Johnny is Nie Dood Nie – SOOMLOOS… Van eerste snaar tot laaste noot
Resensie
Johnny is nie dood nie gaan oor… mense. Verhoudings. Vriendskap. Die Alternatiewe Afrikaanse Musiekbeweging. En die sleutelvraag: of die rebellie van die wit Afrikaanse student uit die tagtigerjare dan verniet was? Want dertien jaar later bevind ons vier hoofkarakters hulself opnuut weer vasgekluister agter hoë mure van pretensie, eensaamheid en ontnugtering.
Die storie begin by jou. Of by my. Die gehoorlid. Die “voyeur” wat op geheimsinnige wyse toegang tot die huis gekry het en nou besig is om na Lise te kyk terwyl sy slaap. Dan gaan haar oë onverwags oop en sy betrap jou (en my) wat skaamteloos besig is om haar af te loer. En sy kyk ons reg in die oë. Só gebruik regisseur Christiaan Olwagen sy kamera as ʼn gids om die storie haarfyn en tot op die fynste besonderhede te vertel.
Eerstens stel hy ons voor aan LISE, die karakter uit wie se oogpunt ons die grootste deel van die verhaal dophou. Lise (Rolanda Marais) is die “meisie van die bo-dorp”: Die karakter wat eintlik die joolkoningin moes wees, maar toe geweier het om te “konformeer” en aan die vereistes van ʼn perfekte Afrikaner damestudent te voldoen.
Dan ontmoet ons vir ANJA (Ilana Cilliers) wat sommer in een van die eerste tonele haar bynaam van “anargis” verdien wanneer sy uit ʼn dameskoshuis by Stellenbosch geskors word. Dít omdat sy op heterdaad, al rokende, met ʼn jong man in haar kamer betrap word.
Johnny is nie dood nie is nie ʼn maklike fliek om te kyk nie. Nes dit nie maklik is die eerste keer as jy ʼn Shakespeare-stuk lees nie. Tog besef jy dat jy armer daaraan toe sal wees as jy nie ten minste ʼn poging aanwend om die Engelse “bard” se stuk te verslind én te verteer nie. Dieselfde geld vir Christiaan Olwagen se debuut speelfilm. Dit vra ongemaklike vrae oor die Voëlvrybeweging se erfenis, terwyl dit ons konfronteer met die “sex, drugs and rock ’n roll” van die tydperk. As vloek en godslasterlike woorde jou pla, gaan jy beslis op jou tande byt – terwyl jy gaan wyfel om weg te kyk van tonele wat die destydse sensuurraad na hulle hartpilletjies sou laat gryp. Dit was die tydperk net so skuins ná die era van die hippies, en nes die grensverskuiwende Trainspotting van destyds, wys Olgawen dit net soos dit is.
Met só ʼn ambisieuse en uitdagende rolprent is die toneelspel maak of breek. Maar die deurwinterde en gesoute ensemble het hulle tande op die verhoog geslyp en wys vir ons wat in hulle steek. Hulle kweek empatie met die karakters, help ons om met hulle te identifiseer (al is hulle hoe ver van ons verwysingsraamwerk af) en laat ons nie ongemaklik daarmee voel dat ons steeds (tot op die einde) hulle ervarings as “voyeurs” deel nie. My enigste kritiek teen die toneelspel (as dit as kritiek beskou kan word), is dat Ludwig Binge met sy sjarme en elektrisiteit dikwels die skerm oorneem, waar ek glo dit eintlik Johnny se rol moes wees. Tog skitter Roelof Storm in die laasgenoemde rol en sou ek my nie ʼn ander Johnny kon voorstel nie.
Soos voorheen genoem, skep Olwagen en die kinematograaf, Chris Vermaak, absoluut die illusie dat die kyker deel van die storie is, en neem dit tegnieke wat onder meer Alfred Hitchcock in sy fliek Rope (1948) vervolmaak het, tot op ʼn nuwe vlak. In terme van klankontwerp, oorspronklike klankbaan en redigering kan ek net weereens sê: soomloos (en puik).
Birrie Le Roux en die res van die produksie ontwerp-span: van die kostuums tot die stelinkleding, is Oscar-gehalte (of dalk eerder Golden Globe-gehalte, met dié dat die Oscars so polities gedrewe is). ʼn Regisseur kan dalk besluit hy wil ʼn toneel so reg uit Alice in Wonderland op die planke bring – kompleet met ʼn “hubbly” rokende “chesire” kat (askuus, ek bedoel getatoeërde ou oom), maar dit is die produksieontwerper wat die haas uit die hoed uit moet pluk (verskoon die woodspeling) om vir die malkop “Mad Hatter” ʼn Voortrekkerkappie te kry. ʼn LSD-ervaring is seker ʼn eerste vir ʼn Afrikaanse fliek. Nie sedert Jans Rautenbach se Jannie Totsiens (1970) het ek iets só eksperimenteel in Afrikaanse rolprentwese aanskou nie. Maar die duiwel is ook in die klein details, soos wat die anglisisme sê. En in elke vertrek van die huis, elke skoot en in elke stuk rekwisiete, is daar ʼn simboliese prentjie opgesluit, wat ʼn kyker eers met die derde tot vierde kykslag sal raaksien.
Om mee af te sluit: Johnny is ʼn donker drama wat ʼn mens nie sonder handskoene (of dalk selfs ʼn wyn- of whiskeyglas) moet aandurf nie. Ek was bevoorreg om dit ʼn paar keer te kon kyk, voordat al die verskeie elemente en onderstebo simbole by my deurgesyfer het. So moenie dit op ʼn aand gaan kyk waarop jy eintlik lus is vir ʼn komedie nie. Maar bêre dit vir daardie aand wat jy die lewe, kuns en Afrikaanse rolprentwese wil vier.
Hoe kan ek dit verwoord, ja die lewe gaan nog voort… Kom ons drink op die een wat sy drome oorleef, wat kry wat hy vra…* en op Johnny wat heel moontlik ʼn universele simbool gaan word van ʼn hele generasie se ontnugtering met ʼn donkerland.
*Lirieke van Koos Kombuis
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
16 D L
Rolverdeling
Roelof Storm, Rolanda Marais, Ludwig Binge, Albert Pretorius en Ilana Cilliers
Sterre
5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren
Verdere Resensies
Bruid van die Jaar – Wanneer die bruid die kompetisie verloor, maar haar hart wen
Bruid van die Jaar is ligte, warm romantiese komedie-vermaak. Carine Rous skitter as Lienkie in dié vrolike liefdestorie vol snaakse wendinge. Nou in teaters.
Variasies op ʼn tema: Visuale poësie van die plattelandse landskap en sy mense
Lees die resensie van Variasies op ʼn Tema – ʼn bekroonde Suid-Afrikaanse rolprent oor erfenis en die Namakwalandse platteland.
Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos
Hunting Jessica Brok is ’n intense Suid-Afrikaanse aksierolprent oor ’n voormalige elite-soldaat (Danica Jones) wat haar donker verlede in die gesig staar wanneer ’n sadistiese vyand (Richard Lukunku) terugkeer vir wraak. Propvol ontploffings, gevegte en nagbytende spanning. Regie deur Alastair Orr. ’n Brutale, stylvolle aksiefliek wat maklik met Hollywood meeding.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



