Liewe Liesa – ’n Valentynstorie met ʼn kinkel in die kabel
Resensie
Elke mens se lewe loop kinkels en draaie. Dikwels beland jy voor ʼn kruispad met die keuse tussen regs en links draai. Maar hoe gemaak as een verkeerde besluit jou hele toekoms kan verwoes? Kry elkeen ’n tweede kans, of is dit soms net-net te laat? Dit is van die vrae wat die onafhanklike debuutrolprentmaker, Hendrik Cronjé, afvra in Valentynsdag 2019 se Afrikaanse rolprent, Liewe Lisa.
“Eerlik” en “liefdesverhaal” is twee woorde wat ’n mens gewoonlik nie in een sin teëkom nie – veral nie as dit by Afrikaanse rolprente kom nie. Laasgenoemde wys dikwels net die soetsappige, halsoorkop verliefdheid met ʼn bypassende gelukkige einde. Cronjé het duidelik ’n ander idee beetgehad toe hy die verhaal van Daniel en Lisa neergepen het. Hy put inspirasie uit die 1960’s film, The Graduate. Die storie handel kortweg oor Daniel wat drome het van skrywer word en in dié warboel van emosies ’n verhouding aanknoop met die getroude vrou van ’n suksesvolle besigheidsman. Daniel raak dan boonop verlief op dieselfde besigheidsman se dogter. Dit klink kompleks, maar die lewe is mos maar kompleks. Die kykers word ingetrek by Daniel se lewensbesluite, goed én sleg, en sit voortdurend op die punte van hulle stoele om uit te vind of Daniel tog geluk (en liefde) sal vind.
Kort na die fliek se begin, wonder ’n mens hoe Kompanjie Stories dit kon regkry om so ’n “plesier-vir-die-oog” rolprent self te kon finansier. Die hoë produksie-waarde van Liewe Lisa is ook wat die rolprent dra en opmaak vir ander klein tekortkominge (veral ten opsigte van die teks en toneelspel). Die prentjiemooi vissersmansdorpie tonele (verfilm in St Helena Baai en Stompneusbaai) skets die agtergrond vir die grootste deel van die storie en speel pragtig teen die struwelinge in Daniel se lewe en gedagtes af. Johannes Pieter Nel en Ebert Steyn verdien voorwaar applous vir hulle kinematografie – ja dis reg, Liewe Lisa spog met twee kinematograwe!
Nog ’n 10/10 element van Liewe Lisa is die rolprent se ongelooflike klankafronding. Dit sluit in produksieklank deur Jason Cogill, finale klankontwerp deur Ben Ludik en die meesleurende klankbaan van Danie du Toit (voorsanger van die bekende groep, Spoegwolf). Klank speel ’n belangrike rol in die emosiebelaaide gebeure op die grootskerm en Danie se stem en komposisies voeg onmisbare waarde tot die eindproduk by. Dis ook verfrissend om ‘n nuwe komponis in die eindkrediete te sien debuteer, omdat ’n mens deesdae dikwels net dieselfde name oor en oor onder die musiekkrediet sien.
Wat die teks en toneelspel betref is daar hier en daar klei getrap en het debuutregie deurgeskemer. ’n Paar karakters se dialoog het hak-hak en onnatuurlik voorgekom, waar ander tonele weer moeiteloos gevloei het. Elani Dekker (Lisa) en Hendrik Cronjé (Daniel) in die hoofrolle het hul goed van hul taak gekwyt en tesame met Zane Meas (wat die karakter van Tom vertolk), vorm hul ’n gedugte span wat uiters natuurlik op die grootskerm vertoon. Daar is wel dele waar mens die romanse tussen Lisa en Daniel betwyfel, so asof daar nog plek-plek aarseling was. Meas bring as byspeler ’n dinamiese element na die rolprent en is sonder twyfel die mees geloofwaardige speler in die fliek. Ander groot name, soos Albert Maritz, Barbara-Marie Immelman, Stian Bam en Crystal-Donna Roberts, is ook te sien.
Liewe Lisa is in baie areas ’n proefkonyn, maar dit bied ʼn blik op die blink toekoms wat ek glo nog vir Kompanjie Stories voorlê. Dis ’n film wat jou laat besin oor jou eie lewe – hoe elke keuse wat jy neem ’n gevolg het. Maar is dit ooit te laat om jou lewensroete te verander? Kyk die fliek en besluit self.
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
13 D L S
Rolverdeling
Hendrik Cronjé, Elani Dekker, Zane Meas, Albert Maritz, Barbara-Marie Immelman, Stian Bam, Marco Spaumer en Crystal-Donna Roberts
Sterre
3/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren
Verdere Resensies
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
“The Trek” resensie: ‘n Karoo-western oor die Uys-gesin se wraaksugtige reis. Meekaaeel Adam se debuut.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



