Beyond the River – Strewe na goud
Resensie
Die Amerikaners gebruik gereeld die term “buddy film” wanneer die twee hoofkarakters (gewoonlik mans), met uiteenlopende agtergronde en persoonlikhede, se paaie kruis en hulle uiteindelik vriende word. Dink byvoorbeeld aan The Shawshank Redemption en Sherlock Holmes, waar die twee sentrale karakters soos dag en nag verskil, maar tog byeenkom, gewoonlik met dieselfde doelwit voor oë. Net so is Beyond The River ook ’n “buddy” rolprent, alhoewel Steve en Duma se storie met ’n ryk Suid-Afrikaanse agtergrond spog, wat veel dieper as net ’n toevallige ontmoeting strek.
Beyond the River is gegrond op die ware verhaal van Siseko Ntondini (hy heet Duma in die rolprent) en Piers Cruickshanks (genaamd Steve in die rolprent), die twee kanoeroeiers wat saam vir goud in die 2014 Dusi Kanomarathon meegeding het. Die rolprent beeld Duma (Lemogang Tsipa) en Steve (Grant Swanby) as twee individue uit, wat elkeen met sy eie swakhede en probleme worstel, maar albei het ’n innerlike dryfkrag wat skrik vir niks. Duma is ’n arm jongman van Soweto wat kragkabels steel om geld aan sy familie te voorsien. Duma wil graag uit hierdie maalkolk van misdaad wegbreek, maar weet nie hoe nie. Wanneer dinge skeefloop en die polisie sy beste vriend, Zama (Kgosi Mongake), vastrek en opsluit, vind Duma ’n nuwe tuiste in die kanoewêreld, danksy Oupa (Israel Sipho Matseke Zulu) se aanmoediging. Steve aan die ander kant, is al van jongs af ’n gedrewe sportman; dalk té gedrewe. Hy en sy vrou se huwelik is op die rotste en hy probeer tot verhaal kom na ’n hartseer tragedie uit sy verlede. Sy kano is sy veilige hawe. Wanneer Steve se jarelange roeimaat besluit om saam met iemand anders aan die opkomende Dusi deel te neem, verskyn Duma soos manna uit die hemel. Teen daardie tyd spog Steve alreeds met nege goue Dusi-medaljes en weet hy nie of hy vir die jong, onervare Duma as spanmaat kans sien nie. En so begin hulle paadjie saam, vol stampe en stote, maar ook vol wonderlike ontdekkings en lewenslesse.
Swanby en Tsipa ontpop waarlik as twee helde op die grootskerm. Beide se vertolkings is eg en laat die kyker met deernis vir die ware helde (Ntondini en Cruickshanks). Daar het duidelik baie navorsing in die skeppingsproses van hulle karakters gegaan, om nie eens daarvan te praat dat hulle soos werklike roeikampioene moes lyk nie. Hulle dinamika as spelers is ook tot die uiterste beproef in hulle karakters se wisselwerking in die rolprent. Soos Duma en Steve koppe stamp en twee uiterstes is, net so kan ’n mens sien hoe Tsipa en Swanby ook moontlik nie as akteurs dadelik gekliek het nie. Hierdie skynbare botsing van persoonlikhede kom baie goed op die grootskerm oor. Nes Duma en Steve, kan die kyker dan ook waarlik glo dat Tsipa en Swanby teen die einde van die rolprent se verfilming uitgestap het as vriende wat mekaar waarlik leer ken het.
Die bykarakters is net so behendig op die skerm. Veral die karakters Oupa en Zama word kernpilare van die rolprent se oorhoofse tema: die strewe na ’n beter lewe of ’n groter doel. Daar is wel ’n paar wisselwerkinge tussen spelers wat nie so geslaagd is nie. Steve en sy vrou, Annie (Emily Child), se verhouding en spesifiek hulle huweliksprobleme raak weg in die chaos van al die roeigebeure. Ons sien ook min van die verhaal uit Annie se perspektief, wat dalk sou gehelp het om haar ’n meer driedimensionele karakter te maak. Die ander roeiers en roei-afrigters voel ook soms nie heeltemal gesetel in die rolprent nie.
Die water is wel ten volle gesetel in die rolprent en word amper nog ’n karakter. Die kinematografie is uitstekend aangewend en maak van Beyond the River ’n lekkerkyk rolprent, tussendeur al die swaar temas wat aangespreek word. Die roeitonele is mooi en word die versinnebeelding van die onwaarskynlike vriendskap wat besig is om gesmee te word. Die redigeerder, Nick Costaras, het veral met tempo rondgespeel om die effek van die water baie goed vas te vang: die majestieuse krag van die druppels as dit in halfspoed oor die skerm flits is omtrent ’n gesig! Die plakkersgebied waar Duma bly word ook goed in beeld vasgevang. Dit is veral ’n treffende blik van Duma se silhoeët teen die agtergrond van die stad se liggies in die verte wat jou sal bybly.
Die oorspronklike klankbaan deur Chris Letcher is treffend en nie te oorweldigend nie. Daar was wel ’n paar steurende bekende liedjies gebruik, wat die emosie van die fliek onnodig probeer dryf. As ’n storie so goed is soos in hierdie geval, is dit onnodig om staat te maak op patriotisme in die vorm van musiek. Die storie op sigself is genoeg en die musiek steel onnodig die kalklig op plekke.
Beyond the River gaan oor meer as net om goud in die Dusi te wen. Dit gaan oor twee Suid-Afrikaners se intense poging om saam te werk en saam te verower. Die medalje word eindelik ’n bysaak as hierdie twee mense besef dat hulle oor baie meer triomfeer in hulle afsonderlike en gesamentlike reise. Ek het geïnspireerd uit die teater gestap en vermoed dat jy ook so ’n lekker, warm gloed sal ervaar. As ek ’n sê gehad het, sou Beyond the River sonder twyfel ’n nominasie vir beste buitelandse film in die volgende Oscars wees.
Meer Inligting
Speeltyd
111 min
Skrywer en Regisseur
Craig Freimond, Robbie Thorpe | Craig Freimond
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
7–9PG
Rolverdeling
Grant Swanby, Lemogang Tsipa, Israel Sipho Matseke Zulu, Emily Child, Mary Twala, Kgosi Mongake, Paul du Toit en Garth Breytenbach
Sterre
4/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren
Verdere Resensies
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
“The Trek” resensie: ‘n Karoo-western oor die Uys-gesin se wraaksugtige reis. Meekaaeel Adam se debuut.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



