Frankie en Felipé – ʼn komedie wat jou lagspiere kielie
Resensie
Frankie en Felipé is ʼn (romantiese) komedie wat gaan oor aanvaarding. Om jou gesinslede te aanvaar, om jou wederhelfte onvoorwaardelik te aanvaar, en bowenal, om jouself te aanvaar. Dit is egter vir Franklin Blaze, voorheen Frankie Baadjies (Bradley Olivier) ʼn bomenslike taak, aangesien sy oorspronklike gesin hom in die weeshuis geprop het. Hy het sy hele lewe probeer om daardie deel te begrawe. Hy vertel selfs vir sy verloofde Kim Fortuin (vertolk deur Kim Syster) dat sy mense oorlede is. So, hoe gemaak wanneer sy broer, Felipé (Solomon Cupido) ná soveel jare weer sy opwagting maak? Juis in die week voor sy voorgenome troue?
Volgens die regisseur, Marvin-Lee Beukes, was dit die rolprentspan se doelwit om die stereotipe van bruin mense verkeerd te bewys. Dit was voorwaar ʼn verandering om ʼn bruin rolverdeling te sien wat nie grotendeels op die Kaapse Vlakte afspeel, of oor bendegeweld handel nie. Tog is dit nie ʼn realiteit waarvan die storie wegskram nie. Hulle kies net eerder om te fokus op hoe die karakters se lewe nou is, nadat hulle uit hierdie omstandighede uitgestyg het.
Ons het die twee akteurs, Bradley Olivier en Solomon Cupido, vir die eerste keer op die skerm leer ken as die grapjasse Borrie en Barry in Bakgat II (2010). Daarna het hulle gereeld saam op die kassie en die silwerdoek verskyn. Frankie en Felipé is die eerste keer wat ʼn vollengte rolprent aan hulle komiese ensemble-styl toegewei word, en dit is hartseer weens Olivier se skielike afsterwe. Die twee het my kompleet aan Al Debbo en Frederik Burgers herinner, Die twee weet van komiese tydsberekening.
Die skerp spel en dialoog waaruit die een kwinkslag na die ander vloei het voorwaar gemaak dat ek by hierdie komedie aanklank vind. Terwyl Zane Meas amper sinoniem is met die rol van Neville Meintjies uit 7de laan, gee sy karakter Bernerd Fortuin hom die kans om sy komiese spiere te bult. Kyle Shepherd se klankbaan speel ook ʼn boeiende rol. Ja, dit bly ʼn komedie, met die verwagte oomblikke uit die genre wat net té toevallig, of té dik vir ʼn daalder blyk te wees. Tog het dit my geensins van die storie vervreem nie, aangesien ek al gereeld Hollywood eweknieë vir soortgelyke sondes vergewe het.
Met ons Suid-Afrikaners se stresgevulde daaglikse lewens waar beurtkrag, nuus oor korrupsie, en bomenslike werskdruk dreig om ons te verswelg, was Frankie en Felipé beslis wat ek nodig gehad het om vir ʼn ruk te ontspan en waarlik te ontsnap.
Meer Inligting
Speeltyd
90 min
Skrywer en Regisseur
Bradley Olivier, Solomon Cupido, Brett Michael Innes | Marvin-Lee Beukes
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
PG
Rolverdeling
Bradley Olivier, Solomon Cupido, Kim Syster, Bianca Flanders, Ilse Klink, Zane Meas, Shimmy Isaacs, Danny Ross, Bouwer Bosch, Lee-Ann van Rooy, Brendon Daniels, Terence Bridgett
Sterre
3.5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout
Verdere Resensies
Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos
Hunting Jessica Brok is ’n intense Suid-Afrikaanse aksierolprent oor ’n voormalige elite-soldaat (Danica Jones) wat haar donker verlede in die gesig staar wanneer ’n sadistiese vyand (Richard Lukunku) terugkeer vir wraak. Propvol ontploffings, gevegte en nagbytende spanning. Regie deur Alastair Orr. ’n Brutale, stylvolle aksiefliek wat maklik met Hollywood meeding.
Finding Optel – Optel mag dalk weg wees, maar die humor is beslis nie!
Finding Optel is ’n hartroerende en snaakse Suid-Afrikaanse komedie-drama oor ’n tienermeisie wat haar buurt se verlore hond soek — en haarself in die proses vind. Onder die regie van Jesse en Mikayla Joy Brown, met uitmuntende spel deur Mikayla Brown, Oscar Petersen en Maurice Carpede. ’n Vars, kleurvolle en menslike fliek vol humor en hoop.
Bloedhond – Heerlike bangmaak-vermaak vir Halloween-maand
Bloedhond is ’n bloederige, spanningsvolle Afrikaanse gruwelfliek vol koue rillings, donker humor en onverwagse wendings – perfek vir Halloween, met sterk spel deur Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz en Kevin Peyper, en beskikbaar op eVOD.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



