Liewe‘Sus Dolly’: ʼn Hedendaagseblik op ʼn immergroenikoon
Resensie
In Engels staan sy as ʼn “agony aunt” bekend. In Afrikaans, as ʼn biegmoeder of ʼn troostante. In Suid-Afrika se oudste gesinstydskrif gemik op Swart Suid-Afrikaners, Drum Magazine, was sy “Sis Dolly”. En met Drum wat hierdie jaar sy 75ste geboortejaar vier, blaas die “Sis Dolly”-rubriek ook die kersies dood.
Ek moet van meet af bieg dat ek regtig teleurgesteld was toe ek besef die rolprent, Dear Sis Dolly, is nie ʼn periodestuk nie. Ek het my gereedgemaak vir jazz, Sophiatown en die ikoniese haarstyle en kleredrag van die vyftigerjare. Drum is immers in 1951 gestig, en die Sis Dolly-rubriek het kort daarna haar buiging gemaak. Aangesien die nuuskantoor toe nog meestal uit mans bestaan het, het hulle die rubriek na die bekende aktrise Dolly Radebe vernoem, wat in Julie 1955 in ʼn baaikostuum op dié tydskrif se voorblad verskyn het.
Volgens Dear Sis Dolly se regisseur, Twiggy Matiwana, het die rolprentmakers egter besluit om die fliek in die hede te laat afspeel, en te kyk na die rol wat Sis Dolly vandág nog in Suid-Afrikaners se lewens speel. Die storie fokus op ʼn sielkundige, Khetiwe (Didintle Khunou) wat haar eie gemeenskapsberadingsentrum in Meadowlands, Soweto, bestuur. Dis egter moeilik om ʼn gemeenskapsprojek soos dié finansieel aan die gang te hou, en met enkele donasieblikkies gaan ʼn mens nie ver kom nie. Dan hoor Khetiwe dat Drum-tydskrif op soek is na ʼn berader om as die nuwe ‘Sis Dolly’ op te tree, en sy hoop dat dit haar die kans sal gee om dié platform te gebruik om haar geliefde sentrum te red. Maar ʼn mens stap nie net by die Drum-nuuskantoor in en word die nuwe Sis Dolly nie…
Die draaiboek weerspieël skerpsinnige humor en ek het heelwat kere hardop gelag vir die kwinkslae.. Die rolprent se dialoog is meestal in Engels, wat nie net dui op die stedelike omgewing waarin die storie afspeel nie, maar ook dat die rolprentspan hoop om ʼn wyer teikengehoor te lok.
Johannesburg word op so ʼn bekoorlike manier geskiet en belig dat selfs New York se horison nie daarby kan kers vashou nie. Elke skermgreep lyk soos ʼn kleurryke bladsye uit ʼn glanstydskrif – en soos die geykde uitrukking sê, dis beslis “ ʼn lus vir die oog”. Daarom is dit regtig hartseer dat die fliek se klankbaan afbreek doen daaraan. Daar was heelwat tonele waar die akteurs regtig puik toneelspel gelewer het, maar dan het die harde (en dikwels oordonderende) musiek skoon my aandag daarvan afgetrek.
In terme van toneelspel moet ek Abigail Kubeka en S’thandiwe Kgoroge uitsonder. Kubeka wat haar skerm-debuut in die plaaslike rolprente Knock-Out (1969) en Joe Bullet (1973) gemaak het, speel die rol van Khetiwe se ouma met die gewigtigheid wat só ʼn veteraan betaam. Kgoroge wys weer vir Miranda Priestly van The Devil Wears Prada-faam dat Suid-Afrikaanse tydskrif-redakteurs nie hoef terug te deins vir hulle oorsese ewekniëe nie.
Dear Sis Dolly is lekker ligte vermaak, tog skroom die rolprentmakers nie om agtergrond temas soos komplekse familieverhoudings en kuberboeliegedrag te takel nie. Die rolprent vra “Het elkeen van ons, soos Khetiwe, nie te veel ysters in die vuur, en net die wens om ander trots te maak nie?” Dis jammer dat ʼn romantiese storielyn aan die hare bygesleep word. Dit voel oorbodig in ʼn storie wat eintlik gaan oor hoe ʼn vrou haar stem vind. In ʼn tydperk waar Suid-Afrikaanse flieks maar yl by die loket gesaai is, is ek bereid om hierdie element oor te sien. In die einste jaar wat Huisgenoot húlle troostante, “Vra vir Irma” vaarwel roep, hunker vele van ons tog terug na die nostalgie van ouds. Het baie van ons nie skelmpies na die raad van soortgelyke tantes geloer nie? Dalk sal ons nou onnself in die toekoms op Sis Dolly moet beroep…
Meer Inligting
Speeltyd
90 min
Skrywer en Regisseur
Makganwana Mokgalong | Twiggy Matiwana
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
13 L
Rolverdeling
Didintle Khunou, Abigail Kubeka, S’thandiwe Kgoroge en Jerry Mofokeng-Makhetha
Sterre
3/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Anna-Marie Jansen van Vuuren
Verdere Resensies
Bruid van die Jaar – Wanneer die bruid die kompetisie verloor, maar haar hart wen
Bruid van die Jaar is ligte, warm romantiese komedie-vermaak. Carine Rous skitter as Lienkie in dié vrolike liefdestorie vol snaakse wendinge. Nou in teaters.
Variasies op ʼn tema: Visuale poësie van die plattelandse landskap en sy mense
Lees die resensie van Variasies op ʼn Tema – ʼn bekroonde Suid-Afrikaanse rolprent oor erfenis en die Namakwalandse platteland.
Hunting Jessica Brok: ’n Suid-Afrikaanse aksieheldin wat Hollywood laat bloos
Hunting Jessica Brok is ’n intense Suid-Afrikaanse aksierolprent oor ’n voormalige elite-soldaat (Danica Jones) wat haar donker verlede in die gesig staar wanneer ’n sadistiese vyand (Richard Lukunku) terugkeer vir wraak. Propvol ontploffings, gevegte en nagbytende spanning. Regie deur Alastair Orr. ’n Brutale, stylvolle aksiefliek wat maklik met Hollywood meeding.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



