Hen – Rasend honger en stilweg boos.

Resensie
Met die eerste skoot wat die skerm verlig is die stemming van Hen senutergend. Dawid ( Stian Bam) is besig om water uit ‘n put te trek. Die kamera kyk op vanuit die put na Dawid wat die planke een vir een wegskuif om by die water uit te kom. Die swart en wit beelde is nie net gestroop van kleur nie, maar ontbloot ‘n brutale boosheid wanneer hierdie verhaal uit die pen van Nico Scheepers sy ritme begin vind.
Dawid en Hanna (Amalia Uys) bevind hulleself op ‘n tydstip wat lyk soos die laat negentiende eeu op ‘n godverlate plaas waar hulle geloof al anker is teen die ongenaakbare landskap gevul met stof, stilte en eensaamheid. Nes die leegheid oral om hulle, is die dialoog in Hen baie skraps omdat die beelde harder praat en teen die einde skree. Op een van Dawid se uittogte na die put, kom hy op ‘n wrede toneel af. Vyf mense lê onder ‘n boom verskeur. Jakkalse?, dink Dawid, maar hierdie maak nie sin nie. In die middel van die lyke staan ‘n kis en in die kis vind Dawid ‘n bang en honger kind.
Dawid besluit om Lukas, meesterlik subtiel vertolk deur die nuweling Dawian van der Westhuizen, terug plaas toe te neem. Dis dan wat ‘n donker skaduwee oor die berge en vlaktes begin inbeweeg en ook oor Dawid en Hanna.

Sonder om te veel te verklap, herinner Hen aan die gruwelprente The Omen (1976) en tot ‘n mate Roman Polanski se Rosemary’s Baby (1968). Hen se magiese aantrekking lê in Scheepers se vermoë om die gruwel resep se clichés ten alle koste te vermy. Daar is geen skop-skrikke (“jump scares”) nie, en weinig musiek. Wanneer ‘n plaat oor die beul van ‘n grammofoon speel, kan die kyker amper die bonatuurlike onheil aanvoel. Dis juis die stiltes in Hen wat die hare op jou nek laat rys saam met Lukas se oë, leeg en vervloek.
Die vreemde en bisarre gebeure kruip stilletjies die plaas nader en begin Dawid en Hanna stadig te verander, tot so ‘n mate dat die uiteinde van hierdie verhaal as ‘n skokkende tog vreemde vol sirkel voltooi word, en dan verder soos ‘n tolbossie die stofpad afwaai.
Nes Donkerbos, bewys Scheepers met Hen dat hy ‘n slag het met die bonatuurlike, die grillerige en die makabere. Hy weet hoe om met min bang te maak. Stian Bam en Amalia Uys is uitstekend as die honger siele, maar dis Dawian as Lukas wat jou nagmerries sal aanwakker.
Kykers kan van een ding verseker wees: ná die eindtitels begin rol, sal hulle nooit weer dieselfde na hoenders kyk nie.
Meer Inligting
Ouderdomsbeperking
18
Rolverdeling
Dawian van der Westhuizen, Amalia Uys, Stian Bam, Marelize Viljoen, Anoecha Kruger
Sterre
4.5/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Gerhard Ehlers
Gerhard Ehlers is ‘n film en televisie produksie dosent by die Boston Media House kampus in Sandton, Johannesburg. Gerhard het homself nog altyd as ‘n storieverteller beskou, en reeds op Hoërskool die draaiboeke en regie van drie onafhanklike kortfilms nl: “Friendly Conscience”, “Die Heuningwyser” en “Sekelfontein” behartig.
Verdere Resensies
Bloedhond – Heerlike bangmaak-vermaak vir Halloween-maand
Bloedhond is ’n bloederige, spanningsvolle Afrikaanse gruwelfliek vol koue rillings, donker humor en onverwagse wendings – perfek vir Halloween, met sterk spel deur Cindy Swanepoel, Zak Hendrikz en Kevin Peyper, en beskikbaar op eVOD.
Carissa: Een legkaartstukkie van háár lewe
Carissa (2025), ’n stadige maar visueel pragtige rolprent oor plattelandse lewe, familie, eenvoud en die ritme van menswees.
The Heart Is A Muscle – ‘n Metafoor van verlies
The Heart Is A Muscle deur Imran Hamdulay is ’n ontroerende Suid-Afrikaanse film oor stilte, broosheid en versoening. Lees ons resensie oor Keenan Arrison se kragtige rol as Ryan, wat sy seun se verdwyning in Ottery en Grassy Park in die gesig staar, en ’n gemeenskap se reis na heling en herinnering.

Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging