Muzzle: City of Wolves – ‘n onverwagse opvolg wat teleurstel
Resensie
Muzzle: City of Wolves is die opvolg van die 2023-film Muzzle. Ná die gebeure van die eerste film probeer Jake Rosser (Aaron Eckhart) sy lewe herbou, maar nuwe geweld dwing hom terug na die wêreld waarvan hy probeer ontsnap het.
Ek het die oorspronklike Muzzle gesien en dit baie geniet. Dit was ‘n tipiese polisiedrama met hart en die ekstra element en fokus op polisiehonde, wat veral diereliefhebbers sou aanraak. Realisties, geloofwaardig, oortuigend – alles wat jy sal verwag van so ‘n misdaad/speurdrama.
In hierdie aflewering is dit egter duidelik dat die regisseur (John Stalberg Jr.) doelbewus wou afwyk van sy voorganger se amper “voorspelbare” storielyn, en hoewel dit vir sommige teatergangers vars en opwindend kan wees, was dit vir my die grootste probleem – veral omdat dit ‘n opvolg was. Stalberg wou duidelik die spanning verder verhoog en groter en meer ambisieus wees, maar dit het gelei tot ‘n veel donkerder en grimmiger atmosfeer.
Waar die eerste aflewering meer realisties was, slaan hierdie een ‘n veel donkerder en meer simboliese rigting in – veral met die nuwe skurk Totec, (gespeel deur Dylan Williams) wat eerder as ‘n boggeman (“boogeyman”) gesien kan word en wie se uitbeelding sterk verskil van die meer realistiese kartelbaas in die eerste film.
Nog ‘n probleem wat ek gehad het was die gebrek aan lug- , vestiging-, asook panoramiese en wye skote. Die fliek is veronderstel om in Los Angeles af te speel maar is in Suid-Afrika in Kaapstad geskiet, en hoewel daar al soveel keer gesê is dat SA, en veral die Kaap bekend daarvoor is dat dit as vele ander wêrelddele kan dien vir films, en verál as L.A., kon ek dit nie in hierdie film sien nie. Dit kon letterlik enige plek verfilm word en dit sou geen verskil gemaak het nie. Vir die “nuwe” kyker wat nog nie die eerste een gesien het nie – en terloops, ek sal ook nie sê dat hierdie as ‘n selfstandige (“standalone”) film gesien moet word nie – sal geen idee hê waar dit afspeel of veronderstel is om af te speel sonder hierdie skote nie. Ek het net één wye skoot in die aand gesien op ‘n hoofweg op pad na ‘n stad wat kon lyk soos L.A. Of dit was, weet ek nie, maar as dit wel die geval was, hoekom kon hulle nie meer daarvan inwerk nie? Dalk was dit ‘n doelbewuste regiekeuse om die wêreld klein en beklemmend te laat voel sodat die kyker Jake se PTSS saam beleef. As dit die bedoeling was, verstaan ek dit, maar vir my het dit uiteindelik te benoud gevoel.
Vele plaaslike akteurs is gebruik en ek wil spesifiek Tanya van Graan as Jake se vrou, Mia uitlig, wat met haar oortuigende Amerikaanse aksent haar taak uitstekend verrig het. In die oorspronklike film het ‘n Amerikaanse aktrise die rol vertolk, en dalk omdat ek daai fliek meer as twee jaar gelede gesien het, kon ek nie eens die verskil agterkom nie. Sy behoort beslis meer internasionale rolle te kry. Maar ál die Suid-Afrikaanse akteurs was baie oortuigend in hul rolle as Amerikaners.
Muzzle: City of Wolves het my heeltemal onkant gevang met sy skuif van ‘n realistiese misdaaddrama na iets veel donkerder en meer simbolies. Vir my het die film daarmee ongelukkig sy grootste bate prysgegee: die geloofwaardigheid wat die eerste film so sterk gemaak het. Dit is steeds ‘n netjiese aksiefilm met goeie vertolkings, maar die rigting waarin die verhaal beweeg het, het my nie oortuig nie. Soos altyd, besluit egter gerus self.
Meer Inligting
Speeltyd
93 min
Skrywer en Regisseur
Jacob Michael King | John Stalberg Jr.
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
16
Rolverdeling
Aaron Eckhart, Tanya van Graan, Karl Thanning, Nicole Fortuin, Adrian Collins and Hakeem Kae-Kazim
Sterre
2/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Roelof Bezuidenhout
Verdere Resensies
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
“The Trek” resensie: ‘n Karoo-western oor die Uys-gesin se wraaksugtige reis. Meekaaeel Adam se debuut.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



