The Furnace – Roodt bring ’n filmiese taal na geloofsrolprent
Resensie
Binne die eerste vyf minute van my kykervaring blyk dit vir my of The Furnace geteiken is op ʼn Noord-Amerikaanse gehoor. Dié tipe teikengehoor wat rolprente soos War Room (2015), The Shack (2017) waardeer. Daarom het ek direk ná afloop van die rolprent die woorde: “Hoe om ʼn geloofsgebasseerde fliek te resenseer” op die internet opgesoek. Helaas het Google nie vir my antwoorde gehad nie. Daarom sal ek nou hierdie fliek nes enige ander een moet resenseer, al weet ek dat kerk- en Bybelstudiegroepe heel moontlik met ʼn ander lens na die fliek sal kyk.
Darrell Roodt en Phoenix Films se rolprente is vir my sinoniem met twee dinge: Té veel produkplasing (ongelukkig) en ongelooflike mooi skote van natuurtonele. Wat eersgenoemde betref, is die produkplasing in hierdie rolprent (gelukkig) beperk en sou ek dit bes moontlik nie eers agtergekom het, as dit nie die rolprentmakers se gunsteling produkte (“brands”) was wat terloops in die hoekie van die skerm verskyn het nie. Dit is ook gemotiveerd ten opsigte van die storie, en ek sou dit nie eers opgehaal het, as dit nie was dat vorige rolprente soveel kritiek daaroor ontlont het nie.
Dan kom ek by die tweede punt. Die kinematografie. Van Stilte tot Mignon Mossie van Wyk en nou weer met The Furnace, kry Roodt dit elke keer reg om my asem weg te slaan met sy skote. Kinematograaf Justus de Jager verdien net soveel lof, want dit verg kreatiwiteit, geduld en fyn beplanning om die tipe skote te kry wat soos my rekenaar se sluierskerm (“screensaver”) lyk. Dié tipe kinematografie, gekombineer met die asemrowende tonele van wilde diere, sal reeds genoeg wees om my te noop om dit op die grootskerm te gaan kyk.
Maar die grootste pluimpie moet aan die hoofaktrise Jamie Bernadette gaan, wat my saam met haar laat sweet, huil, krul van die pyn en laat lag het. Haar spel is besonders, veral in ʼn rol wat uiters uitmergelend moes gewees het.
Nou het ek julle seker lank genoeg aan ʼn lyntjie gehou oor wat die storie behels. Die langafstand drawer, Mary Harris, verloor tydens ʼn noodlottige ongeluk beide haar man en haar geloof. By die graf van haar man, moedig ʼn wyse man uit Afrika, Coffin (Luthuli Dhlamini) haar aan om steeds aan die wedloop deel te neem wat sy en haar man van plan was om saam te doen. Hy hoop dat dit haar die wil om te lewe, en miskien ook haar geloof, sal teruggee.
Die storie herinner aan Cory Reese se roman, Into the Furnace, met ʼn enkele kopknik na Francine Rivers se Merk van die Leeu-reeks, maar Roodt en de Jonge se teks kry dit hoofsaaklik reg om nie te prekerig te raak nie. (Buiten vir een spesifieke toneel, waaroor die kyker eerder self ʼn oordeel moet fel).
The Furnace is kykstof van die hoogste tegniese gehalte wat beslis by gelowiges sal aanklank vind.
Meer Inligting
Speeltyd
90 min
Skrywer en Regisseur
Darrell Roodt en PG de Jonge | Darrell Roodt
Webtuiste
Skerms
25
Ouderdomsbeperking
PG
Rolverdeling
Jamie Bernadette, Luthuli Dhlamini, Laura Linn, Thandi Puren en Armand Aucamp
Sterre
3/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren
Verdere Resensies
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
“The Trek” resensie: ‘n Karoo-western oor die Uys-gesin se wraaksugtige reis. Meekaaeel Adam se debuut.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



