Vuilwasgoed – Skoon lagwekkend
Resensie
“Dankie dat julle hier was.”
Met die lees van Vuilwasgoed se loklyn kan ’n mens nie help om te lag nie. Enige film met hierdie skerp sin vir humor is genoeg om selfs die suurste en meer ernstige gehore ’n paar tande te wys.
By die 2014 Silwerskermfees is die (toe) nuweling draaiboekskrywers, Bennie Fourie en Bouwer Bosch, met die gesogte prys vir Beste Kortfilm bekroon.Vuilwasgoed (die kortfilm) het almal onverwags betrap en gehore laat bulder van die lag. Dit het ’n goeie drie jaar geverg vir die konsep om sy pad van kortfilm na vollengte prent oop te baan. Uiteindelik is die wag verby.
Die storie volg min of meer dieselfde storielyn as in die kortfilm. Wim (Bouwer Bosch) en Kevin (Bennie Fourie) werk by “Die Borrel”, ’n sukkelende klerewassery wat hulle net as ’n tydelik besigheidsbedryf sien, totdat hulle groot droom om eendag hulle eie koffiewinkel oop te maak ’n werklikheid word. Hulle leen hulle kliënte se klere om snags na partytjies te gaan en maak dan seker dis weer skoon en gereed wanneer dit die volgende oggend afgehaal word. Wim en Kevin wat as jarelange pêlle steeds onder dieselfde dak woon en tipiese bleeksiel- belangstellings deel, help glad nie om potensiële meisies te lok nie… veral as jy in gedagte hou dat hulle al die 30-merk geslaan het.
Dan gebeur daar iets wat die twee verstrooide lummels se patetiese roetine om ver gooi. ’n Misterieuse karakter, Tom (Tim Theron), stap die wassery binne om sy leerbaadjie te laat was. Wim besluit om die einste cool baadjie vir die aand na ’n partytjie te dra en dan ondek die twee ’n afgekapte vinger in die baadjie se sak… dis hier waar Kevin en Wim in ’n wêreld van moord, korrupsie en ondergrondse mafia base verstrengel raak…met skreeusnaakse gevolge!
Vuilwasgoed kon nie op ’n beter tyd gekom het nie. Die afgelope ruk het Afrikaanse komedies as’tware weer ’n laagtepunt begin beleef, na ’n eens lang opwindende tydperk met suksesvolle komedies soos Hollywood in My Huis en Vir die Voëls. Gehore het begin verveeld raak met dieselfde “slapstick” invalshoek of eenvoudig té skoon humor wat ongemaklik en gebrekkig voorkom, soos in die geval van Kampterrein en Hoender met die Rooi Skoene.
Bennie Fourie wat sedertdien sy skryftalent in kykNET-reekse, soos Hotel en Phil 101, bewys het, en Bouwer Bosch, met sy spyker-op-die-kop komiese tydsberekening, is ’n wenkombinasie. Hierdie twee saam as Wim en Kevin stel definitief nie teleur nie. Met kraakvars dialoog wat nie skroom om vloekwoorde realisties te gebruik nie (nie net vir skok nie), aksietonele wat jou sal laat vasklou aan jou sitplek en redigering deur die talentvolle Quinn Lubbe (wat die prys vir Beste Redigering by die 2017 Silwerskermfees gewen het) en ’n rolverdeling uit die boonste rakke, beloof Vuilwasgoed om meer as net jou lagspiere te kielie.
Meer Inligting
Speeltyd
100 min
Skrywer en Regisseur
Bennie Fourie | Morné du Toit
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
16 L V
Rolverdeling
Bennie Fourie, Bouwer Bosch, Tim Theron, Stiaan Smith, Nico Panagio, Charlie Bouguenon, Simoné Nortmann, Leandie du Randt Bosch, Louis Minnaar
Sterre
4/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren
Verdere Resensies
Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos
Hunting Jessica Brok is ’n intense Suid-Afrikaanse aksierolprent oor ’n voormalige elite-soldaat (Danica Jones) wat haar donker verlede in die gesig staar wanneer ’n sadistiese vyand (Richard Lukunku) terugkeer vir wraak. Propvol ontploffings, gevegte en nagbytende spanning. Regie deur Alastair Orr. ’n Brutale, stylvolle aksiefliek wat maklik met Hollywood meeding.
Finding Optel – Optel mag dalk weg wees, maar die humor is beslis nie!
Finding Optel is ’n hartroerende en snaakse Suid-Afrikaanse komedie-drama oor ’n tienermeisie wat haar buurt se verlore hond soek — en haarself in die proses vind. Onder die regie van Jesse en Mikayla Joy Brown, met uitmuntende spel deur Mikayla Brown, Oscar Petersen en Maurice Carpede. ’n Vars, kleurvolle en menslike fliek vol humor en hoop.
Bloedhond – Heerlike bangmaak-vermaak vir Halloween-maand
Bloedhond is ’n bloederige, spanningsvolle Afrikaanse gruwelfliek vol koue rillings, donker humor en onverwagse wendings – perfek vir Halloween, met sterk spel deur Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz en Kevin Peyper, en beskikbaar op eVOD.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



