ʼn semi-dokumentêre formaat aangebied. Onderhoude word in-kamera met inwoners van die dorp gevoer om ʼn idee te kry van wat hulle van die gebeure dink en wat ʼn moontlike motief vir die moorde kon wees. Die kamera word as ʼn onheilspellende oog ingespan wat sielloos rondsweef en die gruwels in die fynste detail vasvang. Jozua Malherbe verdien hier nie net ʼn veer in sy hoed as regisseur nie, maar ook as kinematograaf.
Te danke aan ʼn knap regie en geslaagde draaiboek deur Tertius Kapp is Griekwastad deurspek met visuele simboliek oor die onbekende, die dood en tergende vrae oor boosheid. Nes die donker gebeure wat daardie Vrydagmiddag op die plaas Naauwhoek afgespeel het en ʼn gemeenskap na vrae laat soek het, is ons vandag agt jaar later steeds nie nader aan ʼn duidelike antwoord nie. Griekwastad probeer geensins om antwoorde te kry nie, maar neem sy kykers eerder op ‘n onrusbarende reis deur ʼn doolhof van tergende vrae.
Meer Inligting
Speeltyd
103 min
Skrywer en Regisseur
Tertius Kapp | Jozua Malherbe
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
18 L N P SV V
Rolverdeling
Arnold Vosloo, Alex van Dyk, Jody Abrahams, Jane De Wet, Deon Lotz, Thim Theron, Ira Blankenberg, Rolanda Marais, Albert Pretorius, Esther Von Waltsleben, Sisanda Henna, Lida botha, Johan Botha, Marvin Lee Beukes, Albert Maritz, Charlene Roux, Gérard Rudolf
Sterre
3.5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Gerhard Ehlers
Gerhard Ehlers is ‘n film en televisie produksie dosent by die Boston Media House kampus in Sandton, Johannesburg. Gerhard het homself nog altyd as ‘n storieverteller beskou, en reeds op Hoërskool die draaiboeke en regie van drie onafhanklike kortfilms nl: “Friendly Conscience”, “Die Heuningwyser” en “Sekelfontein” behartig.
Verdere Resensies
Street Trash – waar bloed nie rooi (of blou is nie), maar alle neonskakerings!
Street Trash (2025) – ’n neonbelaaide, gruwelkomedie in ’n distopiese Kaapstad wat bloed, satire en sosio-politiese kommentaar meng vir ’n wilde, onvergeetlike rit.
Jungle Beat 2 – heerlike animasie-vermaak vir die jongspan
Jungle Beat 2: The Past is kleurvolle animasie-vermaak propvol avontuur, dinosourusse en lewenslesse vir kinders. Lees ons resensie oor hierdie Afrikaanse storie wat jong en ou kykers op ’n prettige tydreis neem.
A Kind of Madness – ʼn Pragtigeblik op herinneringe van dae lank gelede
A Kind of Madness is ’n roerende Afrikaanse fliek oor demensie, liefde en herinnering. Met sterre soos Sandra Prinsloo en Ian Roberts, bied die film ’n meesleurende blik op ouerword, familie en die krag van ware liefde. Lees ons volledige resensie.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging