In “Silas en die Ysbeer op Tafelberg”ontmoet werklikheid en verbeeldings mekaar op sielvolle manier
Resensie
Wanneer ’n mens hoor van ’n ysbeer wat bo-op Tafelberg ronddwaal, verwag jy dalk op die oog af ’n oppervlakkige kinderstorie of ’n prettige fabel. Maar die nuwe Suid-Afrikaanse fantasiefilm, Silas en die Ysbeer op Tafelberg (gebaseer op die geliefde prenteboek deur Zandré Coetzer en Annie Klopper wat by Penguin Random House verskyn het), neem hierdie surrealistiese idee en verander dit in ’n grootskaalse, betowerende en diep emosionele film-ervaring.
Die rolprent het by die Silwerskermfees sy première gehad en word van 18 September in fliekteaters landwyd vertoon. Dit het vier pryse by die fees opgeraap: vir beste kinematografie (Ebrahim Hajee), beste kostuums (Sulet Meintjies), beste grimering en haarstilering (Jolene Cilliers) en beste oorspronklike klankbaan (Janine Neethling, Hunter Kennedy, Johnny de Ridder).
Die storielyn klink eenvoudig: Silas se ouma (Antoinette Kellermann) stuur hom elke aand Droomland toe met haar wonderlike stories: van Husse met Lang Ore, Klaas Vakie, dagvakies en nagvakies en Van Hunks wat rookbolle oor Tafelberg blaas, tot die wensbokke wat op Tafelberg skuil.
Wanneer Ouma eendag egter wegraak, besluit Silas om haar in Droomland te gaan soek, waar sy dalk net verdwaal het. Met behulp van die karakters waarvan Ouma hom vertel het, en die nuwe bure se dogtertjie, Willemien, probeer Silas sy ouma vind. Maar die Tafelberg in Droomland is besig om onder sneeu te verdwyn, en iets wat brul, begin Silas jaag, tot hy ook sy vrees daarvoor verloor.
Ek het ná afloop van die Silwerskermfees heel toevallig met die akteur Jefferson J. Dirks-Korkee gesels oor ons gunstelinge van die fees. Hy het my vertel dat hy sy “oë uitgehuil het” in Silas, en verder opgemerk: “Wie het nou kon dink dat ‘n kinderfilm my binneste so sou loswoel?”
Dit het my laat wonder waarom die fliek my ook só geraak het…? Ek is immers ʼn volwassene en die fliek se sentrale teikenmark is kinders van vyf tot 11 jaar oud. Dan besef ek dis omdat die storie die moeilike konsep van die dood en ingrypende verandering, op ‘n verteerbare manier illustreer en die angel uit die verlies haal.
In die hart van hierdie betowerende avontuur lê die vertonings van die jong akteurs, wat die film met ’n merkwaardige eerlikheid stuur. Neels Clasen Jnr. in die rol van Silas, lewer ʼn sterk vertolking waartydens hy die storie se swaar emosionele gewig op sy jong skouertjies met ’n natuurlike broosheid dra. Sy rol as ’n seuntjie wat die moeilikste vrae van die lewe probeer verwerk, is meesleurend en laat jou keel toetrek.
Teenoor hom skitter die haasbekkie Luna Coetzer as Willemien, wie se energie en aansteeklike nuuskierigheid die perfekte balans op die skerm bied. Die dinamika tussen die jong akteurs gee aan die fantasiewêreld ’n anker van ware menslike emosie. Hulle speel nie net rolle nie; hulle lééf in hierdie verbeeldingswêreld en nooi die gehoor uit om saam met hulle te glo.
’n Mens kan nie oor hierdie rolprent praat sonder om die magiese klankbaan te besing nie. Die oorspronklike musiek deur Janine Neethling, aangevul deur die hartroerende bydraes van die Akustika-kamerkoor, weef naatloos deur die narratief. Die musiek dien amper as ’n addisionele karakter, wat Silas se mees intieme gevoelens verwoord voordat hy dit selfs kan sê.
Hoogtepunte sluit oorspronklike liedjies geskryf deur Hunter Kennedy en Johnny de Ridder in, en o wee, die hoendervleis-weergawe van Ingrid Jonker se ikoniese “Toemaar die donker man”. Die klankbaan bou ’n nostalgiese atmosfeer, wat net soos Silas se bont lappieskombers warm om die kyker vou.
En dan kom ons by die ysbeer.
Dié skepping deur Trudie Ströh en Estian Gericke is meer as ʼn reuse pop. Daar is ‘n oomblik waar Silas sy kop teen die ysbeer s’n druk en ek terugflitse van my eie kinderdae en die reuse hondedraakpop, Falkor, van The Neverending Story (1984), kry. Toe het ek geglo daar is vir elke kind ʼn soortgelyke dierasie in fantasiewêreld, wat oor ons waak. Danksy uitstekende poppemeesters Sipho Ngxola, Samkelo Zihlangu en Thabo Mkenene, word die ysbeer meer as ʼn karakter. Die feit dat hy nie ʼn kunsmatige intelligensie of digitale skepping is nie, maar ʼn teenwoordigheid het met sy eie asemteue, brul en grom – die stem van Francois Funck – maak hom as’t ware ʼn akteur in die film.
Wat Silas en die Ysbeer op Tafelberg verder besonders maak, is die manier waarop dit die ongefilterde wonderwêreld van ’n kind se verbeelding op die groot skerm herskep. In die betowerde Droomland waar oumas se eeue-oue volkstories, wensbokke, Klaas Vakie en die denkbeeldige maatjies van ons kinderdae nie net gedagtes is nie, maar werklikhede wat asemhaal. Selfs die halwe-oor Hus is rêrig-êrig.
Die film herinner ons aan daardie kosbare tydperk in ons eie kinderjare, toe die grens tussen die werklikheid en drome nog maklik was om oor te steek. Deur Silas en Willemien se oë word Tafelberg ’n mitiese doek waarop verlies, hartseer en hoop in kleure van magiese realisme geverf word. Dit is ’n storie wat nie probeer om ingewikkelde emosies af te water nie, maar wat eerder vir die gehoor ’n veilige en wonderskone ruimte bied om daardie emosies te beleef.
Die afsluitingswoorde voor die erkennings oor die skerm rol: “Deur baie hande gemaak – vir ons kinders” het my diep geraak.
As meer kinders oumas soos Silas s’n kon hê en na verbeeldingswêrelde kon ontsnap, sou die wêreld beslis ‘n beter plek gewees het.
Meer Inligting
Speeltyd
84 min
Skrywer en Regisseur
Zandré Coetzer and Annie Klopper | Zandré Coetzer
Webtuiste
Skerms
∞
Ouderdomsbeperking
PG 7-9
Rolverdeling
Neels Clasen Jnr, Luna Coetzer, Antoinette Kellermann, Beer Adriaanse, Neil Sandilands, Daneel van der Walt, Frieda van den Heever
Sterre
4/5
Loket
Sien NFVF

Geskryf deur Maryke Roberts
Maryke Roberts is ’n ervare joernalis, kopieskrywer en vertaler, en die eienaar van Letter Box. Sy het haar diploma aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie verwerf en was voorheen ’n senior joernalis, fotograaf, vertaler, uitlegkunstenaar en projekbestuurder van Koerant-in-die-Klaskamer by Netwerk24. Sy skryf vir Vrouekeur oor mense, boeke, teater, reis en lekker kos en wyn—maar in eenvoudige taal: Sy is lief vir stories en gaan enige plek om een te kry, of dit nou bo die wolke, in ’n lugballon, in ’n duikboot of onder die grond in ’n tonnel is. En sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.
Verdere Resensies
Black Burns Fast lewer ’n snaakse, skerp en soms verrassend sagte blik op grootwordjare in ’n Suid-Afrikaanse konteks
“Black Burns Fast” resensie: ‘n snaakse, skerp LGBTQ+ mondigwordingskomedie oor ‘n Suid-Afrikaanse matriekleerling se ontdekking van liefde, identiteit en klas.
Landmyn: ʼn Hartverskeurende verhaal oor onvolmaakte mense
Landmyn-resensie: ’n hartverskeurende SA-drama oor ’n gesin se hereniging, ou wonde en Anna-Mart van der Merwe se meesterlike vertolking as Annatjie.
The Trek–Wanneer die aarde wraak neem
“The Trek” resensie: ‘n Karoo-western oor die Uys-gesin se wraaksugtige reis. Meekaaeel Adam se debuut.
Kursusse
Drama
Regie
Klank
Kinematogarfie
Vervaardiging



